‘Hoofverdagte’ vas na gru-dubbelmoord in Knysna

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Die polisie in die Wes-Kaap het gesê die hoofverdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op Brian (67) en Christine (64) Davis wat onlangs in hul huis in Knysna aangeval en vermoor is.

Lt. Luvuyo Mjekula, woordvoerder van die polisie, het gesê die 36-jarige man is Vrydag in Hamburg, in die Peddie-omgewing, in hegtenis geneem. Volgens Mjekula is die man in ʼn plakkershut in hegtenis geneem waar hy saam sy vriendin televisie gekyk het. Die polisie het op die oorledenes se selfone en hul gesteelde voertuig se sleutels beslag gelê.

Mjekula het gesê die verdagte is tans in aanhouding in Port Alfred en sal vandag na Knysna geneem word, waar hy Maandag in die plaaslike landdroshof sal verskyn op aanklag van moord, huisroof en die diefstal van ʼn voertuig.

Die man is die tweede verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met die moord. ʼn Vrou het Dinsdag in die Knysna-landdroshof verskyn nadat sy verlede week in hegtenis geneem is. Die vermoorde egpaar se motor en ander eiendom is glo in haar besit gevind. Sy is glo die hoofverdagte se vrou. Sy is borgtog geweier en bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is Britse burgers wat in Knysna woon. Die polisie is op 2 Augustus omstreeks 10:30 na die egpaar se huis in Lindsaystraat ontbied, nadat ʼn vriendin hul hondjie in die straat sien rondloop het. Sy het op hulle afgekom toe sy die hondjie teruggevat het.

Christine se liggaam is in die sitkamer aangetref. Haar keel is afgesny. Brian is in ʼn plas bloed in die motorhuis aangetref. Hy het oop wonde aan sy lyf opgedoen en is met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan. Hy is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal in George geneem, waar hy later aan sy beserings beswyk het.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Winston ·

Ek verstaan nie n woord soos “hoofverdagte” nie. Dit is n medepligtige in n moord saak. n Sinnelose moord op twee weerlose bejaardes vir n klomp aardse artikels. Waarom besteel hulle nie net die mense nie? Hoekom word hulle vermoor en dan besteel? Dit word gedoen om die moord te verskans en die motief te verberg. Die wêreld verstaan nie hoe dit hier werk nie.

CHRISTA ·

Stel jou voor: hulle SNY DIE VROU SE KEEL AF!! Ek wonder hoe lank dit geneem het en of dit hulle moorddrange bevredig het!!! Dan verdien sulke wrede moordenaars “human rights”!!! Wat is so “human” aan hulle?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.