ʼn Huis in Bellair, KwaZulu-Natal, is Donderdagoggend in ʼn brand vernietig. Die gesin se drie hondjies wat in die huis was ten tyde van die brand, is nou soek.
Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS Paramedics, sê die brand het net voor 08:00 in die huis in Blairmont-straat in Bellair uitgebreek. Hy kon nie sê presies in watter vertrek die brand uitgebreek het nie.
“ALS-paramedici en die Ethekwini-brandweer het by hul aankoms op die toneel die huis in vlamme aangetref. Die brandweer het gespook om die brand in bedwang te bring,” sê Jamieson.
“Dit is nie duidelik hoeveel mense in die huis was nie, maar paramedici het een man vir rookinaseming behandel.”
Volgens Jamieson vermoed hulle die gesin se drie vermiste hondjies is reeds dood.
Die omstandighede rondom die brand is in hierdie stadium onbekend en word deur die polisie en Ethekwini-brandweer ondersoek.
Maroela Media het navraag aan die polisie en brandweer gestuur, maar wag nog vir terugvoer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
1 Kommentaar
Ai genade tog! Daar is deesdae net so baie huisbrande soos geboue in die res van die land! Hoop hulle kry die hondtjies iewers veilig.