Hoof, afrigter sterf ook in botsing wat oudskeidsregter eis  

Jacobus Tarantal (Foto: Facebook)

ʼn Skoolhoof en rugbyafrigter is ook dood in die botsing wat die lewe van die bekende oudkrieketskeidsregter Rudi Koertzen (73) geëis het.

Koertzen het vroeg Dinsdagoggend in ʼn motorongeluk omgekom. Dié botsing op die N2 naby die afdraai na Stilbaai het ook die lewe van Jacobus Tarantal en Wouter Verwey geëis.

Tarantal was die skoolhoof van Oker Primêre Skool in Albertinia. “Die hele gemeenskap is geruk en sy ontydige afsterwe laat ʼn groot leemte,” het die skool gesê.

Berading sal Woensdag by die skool plaasvind.

Verwey was ʼn afrigter by die Despatch-rugbyklub sowel as Hoërskool Despatch. Koertzen was ook van Despatch.

Wouter Verwey (Foto: Facebook)

“Ons bid dat beide se gesinne en families in hierdie tyd op ʼn besondere wyse die Here se krag en bystand sal ervaar. Daar word ʼn groot leemte gelaat in die harte van ons dorp se mense,” het die skool oor Verwey en Koertzen se dood gesê.

Koertzen se seun het aan ʼn radiostasie in Gqeberha gesê dat sy pa veronderstel was om Maandag al terug te keer huis toe.

“My pa het saam met ʼn paar vriende na ʼn gholftoernooi gegaan en hulle sou na verwagting Maandag teruggekom het. Dit lyk asof hulle besluit het om nog ʼn ronde gholf te speel.”

Koertzen, wat deur sommige sportkenners as “een van Suid-Afrika se heel beste internasionale skeidsregters” beskryf is, het vir die eerste keer in 1981 as skeidsregter opgetree. Sowat 11 jaar later het hy sy eerste internasionale opdrag behartig en in 2010 ná ʼn toets tussen Australië en Pakistan in Leeds, Engeland, uitgetree.

Hy het in die sportwêreld bekend gestaan as die “stadige vinger van die dood” omdat hy sy vinger baie stadig opgelig het wanneer hy aangedui het dat ʼn kolwer uit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marcello ·

Sterrkte aan hul families en vriende. Dit is ‘n slag vir die onderwys beroep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.