Hoofregter pak Vrydag bewerings oor korrupsie in regbank

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. (Foto: GCIS)

Hoofregter Mogoeng Mogoeng gaan na verwagting Vrydag breedvoerig terugvoer gee oor bewerings van korrupsie teen die regbank.

Nathi Mncube, Mogoeng se woordvoerder, het gesê lasterlike bewerings van korrupsie is onlangs teen verskeie regters gemaak, wat die hoofregter genoop het om daarop te reageer.

“Die leierskap van die Suid-Afrikaanse regbank het met groot kommer verneem van hoofstroom- en sosialemediaberigte wat verband hou met bewerings van korrupsie teen die regbank. Die regbank is verbind tot die waardes van integriteit, onpartydigheid en deursigtigheid, soos uiteengesit in die Regterlike Norme en Standaarde. Hoofregter Mogoeng Mogoeng en die hoofde van die hof gaan die media toespreek oor die gemene bewerings van korrupsie.”

ʼn Lys van regters en ander hooggeplaastes in die strafregstelsel doen al ʼn geruime tyd die ronde op sosiale media. Daarin word beweer dat die vermeende betrokkenes geld by pres. Cyril Ramaphosa se CR17-verkiesingsveldtog ontvang het. Die anonieme lys is met gemengde reaksie begroet. Sommige mense het gevra vir ʼn ondersoek daarna, terwyl ander die lys veroordeel en dit bestempel het as ʼn “vuil veldtog” deur diegene wat die stryd teen korrupsie in die wiele probeer ry.

Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), adv. Shamila Batohi, het onder meer ontken dat sy R1,7 miljoen by die Ramaphosa-veldtog gekry het, soos wat aangevoer word.

Regters op die lys sluit in Lettie Molopa-Sethosa en Sullett Potterill, wat albei onlangs vernietigende uitsprake teen adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer, gelewer het.

Die Prokureursorde van Suid-Afrika het vroeër vandeesweek die bewerings beskryf as “onnodig en van enige waarheid ontbloot”.

“Die sosialemediaplasings gaan oor tot ʼn nuwe strategie om agterdog te wek deur fopnuus teen die regbank en die NVG te versprei. ʼn Kwaadwillige en gevaarlike strategie word gebruik om regters, die hoof van die NVG en diegene wat sonder vrees of vooroordeel optree, te identifiseer en in sommige gevalle te diskrediteer,” het Mvuzo Notyesi, voorsitter van die Prokureursorde, gesê.

“Ons glo die onlangse fopnuus wat as inligting uit die verseëlde bankstate van die CR17-veldtog voorgehou word, is ongevraagde aanvalle wat oënskynlik die doelwit het om die regbank en die NVG te ondermyn. Dit kan dus nie in die beste belang van die samelewing wees nie. Dit is betreurenswaardig dat daar mense is wat die integriteit van die regbank en die NVG in twyfel wil laat trek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marous ·

Maklik . Laat hulle almal vrywilliglik ‘n poligraaf toets doen , met onafhanklike toerusting , in die openbaar . Dit word toegelaat in arbeidshowe , so die regsplegers behoort te weet dat dit toelaatbaar is .

Cherokee ·

Nie werklik so maklik nie want daar is bewerings deur mense wat voorgee om te weet, dat dit maklik is om ‘n poligraaf te bluf. Ek glo dit want as dit nie so was nie, sou poligraaf toetse as bewyse in howe gebruik geword het.

Risko ·

Ons regsstelsel is ‘n grap.
Coert Kruger het vandag net ‘n waarskuwing in die hof (Vanderbylpark) gekry nadat hy skuldig gepleit het op moord. Hy het sy seun gekiet. Jy kan in die land weg kom met moord! Almal lyk my kan omgekoop word!

jakes ·

Lankal hoogtyd dat ondersoek ingestel word na die bevoegdheid van sekere persona wat dien op die regbank. Dit sluit landroste en staatsaanklaers in. Die hoofregter doen die regte ding en hopelik sal n mens weer respek vir die regbank begin kry.

Cherokee ·

En wat maak jou so seker dat die hoofregter bo die lyn is? Daar is uitsprake gelewer in hooggeregshofsake wat duidelik dui op viktimisering van die blanke aangeklaagde. Ek het nog nêrens gesien dat Mogoeng hom daaroor uitspreek nie.

Henry ·

Ons almal kan al lankal sien hoe partydig dit gaan met hof uitsprake. Daar is Oscar Pretorius, om een te noem. Vir moord kry jy ‘n opgeskorte vonis en vir biljoene rande se bedrog is daar geen nagevolge nie. Alles hang af hoeveel geld jy kan betaal vir die regter of van jou ras. Ons as publiek kan en moet glad nie meer hulle uitsprake aanvaar nie. # Regters moet val.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.