Hoofweg gesluit oor massiewe ongeluk

Paramedici het die vrou uit die bakkie bevry (Foto: Verskaf)

Verskeie voertuie, waaronder ʼn bakkie, vier vragmotors en twee ligte voertuie, was Dinsdagaand in ʼn ongeluk op die R21-snelweg in Kempton Park, Gauteng, betrokke. Dit het tot gevolg gehad dat al die bane van dié snelweg lank vir verkeer gesluit was. ʼn Vrou is ernstig in die ongeluk beseer.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is paramedici omstreeks 18:30 na die toneel ontbied.

Met hul aankoms daar het hulle ʼn vrou, iets in haar 40’s, in die bakkie aangetref. Sy was in die bakkie se passasiersitplek vasgekeer en kritiek beseer.

“Paramedici het die vrou uit die bakkie bevry en haar op die toneel behandel. Sy is daarna per ambulans na ʼn staatshospitaal vir verdere mediese behandeling geneem,” bevestig Meiring.

Geen ander beserings is aangemeld nie.

ER24 het vroeër die dag op ʼn ander voorval gereageer waar ʼn man ernstig beseer is toe sy hand in ʼn masjien by ʼn maatskappy in Miracle Park in Rooihuiskraal vasgevang geraak het.

“Toe paramedici omstreeks 15:37 op die toneel aankom, was die man se hand reeds van die masjien bevry, maar hy het ernstige beserings aan sy hand en gewrig opgedoen.”

Paramedici het pynmedikasie vir die man gegee voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is.

Die omstandighede rakende die twee ongelukke word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Wat en wie is die oorsaak van so ‘n vreeslike groot ongeluk, en hoekom gebeur dit deesdae daagliks.

mattk

Ja, die minder bevoorregtes gaan mos met drie ton vragmotortjies vir hul lisensies. Ry teen 35 kpu in die dorpe rond tydens hul lesse en wanneer hulle hul lisensies kry, koop hulle voertuie wat hul nie kan hanteer nie.

Daleen

Al die padverbruikers is ewe skuldig – deesdae is daar mos nie meer padreels nie en wie steur hulle aan wette – en dit geld van die dubbelkajuitbakkie drywer wat op 140 km/h vir jou ligte gooi om uit sy pad te gaan, die taxidrywer wat 10 sekondes na robot rooi geslaan het nog oorjaag tot die mejuffrou met haar groot sonbril in haar helderkleurige lig op petrol karretjie wat op die selfoon praat. Vee maar eers voor jou deur want net miskien is jy die oorsaak van die volgende noodlottige ongeluk.

Anoniem

Absoluut ń “Miracle” dat daar geen sterftes was in hierdie gevalle nie …

JJ

Indien iemand sou belangstel, en nie net wil negatiewe kommentaar lewer oor mense se bestuursvormoëns nie.
Die dame in die Toyota se beserings was redelik en daar gaan ‘n operasie moet plaas vind op haar been maar anders is sy in goeie gees, familie is by haar wanneer hul toegelaat is (weens Covid reëls).