Hooflanddros geskors weens korrupsie-bewerings

(Foto: Brenda Masilela/ANA)

Die minister van justisie het Desmond Nair, Pretoria se hooflanddros, nou voorlopig geskors nadat hy vroeër beskuldig is van korrupsie.

Nair het onder meer die borgtogaansoek van die voormalige Paralimpiese atleet Oscar Pistorius hanteer.

Nair is die eerste regspersoon wat in die staatskapingondersoek onder verdenking geplaas word nadat Richard le Roux, ʼn IT-kenner van Bosasa, voor die Zondo-kommissie getuig het ʼn veiligheidstelsel is op die maatskappy se onkoste by Nair se huis in Pretoria geïnstalleer. ʼn Kamerastelsel, alarmstrale en ʼn elektriese heining is teen ʼn koste van R250 000 geïnstalleer, het Le Roux aan die Zondo-kommissie gesê.

Ronald Lamola, minister van justisie, het daarna beveel dat ʼn ondersoek na Nair se geskiktheid vir sy pos ondersoek word.

Minister van justisie, Ronald Lamola. (Foto: Twitter)

Ingevolge wetgewing mag Lamola ʼn landdros voorlopig skors as die landdroskommissie tevrede is dat daar genoeg betroubare bewyse bestaan dat die bewering van so ʼn ernstige aard is dat dit onvanpas vir die landdros sou wees om sy werk voort te sit.

ʼn Verslag oor die skorsing, wat ook redes vir die skorsing moet bevat, moet dan binne sewe dae aan die parlement voorgelê word. Nair is in November al ingelig dat twee klagte van wangedrag teen hom ondersoek word. Die verslag is ook nou by die parlement ingedien.

Die departement sê die aanklagte van wangedrag hou verband met bewerings dat Nair glo gevra het vir, of spesiale gunste en voordele van Bosasa aanvaar of ontvang het wat hom dalk onbehoorlik in die uitvoering van sy pligte kon beïnvloed, of wat die indruk kon skep dat dit bedoel is om hom in die uitvoering van sy pligte te beïnvloed.

“Regslui moet aan die hoogste standaarde voldoen en hul optrede moet te alle tye bo verdenking en vanpas vir hul amp wees,” het Lamola gesê.

“Gegewe die erns van die aantygings, asook die belang van die aansoek van ons regslui, ons howe en regspleging, het ek besluit om mnr. Nair dadelik voorlopig te skors, hangende die uitslag van die ondersoek.”

Die parlement moet die voorlopige skorsing so gou moontlik bekragtig of van die hand wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

lollapot ·

DIE, wat vir Desmond Nair aankla oor ‘beweerde’ wangedrag, is BESLIS nie die eerlikste, opregste lot wat ek persoonlik al raakgelees het nie! Sterkte Meneer Nair, mag geregtigheid geskied. . .

Andre ·

So gaan dit maar.As dit maar ‘n eenmaligge geval was kon ons kommentaar lewer.Maar as die gedrag die norm in die land is mors ons net asem.Elke dag,weer en weer sonder ophou sien ons die ANC se mislukkings.

marius ·

Poligraaf toets vir elke amptenaar en hul kaders . Daar sal bitter min slaag .

Cherokee ·

Hoog tyd dat julle poligraaf-bewonderaars leer dat ‘n poligraaf in geen hof as bewyse aanvaar word nie, bloot omdat ‘n ervare leuenaar dit ore kan aansit.

Johanncb ·

Ons Howe is ook nie meer daar om sy wetsgehoorsame burgers te beskerm nie! Wie moet ons in die Regstelsel vertrou?

Jan ·

Daar is die regsprekende gesag toe ook, soos die wetgewende en uitvoerende gesag, in die staatskapers se sak. Algehele verval.

Pieter ·

Daar is ook ‘n vroulike waarnemende landdros daar wat ‘n waardeerder wat saamspan met Eskom laat loskom, al dui die bewyse daarop. Wonder wat het sy ontvang?

Charmain ·

Die hele regstelsel is korrup, maar veral die laerhowe is n sirkus. Die vlak van onbevoegdheid is skrikwekkend.

Scalla ·

Indien dit so is Charmain pas sy van by hom, net die i verwyder.

Sarel ·

Daar word darem vinnig teen die man opgetree. Wat van Hlope?? Die wat deur die Zondo kommissie geimpliseer word masr niks word gedoen nie. Hoekom ….het hy dalk iemand kwaad gemaak.of ondersteun hy nie ‘n sekere Politieke party nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.