Honger mense baat meeste by dié rekord

Ladles of Love het 90 450 blikkies kos oor ʼn afstand van 6,7 km uitgepak. (Foto: Ladles of Love)

Die liefdadigheidsorganisasie Ladles of Love het die Guinness-wêreldrekord vir die langste ry blikkieskos by die V&A Waterfront in Kaapstad laat spat.

Die organisasie wat hom toespits op voedselsekuriteit, het 90 450 blikkies kos oor ʼn afstand van 6,7 km uitgepak en sodoende ʼn Kanadese rekord van 44 966 blikkies kos, wat oor ʼn afstand van 3,8 km uitgepak is, verbeter.

Die blikkies wat ingesamel is sal versprei word na 250 sopkombuise wat deur Ladles of Love ondersteun word.

“Dit was ʼn ongelooflike dag, vir ons vrywilligers, aanhangers en borge,” het Danny Diliberto, stigter van Ladles of Love, gesê.

“Om die rekord te verbeter gaan oor meer as erkenning. Dit gaan oor die hoeveelheid mense wat ons kan voed met hierdie blikkieskos, en dit gaan daaroor om die stryd teen honger in die kollig te plaas. Ons het meer as 20 miljoen etes bedien sedert die aanvang van die inperking in 2020, maar die behoefte is steeds enorm.”

Lede van die publiek asook korporatiewe sakeondernemings het die organisasie gehelp om dié mylpaal te haal.

Ladles of Love het 90 450 blikkies kos oor ʼn afstand van 6,7 km uitgepak. (Foto: Facebook/Ladles of Love)

“Dit was ʼn absolute eer om hande te vat met Ladles of Love om meer as 90 000 blikkies kos in te saam vir mense in nood,” het Wendy Bergsteeds, groephoof van bemarking by Coronation-fondsbestuurders, gesê.

“Vandag het ons as ʼn gemeenskap byeengekom om die rekord te verbeter vir ʼn goeie doel, en weer eens bewys ons aan die wêreld dat Suid-Afrika ʼn omgee-nasie is wat kan saamstaan om hoop te skep in krisistye. Meer as 30 miljoen mense in Suid-Afrika leef in armoede en hierdie poging is net een van ons inisiatiewe wat bydra tot voedselsekuriteit vir die mense van ons land. Ons wy ons onverpoosd aan dié saak.”

Ladles of Love het ook verlede jaar die wêreldrekord verbeter vir die meeste toebroodjies wat binne een uur gemaak is. Sowat 304 000 toebroodjies is binne ʼn uur regoor die Kaap deur vrywilligers gemaak en is uitgedeel in behoeftige gemeenskappe.

Ladles of Love het in Julie 2014 gestalte gekry toe Diliberto met die behulp van ʼn sjef en ʼn groepie vrywilligers begin het om elke Dinsdag ʼn paar potte sop te kook by Doppio Zero in St. Georges Mall, waarvan Diliberto die medestigter is.

Met die ondersteuning van skole en ander sopkombuise het die organisasie oor die volgende vyf jaar vier keer per week honger mense in Kaapstad se middestad begin voed. Teen Maart verlede jaar het die organisasie sowat 14 000 maaltye per maand bedien.

Bron: The Good Thing Guy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Soethappie ·

Lof toegeswaai aan die vrywilligers, borge en aanhangers van die Ladies of Love organisasie, sopkombuise en raakvat hande. Julle is voortreflik

SomeOne ·

baie geluk vir die poging en ‘n groot hartlike dank aan almal wat betrokke was met die verskaf, neersit, meet en alles wat daarmee gepaard gegaan het

Belinda ·

Dis nou n rekord om oor trots te wees! alles vir liefdadigheid. Dankie aan diegene wat betrokke was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.