Hoof van Parktown Boys’ terug by die werk

Malcolm Williams. Foto: Facebook

Die hoof van Parktown Boys’ High School in Johannesburg is terug by die werk nadat hy vroeër vanjaar geskors is ná die verdrinking van Enock Mpianzi (13) op ʼn gr. 8-kamp van die skool.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het Vrydag in ʼn verklaring bevestig dat Malcolm Williams Maandag by die skool aangemeld het.

Maroela Media het vroeër berig die LUR het ná Williams se skorsing gesê ʼn ondersoek na die skool en beheerliggaam sal van stapel gestuur word en die skoolhoof sal ʼn tugverhoor moet ondergaan.

Volgens Lesufi is die ondersoek reeds afgehandel hoewel Williams se tugverhoor voorlopig agterweë moet bly weens die algehele landwye afsondering. “Daar is besluit dat hy weer by die werk moet wees aangesien daar geen moontlikheid is dat hy met die proses kan inmeng nie,” het die LUR verduidelik.

Lesufi het gesê ouers van die skool is ten gunste van Williams se terugkeer.

“Ons sal wag op die finale verslag van die tugverhoor asook die uitslag van die strafsaak voordat ons verder optree. Ongelukkig het die algehele landwye afsondering die proses vertraag en is die departement verplig om die regte van die skoolhoof te respekteer,” het Lesufi gesê.

Enock Mpianzi (13).

Enock se liggaam is op 17 Januarie in die Krokodilrivier gevind nadat hy twee dae vantevore tydens ʼn spanbou-aktiwiteit in die rivier vermis geraak het. Die leerders moes tydens die aktiwiteit vlotte bou en daarmee oor die rivier vaar. Onderwysers het egter eers die volgende dag besef Enock word vermis. Sy liggaam is sowat 3 km stroomaf gevind van waar die vlotbou-aktiwiteit plaasgevind het en Enock die laaste keer lewend gesien is.

Vriende van Enock wat saam met hom op die kamp was, het ná sy dood vertel dat hulle herhaaldelik aan kamppersoneel gesê het dat hy vermis word. Hulle is egter telkemale weggewys sonder verdere ondersoek na waar Enock hom bevind.

Die skool is ná die voorval wyd gekritiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eerlik ·

Ek wonder of dieselfde aksie geneem sou wees teen n swart skoolhoof. Daar is gruwelike dade in ander skole maar mens hoor nooit dat sulke stappe gedoen word nie.

Sarel ·

Net soos die OB kry Lesufi telkens bloedneus. Maar pasop hy mil na die Premierskap van Gauteng

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.