Hoof van afbakeningsraad wil ANC in Vrystaat lei

Thabo Manyoni, voorsitter van die munisipale afbakeningsraad. (Foto: MDB)

Die hoof van die munisipale afbakeningsraad werf tans aktief stemme om die ANC se voorsitter in die Vrystaat te word in ʼn stap wat talle vrae oor sy onpartydigheid laat ontstaan.

Die DA eis dat Thabo Manyoni bedank en sy pos dadelik ontruim.

Manyoni voer egter aan daar is niks wat sy politieke veldtog verhoed nie, ʼn stelling waarvan die DA skerp verskil.

Cilliers Brink, die DA se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, sê nie net is Manyoni se opmerking onwaar nie, dit dui ook op sy teenstrydige posisie en maak sy posisie as voorsitter van die raad onhoudbaar.

Die munisipale afbakeningsraad is ʼn onafhanklike owerheid wat moet besluit oor die afbakening van munisipale grense en hierdie besluite kan eindelik ʼn beduidende uitwerking op verkiesingsuitslae hê.

Die DA sê nie net skend Manyoni wetgewing wat onpartydigheid van die raad vereis nie, hy oortree ook wetgewing wat bepaal hoe lede van die raad moet optree. Die wetgewing lui dat geen raadslid mag optree op ʼn manier wat die “geloofwaardigheid, onpartydigheid of integriteit van die raad” in die gedrang bring nie. Die wetgewing bepaal voorts dat iemand wat hierdie bepaling oortree, hom skuldig maak aan wangedrag.

Brink sê Manyoni se besluit om hom as ANC-kandidaat verkiesbaar te stel terwyl hy op die kantlyn ook as voorsitter van die munisipale afbakeningsraad diens doen, wys duidelik dat hy hom hieraan skuldig maak.

Manyoni het vroeër gesê indien hy “gelukkig genoeg is” om te seëvier, sal hy “moet bedank”.

Die DA hou vol dat Manyoni hom reeds hieraan skuldig gemaak het en moet waai.

Brink sê dit bevestig die DA se afleiding dat Manyoni sy voorsitterskap van die raad wil gebruik as ʼn plan B, sou sy poging om as die hoof van die ANC in die Vrystaat verkies te word, misluk.

“Om van belastingbetalers te verwag om voort te gaan om hierdie ooglopende skending van die wet te finansier, is oneties en skend die grondslag van ons konstitusionele demokrasie.”

Brink sê Manyoni se “halsstarrigheid is kwalik verrassend”, wanneer in ag geneem word dat pres. Cyril Ramaphosa, wat hom aangestel het, onder eed verklaar het dat hy beoog om die bevinding van die Zondo-kommissie, dat die ANC se beleid van kaderontplooiing ongrondwetlik en onregmatig is, te betwis.

“Manyoni beskou homself as iemand wat deur die ANC ontplooi is, eerder as ʼn onpartydige arbiter van ʼn onafhanklike statutêre liggaam,” sê Brink.

Manyoni het ʼn lang geskiedenis in die ANC en moes volgens die DA ten eerste nooit as voorsitter van die raad aangewys geword het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oosieoos ·

Fire hom onmiddelik so is hulle almal altyd eintlik maar partydig vir Anc

Jaco ·

Net voordat almal nou te veel beskuldigings van ANC-kaderontplooiing rondgooi, onthou tog net dat dit maar in die ou SA ook gebeur het: topposte in die staatsdiens, Sanlam, ander groot Afrikaner-besighede en selfs die moderature van die 3 Afrikaanse susterkerke is meestal vir lede van die Afrikaner-Broederbond gegee. Vir dié wat nie weet nie; die Broederbond was die geheime “think tank” van die regerende Nasionale Party. Die doel met dié aanstellings was glo om “die volk” te leer en te beïnvloed om vir ewig net vir die Nasionale Party te stem. Toegegee, bekwaamheid en opleiding het toe ‘n groter rol gespeel, MAAR die beginsel van lekker jobs vir politieke pêlle kom toe sowaar al uit die ou SA. En ek weet ook maar van ‘n paar gevalle in “die goeie ou dae” waar party Broeders nie die die beste bekwaam was vir hulle lekker jobs nie.
So, “hulle” van vandag het kaderontplooiing maar net by “ons” van die vroeëre jare geleer. Al verskil is dat bekwaamheid en ondervinding vandag niks tel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.