Hoofman sterf in koeëlreën

Clyde Mnisi is tydens ʼn kroningseremonie in Oktober as die nuwe hoofman aangewys. (Foto: SAPS)

Clyde Mnisi, hoofman van die Mnisi-stamowerheid in Mpumalanga, is Sondagaand in koeëlreën op die lughawepad naby Witrivier dood.

Volgens Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, het die voertuig glo ʼn pap band gekry, waarna Mnisi – wat aan die passasierskant gesit het – en sy motorbestuurder gedwing was om stil te hou.

ʼn Groep van vyf swaargewapende mans met klapmusse en handskoene het na bewering kort daarna in ʼn BMW X5 op die toneel aangekom terwyl Mnisi en sy motorbestuurder langs die pad om hulp gewag het.

Volgens Mohlala het die swaargewapende mans reguit na die passasierskant, waar Mnisi gesit het, gestorm.

“Die verdagtes het glo eers iets vir Mnisi gesê voor hulle begin skiet het. Hulle het daarna van die toneel gevlug.”

Mnisi het verskeie skietwonde opgedoen en aan sy beserings beswyk.

Die motorbestuurder het ook skietwonde opgedoen en ontvang tans mediese behandeling vir sy beserings.

’n Saak van moord met ’n bykomende klag van poging tot moord is aanhangig gemaak en word tans deur die polisie ondersoek.

Die slagoffer sou volgende maand saam met ander medebeskuldigdes op verskeie aanklagtes in die hooggeregshof in Mpumalanga verskyn. Hy is in September 2018 in hegtenis geneem. Hy is tydens ʼn kroningseremonie in Oktober as die nuwe hoofman aangewys.

Aanklaers beweer Mnisi was deel van ʼn sindikaat wat daarvan verdink word dat hulle op groot skaal met gestroopte renosterhorings gesmokkel het.

Hy is aangekla vir verskeie misdade, insluitend diefstal, sameswering om ’n misdaad te pleeg, onwettige koop en verkoop van renosterhorings, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

“Niemand is tot dusver vir die moord op Mnisi in hegtenis geneem nie en die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die verdagtes vas te trek, om na vore te kom,” sê Brig. Mohlala.

Bel die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 indien jy enige inligting rakende die voorval het. Lede van die publiek kan ook inligting via die MYSAPSAPP stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.