Hooggeplaastes afwesig by verhore oor onluste

Onluste in Diepkloof, Soweto (Julie 2021) (Foto: GCIS)

Die Menseregtekommissie (MRK) is nou genoop om dagvaardings aan verskeie staatsamptenare uit te reik nadat hulle versuim het om tydens die kommissie se verhore oor die onluste in Julie te verskyn.

Die verhoorpaneel het dit intussen goedgedink om hom weer oop te stel vir die indien van voorleggings. Slagoffers van die plundering het nou tot Vrydag 17:00 kans om na vore te kom en hul voorleggings by die kommissie in te dien. Die kommissie oorweeg dit egter om selfs ná hierdie datum voorleggings toe te laat.

Die MRK se verhore vind sedert verlede Maandag net buite Durban in KwaZulu-Natal plaas – die provinsie wat die swaarste onder die geweld vroeër vanjaar deurgeloop het toe oudpres. Jacob Zuma tronk toe gestuur is.

Die kommissie het vandeesweek ’n aantal staatsamptenare versoek om te gaan getuig oor die grootskaalse plundering en chaos wat tóé weke lank in KwaZulu-Natal en Gauteng geheers het.

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die minister van polisie, genl. Bheki Cele, die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole, en die Gautengse kommissaris van die polisie, genl. Elias Mawela, het almal reeds verskyn en voor die verhoorpaneel getuig.

Die premier van onderskeidelik KwaZulu-Natal en Gauteng, Sihle Zikalala en David Makhura, is volgende aan die beurt en sal na verwagting Vrydag getuig.

Die MRK sê daar is egter steeds ’n aantal staatsamptenare wat nie op sy versoek reageer het nie. Die kommissie het nie die name van die staatsamptenare bekend gemaak nie.

Hy het wel beklemtoon dat staatsorgane ’n grondwetlike en statutêre plig het om die kommissie by te staan ​​in die uitvoering van sy grondwetlike mandaat om sy onafhanklikheid en doeltreffendheid te verseker.

Die verhoorpaneel het tot dusver getuienis van oorlewendes, verskeie gemeenskapslede, asook rolspelers in die handels- en private veiligheidsbedryf aangehoor.

“Hoewel die kommissie sy waardering uitspreek vir diegene wat na vore gekom het en dit met bewyse gestaaf ​​het, wil lede weer versoek dat diegene wat voorleggings wil doen, hetsy persoonlik of by wyse van skriftelike voorleggings, dit indien eerder as om op sosiale media kommentaar te lewer wat die proses en werk van die kommissie in twyfel probeer trek.”

  • Die verhore sal na verwagting tot 3 Desember voortduur. Die doel is om die oorsaak van die onrus, die versuim deur die polisie om op te tree, die rol van privaat veiligheidsmaatskappye en beweerde rassemotivering agter sommige van die sterftes te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Swerwer ·

Het die MRK regtig gedink die sogenaamde “Staatsamptenare” wat hulself verhewe bo dissipline en die wet ag, gaan opdaag om skuldig bevind te word. Lagwekkend. Zuma het losgekom so hoekom moet daar enigsins ag geslaan word op die MRK.

casper ·

Al die ondersoeke en koek en tee in die wereld en NIKS gebeur met die skuldiges nie !!!

Di ·

Hier gaan NIKS van kom nie – Kan nie eers die land behoorlik regeer nie, te besig met “beuselagtighede” en korrupsie, nie tyd hiervoor nie. Waar is al die wat in hegtenis geneem is wat hieragter gesit het? Missing in action!!!!!!!!!

SlinkseKoljander ·

Niks sal hiervan kom nie, hulle sit lekker en lag by die huis.
In Suid Afrika het ons moes nou geleer, lieg oor alles en ontken alles, Jy sal ok wees want ons regstelsel is pateties en oorvol.

Sê maar net ·

So wat nóg is nuus? Geldmors om hulle te probeer vervolg. Moes in die eerste plek anders hanteer geword het. Hulle het al dae voor die tyd geweet daar kom onluste. Wil nie meer daarvan weet nie. Sela sela

Jr ·

MRK tuisgemaakte, onopgevoede, kommunis hof. Niks anderste. Nie die moeite van die papier waarop dit geskryf is.

George ·

Mors van geld en tyd….
Nuttelose oefening…. maar dan… MRK hrt seker niks beter om te doen nie….

Kobus ·

Hoekom is die amptenare altyd eerste wat vervolg word ? Waarom talm hulle so om met die top orde te begin, maw Zuma kinders?

Dries ·

Beskadiging en diefstal is nie die prioiteit nie, eerder rasisme.

Tienie ·

Azanië. Nie maar SA of RSA nie.

SA en of RSA was mooi Azanië spreek van n sekere kultuur groep.

Walglik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.