Hondsdolheid eis nog ’n kind

Argieffoto ter illustrasie

’n Vyfjarige seun van Reeston in Oos-Londen is aan hondsdolheid dood nadat hy deur ’n hond gebyt is.

Die Buffalo City-metro het bevestig hy ondersoek tans twee aktiewe gevalle. Die metro het intussen in samewerking met die provinsiale departement van landelike ontwikkeling en landbouhervorming ’n veldtog begin om inwoners se honde teen hondsdolheid in te ent.

Volgens die departement is daar minstens 85 gevalle van hondsdolheid in die Oos-Kaap, waarvan 71 gevalle in die Nelson Mandelabaai-metro.

’n Negejarige seun van Motherwell in Gqeberha is verlede week Donderdag aan hondsdolheid dood. Die seun is in die Dora Nginza-hospitaal dood nadat hy vroeër deur ’n hond gebyt is.

Volgens die Nelson Mandelabaai-metro is in Augustus en September ’n aansienlike toename in die aantal gevalle van hondsdolheid opgemerk. Dié metro is ook besig met ’n inentingsveldtog.

’n 10-jarige seun is ook vroeër vanjaar in KwaZulu-Natal aan hondsdolheid dood.

Die virus word deur die speeksel van besmette diere deur lekke, skrape en byte oorgedra.

Diere met hondsdolheid toon simptome soos vrees, aggressie, oormatige kwyl, slukprobleme, strompeling, stuiptrekkings en verlamming. Aggressiewe gedrag kom oor die algemeen voor, maar hondsdol diere kan ook liefdevol wees.

Die aanvanklike simptome van hondsdolheid in mense is onder meer koors, pyn en ’n tinteling of brandgevoel by die wond. Namate die virus deur die liggaam na die sentrale senuweestelsel versprei, ontwikkel progressiewe en noodlottige ontsteking van die brein en rugmurg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Richard ·

Dit is onnodig dat hierdie mense moes omkom. Hierdie regering laat alles agteruitgaan. Alles. Hondsdolheid kom al hoe meer voor.

Cherokee ·

piet se vraag maak sin. Waarom ‘n duimaf? Omdat hy verskil met die oorspronklike plasing? ‘n Duimaf sonder verduideliking maak selde sin.

Hennie J ·

Hondsdolheid inentings is gratis en op aanvraag beskikbaar. Our people is egter al so bederf dat as iets nie in die keel afforseer word nie hulle nie sal sluk nie. n Teken van n wettelose staat waar niemand gedwing word om aan wette te voldoen nie. Om die eienaar van die hond op te spoor sal eenvoudig wees——kla hom aan van moord en kyk hoe ‘spark’ hulle nou.

Meisie ·

Ek voel vir die area wat genoem is dat dit moontlik rondloop honde is..

annie ·

Vir ‘ n mens is ‘n hondsdolheid-inspuiting erger as erg en kan vir jare slegte nagevolge inhou… Om te wag vir drama voor aksie is ‘n dom plan.

Skappie ·

Jammer om te hoor van die 2 seuns. Mag onse Liewe Jesus julle as gesinne styf in sy arms vashou in hierdie moeilike tyd.

Miskruier ·

Waarom is my kommentaar verwyder? Ek wys mense daarop dat die staat sy plig versaak. Inentings punte vir boere is stop gesit by ons verlede jaar, ons moes diere inry dorp toe, dus n saak van onmoontlikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.