Hoofverdagtes in KSB geldwassery-saak geïdentifiseer

Foto: Facebook

Die hoofverdagtes in die ondersoek na beweerde geldwassery by die KwaSizabantu-sendingorganisasie (KSB) in KwaZulu-Natal is geïdentifiseer.

Vaughan Schwartz, wat as hoofspesialisondersoeker rakende ernstige ekonomiese misdade vir Mike Bolhuis werk, het aan Maroela Media bevestig dat hulle die identiteite van die beweerde oortreders vasgestel het en dat ʼn indiepte finansiële forensiese ondersoek teen die oortreders voltooi is. Hoewel hulle identiteite tot voordeel van die saak aan die publiek weerhou word, is dit wel bevestig dat die beweerde oortreders binne die KSB se topstruktuur is.

ʼn Ondersoek na bewerings dat sommige leiers van KSB by geldwassery van ongeveer R136 miljoen betrokke is, is in Junie vanjaar deur Bolhuis se ondersoekspan van stapel gestuur. Die sendingstasie is die daaropvolgende maand van die ondersoek in kennis gestel.

Sedert Maroela Media se vorige berig oor die ondersoek na geldwassery by KSB het die ondersoek in ʼn hoëprofielsaak ontwikkel en is die betrokkenheid van die polisie hangend. Die volledige ondersoek gaan op ministeriële vlak aan die polisie voorgelê word om sodoende ʼn taakspan aan te stel wat uitsluitlik op dié ondersoek werksaam gaan wees, aldus Schwartz.

Inhegtenisneming sal moontlik kort daarna kan volg. Volgens Schwartz is hulle ook geskok oor immorele en bedenklike gedrag wat by die sending plaasvind. Hoewel hulle hoofsaaklik op die beweerde ekonomiese wanpraktyke fokus glo hy dat die polisie ander wanpraktyke sal ondersoek.

‘n Lugfoto van die KwaSizabantu-sendingorganisasie in Kranskop. Foto: Skermskoot/YouTube-video

Die KwaSizabantu-sending is aan die einde van 1966 deur Erlo Stegen, ʼn Suid-Afrikaner van Duitse afkoms, gestig nadat hy geglo het ʼn Christelike herlewing het onder die Zoeloes posgevat. Die sendingstasie beskou homself sedertdien as ʼn sogenaamde herlewingsbeweging.

KSB in KwaZulu-Natal staan bekend as ʼn vrywillige diensverskaffer wat op Bybelse beginsels gegrond is en as ʼn openbare voordeelorganisasie (PBO) geregistreer is. Mense wat na die sendingstasie kom, kan by selfsorgprojekte betrokke raak. Daar is ook opleidingsfasiliteite soos ʼn skool, onderwyskollege en ʼn skool vir volwasse opleiding. Die sendingstasie kan meer as 7 000 mense huisves.

Soos vroeër berig het KSB glo in ʼn poging om diefstal van miljoene rande van hul ouditeure te versteek ʼn leningsrekening geopen in die naam van Thofozi Dube. Lydia Thofozi Dube is ʼn senior trustee van KSB en ʼn groot vertroueling van Stegen.

Die begunstigde van die leningsrekening is later na ʼn ene “Moses Ndlela” verander. Daar is egter geen rekord van só ʼn persoon by KSB nie. Die ondersoek het gewys Ndlela se regte naam is Canaan Ndlovu. Hý voer aan hy het onder direkte opdrag van Dube opgetree om Stegen en KSB te bedrieg.

Volgens Schwartz het dit ook tydens die ondersoek aan die lig gekom dat miljoene rande in die vorm van dividende en moontlike lenings van ʼn bekende watervervaardiger in Suid-Afrika aan KSB oorbetaal is. KSB het daarna glo die inbetalings na kontant omgeskakel en dit dan aan “Moses Ndlela” by afgeleë afleweringspunte oorhandig.

Die kontant verdwyn dan en die enigste rekord daarvan is die ongesekureerde lening wat aanvanklik in Dube se naam was voordat dit na “Moses Ndlela” verander is. Op 24 Desember verlede jaar het die leningsbedrag op R136 miljoen gestaan.

KSB se regsverteenwoordigers het intussen aan Bolhuis en sy span ʼn verslag gerig waarin hulle aanvoer dat daar lasterlik teen hulle opgetree is en hulle 36 uur gegee om daarop te reageer. Schwartz sê hulle het die versoek ignoreer omdat hulle glo hulle het in geen wyse lasterlik opgetree nie.

KSB se ouditeure weier glo sedert 2016 weens onreëlmatighede om die sendingstasie se jaarlikse finansiële state af te teken en sê daar was dus geen ander uitweg as om KSB se gedrag by hulle beheerliggaam te rapporteer nie. Gerugte dat KSB sy ouditeure afgedank het, is deur Mustard & Knoesen Geoktrooieerde Rekenmeester en Geregistreerde Ouditeure ontken. ʼn Direkteur, Darryl Knoesen, het aan Maroela Media gesê hulle is nie afgedank nie maar het self besluit om hulself aan KSB te onttrek.

