Hooggeregshof sal nou ‘kindermishandelingsaak’ aanhoor

(Argieffoto: Unsplash)

Die saak teen die ouers van ʼn babadogtertjie wat glo so erg mishandel is dat hulle eindelik op aanklagte van onder meer poging tot moord daarvoor in hegtenis geneem is, sal nou in die hooggeregshof aangehoor word.

Die twee is in Augustus in hegtenis geneem nadat die saak reeds maande lank gesloer het.

Die babadogtertjie is in Julie aanvanklik in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem met verskeie beenbreuke wat volgens dokters op verskillende tye plaasgevind het. Haar beserings het gestrook met kindermishandeling.

Die kind is in April, toe sy maar vyf weke oud was, by dieselfde hospitaal opgeneem – ook met beserings wat met kindermishandeling gestrook het.

Haar dokters en ’n private maatskaplike werker het toe ’n saak by die polisie en departement van maatskaplike ontwikkeling aangemeld en aanbeveel dat die baba uit haar ouers se sorg verwyder word.

AfriForum sê die saak teen die ouers is egter van die rol geskrap omdat daar volgens die landdros ’n gebrek aan bewyse was. Die baba is tydelik in haar ouma se sorg geplaas, maar is daarna terug na haar ouers.

AfriForum se private vervolgingseenheid het eindelik ingegryp en het in Julie die dokters en maatskaplike werkers gehelp om strafregtelike klagte in te dien.

Die baba is tans in ʼn plek van veiligheid.

Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se private vervolgingseenheid, het die oorplasing as ’n positiewe wending bestempel omdat dit blyk dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nou daadwerklike stappe neem ten einde te verseker dat die saak nou die nodige aandag geniet.

“Dit is egter betreurenswaardig dat die stelsel hierdie weerlose kind in die eerste plek in die steek gelaat het en vroeër vanjaar toegelaat het dat sy teruggeplaas word in ’n lewensbedreigende omgewing.

“Die private vervolgingseenheid sal die saak bly moniteer om seker te maak dat die baba die nodige beskerming kry en dat geregtigheid geskied.”

Die organisasie sê hy steun ook die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders wat Woensdag begin.

“AfriForum beplan verskeie optredes in hierdie verband en die private vervolgingseenheid sal voortgaan om in belang van vroue en kinders op te tree waar die strafregstelsel hulle versaak het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Zombie ·

Daar is mediese bewyse van kindermishandeling, maar volgens die hoogs intelligente landdros, is dit nie voldoende nie.
ń Ander hoogs intelligente landdros neem die EFFies op hulle woord dat hulle hulleself sal gedra.
Ek, as breinlose Zombie, maak verskeie afleidings oor die hoogs intelligente landdroste se wyse besluite.

Persheks Adri ·

“Die baba is tydelik in haar ouma se sorg geplaas, maar is daarna terug na haar ouers.”

En as die kind nie betyds verwyder is nie en was dood? Wat gaan die stelsel dan sê? Eish sorry of wat?

Kokerboom ·

Dit bly ongelooflik hoe die regstelsel die mense van die land versaak!! Dki Afriforum vir hulp en dat kleinding hopelik wel is!

Sarel ·

Sal graag die Landros se weergawe wil hoor.
Veldtog vir gewrld teen vroue en kinders word net gebruik vir Politiek en beantwoorf beslis nie i die doel nie. Dit kan maar net sowel geskrap word

SomeOne ·

die landros moet ook aangekla word vir versuiming / nalating van plig
sarel nes jy se, die veldtog is net nog vakansiedae vir sommiges

Cornelius ·

How om earth does one do something like this to a child. Onbeskaaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.