Hoof van parlement se beskermingsdienste afgedank

Argieffoto

Zelda Holtzman, hoof van die parlementêre beskermingsdienste, is Dinsdag met onmiddellike effek afgedank.

Die Nasionale Vergadering het Woensdag in ʼn verklaring gesê Holtzman se afdanking kom na afloop van ʼn dissiplinêre proses. Sy is vroeër geskors en Dinsdag van haar finale afdanking in kennis gestel.

Prof. Takalani Madima, die onafhanklike voorsitter van die dissiplinêre ondersoek, het Holtzman se afdanking aanbeveel op drie van die aanklagte waarop sy skuldig bevind is. ʼn Finale geskrewe waarskuwing is op ʼn vierde aanklag aanbeveel.

“Die aanbevole sanksie van afdanking hou verband met me. Holtzman se weiering om geskrewe antwoorde en ʼn verslag aan haar bestuurder te verskaf ná ʼn wetlike opdrag aan haar om dit te doen. Dit kom nie net op growwe wangedrag neer nie, maar het ook gelei tot ʼn verbrokkeling van die noodsaaklike vertrouensverhouding tussen die werknemer en die werkgewer,” lui die verklaring.

“[Holtzman se] afdanking is ook aanbeveel nadat sy versuim het om ʼn sakeplan te lewer ter ondersteuning van die parlement se strategiese plan (ʼn statutêre vereiste) en om ʼn jaarbegroting in te dien. Die finale geskrewe waarskuwing is aanbeveel nadat sy versuim het om stappe te doen om verdelings in die parlementêre beskermingsdienste te takel, insluitend tussen haarself en haar adjunk.”

Holtzman is in Junie skuldig bevind op die aanklagte. Sy het aanvanklik op 14 aanklagte tereg gestaan. Sy is egter nie skuldig bevind aan enige aanklagte van “veiligheidsoortredings” by die parlement nie, die oorspronklike rede vir haar skorsing.

Holtzman het vroeër beweer haar beswaar teen die gebruik van die polisie om die parlementêre beskermingsdienste te versterk is die ware rede vir haar skorsing.

Sy het ook die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) genader op grond van beweerde onregverdige arbeidspraktyke nadat sy inligting aan die lig gebring het oor die gebruik van blouligvoertuie deur die parlement se geskorste sekretaris, Gengezi Mgidlana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Eish. Gooi lig op die blou lig brigade en NUMBA ONE se persoonlik lyfwag brigade…en dan word jy weg gejaag???? ANC LEGACY: reëls en regulasies en wetgewing is in die pad van anargie…

LV ·

Sy was maar net so ongedisiplineerd toe sy in die polisie was,so draai die wiel,stadig maar seker.

Stofskoen ·

LV,
Ek ken nou nie die persoon persoonlik nie, dit klink of jy wel doen.

Maar soos ek hierdie berig lees, lyk dit vir my sy is iemand wat bereid is om op te staan vir iets wat sy glo reg is, in haar opinie.

Wat het gebeur toe sy in die polisie was, is jy bereid om jou punt te stel?

Chris Beets ·

Man weet julle wat Suid Afrika is n GRAP en n Komedie op die kassie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.