Die geneesheer-generaal en hoof van die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens, lt.genl. Zola Wiseman Songo Dabula, is vasgetrek vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Dié oortreding kan tot 15 jaar tronkstraf beteken.
Dabula is verlede maand by ʼn padblokkade op die N1-Suid, noord van Pretoria gearresteer.
Die 63-jarige Dabula het glo die nag in die selle by die Temba-polisiestasie in Pretoria deurgebring en is die volgende dag, op 18 Mei, op borgtog vrygelaat nadat hy in die Temba-landdroshof verskyn het.
Volgens ʼn polisieverslag wat deur Maroela Media bevestig is, was Dabula nié aan diens toe hy by die blokkade voorgekeer is nie. Hy was ook nié in besit van ʼn permit om tydens die landwye inperking te reis nie.
Volgens die verslag het Dabula aanvanklik aan die polisiebeamptes gesê dat die Norinco Star-vuurwapen met 13 patrone aan hom behoort. ʼn Roetine navraag op die polisie se vuurwapenregister het egter gewys dat die eienaar ene SN Dabula is.
Die generaal is daarna na die Temba-polisiestasie geneem waar ʼn dossier geopen is. Die dossier maak nie melding van die feit dat Dabula ʼn hoë rang in die weermag het nie en sy beroep is aangegee as ʼn vlootoffisier wat werkloos is.
Maroela Media het intussen vasgestel dat die geregistreerde eienaar van die vuurwapen Seeby Nomtsheketshe Dabula van Mount Frere in die Oos-Kaap is, wat in April vanjaar in die ouderdom van 89 jaar oorlede is. Dis nie bekend wat die verwantskap tussen die oorledene en Dabula is nie. Volgens wet moet die vuurwapen van ʼn oorledene aan die eksekuteur van sy boedel oorhandig word en as dit wel vervoer moet word, moet ʼn spesiale bergingspermit daarvoor verkry word.
Die weermag se mediawoordvoerder, kol. Louis Kirstein, het by navraag gesê die saak is ʼn persoonlike aangeleentheid tussen Dabula en die polisie.
In teenstelling daarmee sê adv. Pikkie Greeff van die weermagvakbond Sandu dat die generaal onmiddellik geskors moet word hangende die uitspraak van die hofsaak.
“Dis in belang van die weermag se beeld en in belang van geregtigheid. Wat ons hier sien is dubbele standaarde want alle ander range wat met die gereg bots, word op spesiale verlof geplaas. Wanneer dit ʼn bevelvoerder is, word dit egter nooit gedoen nie,” sê hy.
Adv John Welch, die voorsitter van die SA Vuurwapeneienaarsvereniging, sê die voorgeskrewe vonnis vir die onwettige besit van ʼn semi-outomatiese wapen soos ʼn Norinco Star, is 15 jaar gevangenisstraf. ʼn Landdros het wel die diskresie om die vonnis te verlaag as daar versagtende omstandighede is.
Die saak is uitgestel tot 7 Augustus wanneer Dabula weer in die hof moet verskyn.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
30 Kommentare
Sien julle nou Wie die onwettige wapens dra en besit het daar van?Die polisie en weermag is oral betrokke by onwettige bedrywighede.Maar glo my hierdie generaal gaan weer loskom!
soos genoem, straf is 15 jaar, maak nie saak watter rang daar is nie, straf is straf
Een van uMkhonto we Sizwe (MK) se beste! Niks sal met hom gebeur nie, dit weet ons almal. Sal seker bevoerdering tot in die parliament kry.
En so kom nog donker dinge uit. Mense wat ons voorkeer vi oortredings is self skuldig daaraan. Hoe gaan die een nou weer toegesmeer word? Nogal n groot kop in die weermag. Hy en ou hoed braai seker weer vanaand mat al die familie.
Hy is 63. Hoe kry hy dit reg om nog in diens te wees? Was hy nie veronderstel om op 60 af te tree nie? Wel, ek hoop hy word geskors, oneetvol ontslaan en gaan tronk toe. Dit sal geregtigheid wees. Wonder hoeveel borg hy gekry het.