Hoogste hof gee Zuma wéér bloedneus

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Al Jacob Zuma se “kreatiewe pogings” om sy tronkstraf te laat herroep, was tevergeefs.

Die Konstitusionele Hof het die oudpresident se aansoek om sy vonnis van 15 maande vir minagting van die hof te herroep, Vrydagoggend met koste van die hand gewys.

Zuma het in die aansoek staatgemaak op Reël 42, wat bepaal dat uitsprake en hofbevele herroep kan word indien die betrokke party kan bewys dat dit gelewer is in die afwesigheid van die party, of ʼn ooglopende fout of weglating bevat.

Die verdediging het met die aanhoor van die aansoek beweer dat Zuma sonder verhoor opgesluit is.

Die hoogste hof het egter nou in ’n meerderheidsuitspraak bevind dat Zuma nié aan die statutêre vereistes van ’n herroeping voldoen nie en doelbewus besluit het om nie aan die minagtingsaak teen hom deel te neem nie.

Die oudpresident het hom in Julie aan die polisie oorgegee, maar is intussen op mediese parool geplaas.

Die Konstitusionele Hof hou vol Zuma is verskeie kere die geleentheid gegun om aan die minagtingsaak teen hom deel te neem en het elke keer geweier.

“Net omdat hy dit nie gedoen het nie, beteken nie dat die hof ’n fout begaan het nie,” het waarnemende hoofregter Sisi Khampepe vanoggend uit die uitspraak gelees.

Volgens die meerderheidsuitspraak het Zuma boonop versuim om redelike en bevredigende redes aan die hof te verskaf oor waarom hy versuim het om deel te neem en nie die aanklagte teen hom teen te staan nie.

“Nie net skiet sy aansoek tekort aan ’n vooruitsig [op sukses] nie, maar al sy voorleggings is reeds van die hand gewys. Hy kon ook nie ’n aanneemlike en aanvaarbare verklaring vir sy versuim om deel te neem verskaf nie.”

Khampepe het verder daarop gewys dat hoewel dit soms onder sekere omstandighede in die belang van geregtigheid kan wees om ’n uitspraak te herroep, daardie omstandighede werklik uitsonderlik moet wees om dit te regverdig.

“Daar is niks in Zuma se geval wat werklik as uitsonderlik beskou kan word nie.”

Die hoofregter het ook die aandag weer daarop gevestig dat die Konstitusionele Hof die laaste sê het en dat die beginsel van finaliteit en regsekerheid beskerm moet word. “Die onsekerheid om hierdie aansoek het die oppergesag van die reg reeds groot skade berokken.”

Die hoogste hof sê Zuma was min getraak toe die minagtingsaak teen hom vroeër vanjaar aangehoor is en hou voet by stuk dat dit nie in die belang van geregtigheid sal wees om hom nou die geleentheid te gun om die saak te heropen “net wanneer dit hom pas nie”.

“Die penarie waarin meneer Zuma hom bevind, is nie die hof se skuld nie en die oplossing lê ook nie by die hof nie,” het Khampepe gesê.

“Die hande van die Konstitusionele Hof is afgekap. En meneer Zuma het hulle self afgekap.”

Die oudpresident – wat tans op mediese parool vrygelaat is – is nou verantwoordelik vir alle partye betrokke se regskoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

48 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michele

Vat so katvis!! Hopenlik is die volgende stap om hom weer terug in sy oranje pakkie te kry

Cornrit

Wonderlike nuus. Betaal groor seun, betaal.

Misky

Wonderwerke gebeur nog soms en vandag is so ‘n dag. En MM, daai foto saam met die berig is so gepas – dankie, julle het my dag en naweek gemaak.

JM

Die oorgrote meerderheid in die land is siek en in der dagen sat van Jacob Zuma! Verban hom asseblief na ‘n eiland in die Middellandse See!! Hy kan gerus ook sy ondersteuners saamneem want hulle handhaaf dieselfde korrupte denke as hy.

Inkpot

Ag hoe lekker lag ek nou.
Hy met al sy truuks is ‘n regte clown wat soos ‘n kat op ‘n warm plaat rondtrippel.