Hondsdolheid: Kyk uit hiervoor

Hondsdolheid is ’n dodelike virussiekte wat alle soogdiere aantas, en wat van diere na mense oorgedra kan word. Sedert die begin van die jaar is 33 bevestigde hondsdolheidsgevalle onder diere al aangemeld, asook een 10-jarige seun wat in KwaZulu-Natal dood is.

Die virus word deur die speeksel van besmette diere deur lekke, skrape en byte oorgedra. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) en die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVC) vra lede van die publiek om op die uitkyk te wees vir die herkenbare simptome van hierdie gevreesde siekte. Diere met hondsdolheid toon simptome soos vrees, aggressie, oormatige kwyl, slukprobleme, strompeling, stuiptrekkings en verlamming. Aggressiewe gedrag kom oor die algemeen voor, maar hondsdol diere kan ook liefdevol wees.

Mense moenie aan onbekende of rondlopende diere, veral honde en katte, vat of hulle optel nie. Rapporteer onmiddellik alle hondsdolheidsimptome by diere aan die naaste veearts of staatsveearts en stel hulle in kennis van moontlike kontak tussen mense en verdagte hondsdol diere. Mense wat kontak gehad het (lek, krap, byt) met ’n verdagte dier moet die plek of wond goed met seep onder lopende water was en onmiddellik mediese hulp inwin om voorkomende behandeling te kry. Dit is van die uiterste belang, want behandeling na blootstelling moet onmiddellik begin word om infeksie te voorkom.

Hondsdolheid by mense is ten volle voorkombaar en daarom poog die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE), die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (FAO) om hond-na-mens-gevalle teen 2030 uitgeroei te hê.

“Daar is nog net nege jaar oor om hierdie doel te bereik, en dit is inderdaad haalbaar as alle troeteldiereienaars die verantwoordelikheid neem om hul diere te laat inent,” sê dr. Nomsa Mnisi, visiepresident van die SAVC. Volgens die Wet op Dieresiektes is dit verpligtend.

Kyk na hierdie kort video waarin Akanyang Ngakane van die Gautengse veeartsenykundige dienste verduidelik hoe belangrik die rol van dieregesondheidstegnici en bewusmaking in die stryd teen hondsdolheid is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

Die staat voorsien hierdie inenting, verlede jaar het hul alreeds hul betrokkenheid verminder, as jy nie na hul kantore gegaan het met jou diere , het jy nie die inenting gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.