Maroela Media het verskeie vrae aan KSB gerig en het ná talle oproepe en e-posse ʼn skriftelike antwoord ontvang. Daarin erken KSB die ontvangs van die navraag, maar hulle reageer nie op enige van die vrae nie. Hulle skryf wel dat KSB nie aan ʼn verhoor deur middel van openbare media wil deelneem nie.

Met verwysing na die vorige bevindings wat deur Bolhuis en sy span bekend gemaak is, meen KSB dat teenstrydige, valse en skadelike aantygings rakende individue en private entiteite gemaak is. Hulle het ook hul verbasing rakende dié ernstige aantygings uitgespreek.

Bolhuis het ʼn beroep op die publiek gedoen om enige inligting wat tot die ondersoek kan bydra aan hulle bekend te maak sodat die totale omvang van die gebeure openbaar gemaak en ondersoek kan word.

Enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help, word gevra om die hoof van die private ondersoekspan, Vaughan Schwartz, te bel by 079 347 5691.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Stefan ·

Ja, en kyk ook na die rykmans lewe van die leiers van die sogenaamde ‘charismatiese kerke’ – plaaslik en in die buiteland.

Jan ·

Ek blameer ongelukkig die kerk vir die situasie in Suid-Afrika. Die kerk het sy krag en posisie verloor, en haar kandelaar is verwyder. Die breë kerk het opgehou om sout van die aarde te wees, maar het laf geword en word nou buite deur die mense vertrap. Die kerk het die vermoë om verderf teen te werk verloor. Gelukkig is daar nog klein groepe gelowiges wat sterk staan en hulle ligte laat skyn, en my gebed is dat die breë Christelike kerk tot bekering sal kom en herleef, en ware ligdraers sal word wat die duisternis sal terugdryf.

Andrea van Vuren ·

Dit maak my bang om enigiets in die toekoms vir enige kerk te gee. Waarheen is ons Christendom op pad?

jaco ·

nou wat dan nou van die bybeltekste “the love of money is the root of all evil” en “dis makliker vir n kameel om deur die oog van n naald te gaan as vir n ryk man om in die koninkryk van God te kom”.
Is daardie bybeltekste toegeplak in hierdie mense se bybels?

Van den Vos Reynaerde ·

Kan ons nie meer liewers die Afrikaanse teks aanhaal nie? “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” (1 Timótheüs 6:10)

B ·

Lees mooi, dit was ‘n’ insypelaar’, en nie die (naïewe) Stegan’s nie.

So leer Europeërs duur lesse in Afrika.

Domino ·

Hierdie is maar net ‘n aanslag teen sendelinge wat die Woord verkondig. Gaan besoek die plek en sien en ervaar self! Dankie vir alles wat julle doen op KSB. Staan sterk!

SjN ·

Nou pas die wonderlike Fica, Fais en Pocca wette toe op die skuldiges.

Appel ·

‘n Boom word aan sy vrugte geken. Die wingerdstok wat nie druiwe dra nie word verbrand. Die Christelike waardes in Suid Afrika is betwyfelbaar, kyk maar na die politiek. Watter Woord word verkondig? Dink jou steentjie tuimel.

NOU WAT NOU ·

Al die ondersoeke en kommissies help NIKS. Inteendeel die ondersoeke en kommissies maak geld .Die skuldiges gaan doodnormaal aan. Niemand doen iets omtrent die korrupsie. Die hele EFF gaan aan met VBS geld. Die Guptas bou ‘n Biljoen Rand kerk in Indië. More is hierdie storie ook weer onder die mat en geen haan kraai weer daaroor. In Suid Afrika lui die spreukwoord “CRIME DOES PAY”

Johan Oosthuizen ·

Ek het onlangs met iemand gepraat wat uit KSB getree het. Dit was na ‘n onthulling wat in Rapport gebubliseer is. Sy woorde aan my was dat dit net die puntjie van ysberg was en dat verdere skokkende onthullings gaan volg. Nou gebeur dit. Dit lyk vir my of Bosasa en KSB op dieselfde lees geskoei is. Tweelingboeties. Hoe tragies dat mense duisternis (geld en hebsug) oor die Lig wil laat seëvier.

Apools ·

Kultus nie ‘n kerk nie. Wette en reels volgens menslike reels nie genade, sonde vergifnis en berou volgens die evangelie nie.

Peet ·

Die Here se in sy Woord dat sy oordeel by die kerk sal begin. Ons Here se koms is naby. Daar is baie verkeerd in Al die kerk waarvan n paar goed Al genoem is, maar Hy sal sy ware Kerk bewaar tot die einde toe. Bly volhard in ware geloof.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.