‘Hoof moet waai’, sê ouers

ʼn Groep van 40 ouers het Dinsdagoggend na die skool opgetrek om die petisie aan die SAOU en beheerliggaam te oorhandig (Foto: Verskaf)

Ouers en ander betrokke partye het Dinsdag ʼn petisie aan die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) oorhandig om hul misnoeë oor die heraanstelling van dr. Anton Prinsloo as skoolhoof van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion te kenne te gee. Altesaam 1 072 respondente het die petisie onderteken.

Ouers eis dat die Gautengse departement van onderwys die besluit om Prinsloo as hoof te hervestig, herroep.

“As ouers van die Hoërskool Eldoraigne wil ons die skool as voorkeurskool hou vir huidige en toekomstige leerders, personeel en ouers en ʼn veilige en emosioneel opbouende omgewing behou, waar ons leerders en personeel kan funksioneer en presteer. Die terugkeer van Prinsloo bring hierdie missie in gedrang,” lui die petisie.

“Prinsloo se optrede, wat aanleiding gegee het tot klagtes en onafhanklike ondersoeke, is nie ondersteunend tot die missie nie. Die aanbeveling en gevolgtrekking van die onafhanklike ondersoek, soos gelas deur die departement, bevestig dit. Prinsloo is nie geskik om hoof van die Hoërskool Eldoraigne te wees nie en sy verwydering is noodsaaklik vir die welstand van die skoolgemeenskap.”

Die ouers het Dinsdagoggend vreedsaam by die skool bymekaar gekom (Foto: Verskaf)

Van die 1 072 respondente wat die petisie geteken het, was altesaam 549 huidige ouers van die skool, 267 oudleerders, 76 toekomstige ouers, 34 onderwysers en 146 ander betrokke partye.

ʼn Groep van 40 ouers het Dinsdagoggend na die skool opgetrek om die petisie aan die SAOU en beheerliggaam te oorhandig.

Die ouer wat die petisie begin het, het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê dat die ouers rustig en vreedsaam bymekaargekom het.

Volgens die ouer het die SAOU die oggend ook met die personeel en ouers gepraat.

Maroela Media het vroeër berig ouers van die hoërskool was verslae nadat Prinsloo, teen wie verskeie klagtes van boeliegedrag en viktimisering aanhangig gemaak is, verlede week heraangestel is as hoof van dié skool.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, dra die klagtes teen Prinsloo nie gewig nie, daarom dat hy by die skool teruggeplaas is. Prinsloo is in Mei vanjaar by die distrikskantoor in Gauteng geplaas, terwyl die klagtes ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elmarie

Wonder of hy vandag op gedaag het vir werk want hy was gister nie daar nie

Ystervark

Sleg dat Dr. Prinsloo nou in die openbaar verhoor word. Ek wonder oor al die klagtes. Veral die boelie gedrag. Dit trek mos deesdae die vinnigste aandag. As iemand jou mos skeef kyk is jy geboelie. Net soos Dr. Prinsloo nou in die openbaar verhoor word so word die hele skool en ouers ook. My vriend is ń adjunk hoof en ek sien baie hoe hy met onprofesionele gegradueerdes moet sukkel. Hulle kan nie eens reg spel op rapporte wat moet uit gaan na ouers toe nie. Mens sou verwag dat onderwysers darem hulle werk kan doen. Is dit dalk… Lees meer »

Kobus

Hoekom anoniem ? Indien mens sterk voel oor ‘n saak en glo dat jy die regte ding doen , moet jy die die moed van oortuiging he om jou naam by die aksie te sit. Hoe kan “toekomstige” ouers deelneem? Ken hulle die hoof of reageer hulle op hoorse praatjies? Ek ken die hoof glad nie.Indien hy is soos almal se hy is,moet hy self besef dat die vertouensbreuk tot almal se nadeel is. Dalk sal hy ‘n geskikte skole inspekteur wees.

Misky

Wonder self Elmarie en kruip dalk in badkamer weg – ha ha ha ha

Agge nee

Gee vir die man sy volle pensioen en laat hom aftree in vrede. Dit wil vir my begin lyk of daar meer agter hierdie storie wegkruip. Ek dink hy word nou geboelie en dit deur graad 10 dogters en anonieme ouers, sowel as toekomstige ouers wat ook nou op die wa spring.