Hoofregter met langverlof

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. (Foto: REUTERS/Siphiwe Sibeko via African News Agency/ANA)

Hoofregter Mogoeng Mogoeng is sedert begin van die maand met langverlof.

Daar is vandag wyd bespiegel oor Mogoeng se afwesigheid en die rede daarvoor.

Die Wet op Regters se Vergoeding en Diensvoorwaardes maak voorsiening daarvoor dat regters drie en ʼn half maande langverlof mag neem vir elke tydperk van vier jaar se diens.

Nathi Mncube, woordvoerder van die kantoor van die hoofregter, het Donderdag gesê Mogoeng moes reeds op 1 Julie 2018 sy langverlof neem maar kon dit destyds weens sy regterlike verpligtinge nie doen nie.

Mncube sê ’n regter se langverlof is nie kumulatief nie. Die hoofregter sou dus sy verlof verbeur het, soos wat in die verlede al gebeur het.

Mogoeng het pres. Cyril Ramaphosa vooraf ingelig van sy voorneme om sy langverlof te neem en het aanbeveel dat regter Sisi Khampepe in sy afwesigheid as waarnemende adjunkhoofregter dien.

“Dit is ʼn normale gebruik in die regbank dat regters hul verlof neem indien nodig,” het Mncube.

Maroela Media het vroeër berig Mogoeng was onlangs in die sop oor sy uitsprake oor die konflik tussen Israel en Palestina.

Die Regterlike Dienskommissie (RDK) se Regterlike Gedragskomitee (RGK) het in Julie verlede jaar met ʼn ondersoek na Mogoeng se gedrag begin nadat verskeie organisasies, insluitend die drukgroep Africa4Palestine, ʼn klag teen die hoofregter ingedien het. Mogoeng het tydens ʼn paneelgesprek kritiek gelewer het op die ANC-regering se eensydige benadering tot die stryd tussen Israel en die Palestyne.

Regter Phineas Mojapelo, ʼn lid van die RGK, het destyds bevind dat Mogoeng by politieke omstredenheid of aktiwiteite betrokke geraak het wat strydig is met die kode vir regterlike gedrag en dat hy verskoning moet vra vir sy uitsprake.

Mojapelo het ook beslis dat die hoofregter sy pro-Israel-uitlatings terugtrek.

Mogoeng het appèl aangeteken teen die uitspraak en aangevoer dat Mojapelo se redenasie agter die uitspraak “gebrekkig” en “ontstellend oppervlakkig” was aangesien hy nié grondwetlike regte in ag geneem het.

Op sosialemediaplatforms is aangevoer die rede vir Mogoeng se verlof is omdat hy oënskynlik nie ʼn lasbrief vir die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma wou onderteken nie. Die Zondo-kommissie na staatskaping het vroeër gevra dat tronkstraf vir Zuma opgelê word weens sy minagting van ʼn bevel om voor die kommissie te getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Dit is maar die begin van die einde. Totsiens regter. Hoop net iemand met beginsels vervag jou?

Misky ·

Ek gun hom dit as mens kyk hoe lank skelms met voordele “op verlof” kan gaan, maar heng, hoeveel geld kan daai boom nog dra wat SA moet onderhou?

Gaan darem lekker as jy met ander se swaarverdiende geld kan mors

JM ·

Ag tog! Mense gaan so maklik op loop gaan met gissings en ondeurdagte gevolgtrekkings. Waarom moet daar nou allerweë gegis word oor “redes”vir regter Mogoeng se langverlof? Dit is ‘n normale diensvergunning.

Estelle ·

Ons land het jou nog nodig Hoofregter. Hier is min mans met integriteit oor in ons land. Baie wat kla en onreg pleeg, maar min wat uitgesproke christene is. Kom asb terug en geniet die welverdiende rus. Mag God jou seen.

Jaco ·

As hy regtig so ‘n “uitgesproke” Christen is, waarom bly hy dan stil oor regstellende aksie, wat openlike rassisme teenoor wit mense is? Dobbelary, aborsie en pornografie is ook alles wettig in SA. Hoofregter Moegoeng is ook stil daaroor. Ek wonder maar net…

Johann ·

Dis darm lekker “terloops” dat sy lang verlof gepaard gaan met uitstel en afstel van Zuma se fonnis? Ja shure…die regsbank is onafhanilik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.