Hoofsekretaris van HNP dood weens Covid-19

Louis van der Schyff (Foto: hnp.org.za/)

Die hoofsekretaris van die Herstigte Nasionale Party (HNP), Louis van der Schyff, is Maandag in die ouderdom van 70 jaar in die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Pretoria dood nadat hy vir Covid-19 opgeneem is.

Van der Schyff was sedert Januarie 1974 tot met sy dood betrokke by die HNP.

“Hy hou die rekord van die persoon wat die meeste jare diens in ’n politieke party in die geskiedenis van Suid-Afrika gehad het. Hy was die afgelope 47 jaar ʼn amptenaar van die HNP en hy was die laaste byna 31 jaar daarvan die party se hoofsekretaris,” sê Andries Breytenbach, die leier van HNP.

Hy was in sy jeug ook voorsitter van die HNP Jeugstrydaksie se Opperraad.

Van der Schyff het die laaste paar jaar ook die redaksie van Die Afrikaner behartig, nadat hy reeds in 1974 sy joernalistieke opleiding by dié koerant gekry het.

“Hy het ’n besondere liefde vir die Afrikanervolk gehad en sy lewe aan dié passie gewy. Tydens die vyftigste bestaansjaar het hy ook die “HNP Gedenkalbum: ’n Politieke voëlvlug oor vyftig jaar” saamgestel.

“In sy lewe het hy dikwels gesê dat hy bevoorreg was om die politiek te kon leer aan die voete van mense soos dr. Albert Hertzog en mnre. Jaap en Willie Marais.”

Breytenbach sê Van der Schyff se werklike bydrae tot die Afrikanervolk sal waarskynlik nooit ten volle besef en waardeer word nie.

“ʼn Groot steunpilaar het ontval.”

Breytenbach het namens die HNP sy meegevoel aan die Van der Schyff-familie oorgedra.

Van der Schyff word oorleef deur sy vrou, twee dogters en kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.