Hoogste hof lê Zuma 15 maande tronkstraf op vir minagting

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

In wat uit talle oorde bestempel is as een van die belangrikste grondwetlike uitsprake in jare, het die Konstitusionele Hof oudpres. Jacob Zuma Dinsdag in ʼn siedende meerderheidsuitspraak tot 15 maande tronkstraf vir sy minagting van die hof opgelê.

Waarnemende hoofregter Sisi Khampepe het die uitspraak ʼn kort ruk gelede gelewer en gesê die hof het “geen ander keuse gehad” as om Zuma tronkstraf vir sy skandelike minagting van die hof op te lê nie.

Die Konstitusionele Hof is Suid-Afrika se hoogste hof – daar is dus geen hoër gesag op wie die oudpresident hom nou kan beroep nie.

Zuma moet binne vyf kalenderdae by die Nkandla- of die Johannesburg-Sentraal-polisie aanmeld om sy vonnis te begin uitdien. Indien hy dit nie doen nie, moet die minister van polisie of die nasionale polisiehoof binne drie dae ná die verstryking van hierdie tydperk, verseker dat alle nodige stappe gedoen word om te verseker dat Zuma aangekeer word om sy vonnis te begin uitdien.

Khampepe het in die uitspraak gesê die Konstitusionele Hof sou “naïef” wees om te glo dat Zuma sy samewerking sou gee indien hy enigiets anders as tronkstraf opgelê word. Die oudpresident het vantevore en by herhaling gesê dat hy eerder sal tronk toe gaan as om aan die bevel gehoor te gee.

Volgens die meerderheidsuitspraak gaan enigiets anders as tronkstraf Zuma se uitdaging van die hof se gesag net laat voortduur, terwyl dit ook die indruk sal wek dat diegene wat ʼn hofbevel minag, straffeloos daarvan afkom.

Luidens die uitspraak is Zuma geen gewone litigant nie. Hy is ʼn oudpresident wat steeds groot invloed uitoefen en wie se optrede fyn deur mense dopgehou word.

Khampepe sê indien Zuma se gedrag nie gestraf word nie, dit skade aan die oppergesag van die reg gaan aandoen.

“Die soort wederstrewigheid en uitdaging is onregmatig en moet gestraf word en ʼn onopgeskorte bevel vir gevangeneskap is die enigste opsie,” het Khampepe die meerderheidsuitspraak voorgelees.

Die regters het Zuma tronkstraf opgelê, maar terselfdertyd gesê dit kan nie die skade wat Zuma aan die regbank aangerig het, vasvang nie.

Volgens die regters minag Zuma “ongetwyfeld” die hof in ʼn blatante skending van ʼn bevel van die Konstitusionele Hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

100 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Hier kom lekker sports, ek kry solank my popcorn.

Adri

Nou gaan die poppe begin dans! Bring die springmielies!

Persheks Adri

Lekker! Plaas vat julle hom dadelik nie oor 5 dae nie…

Ansie

Hoop nou nie hy word in ‘n luukse tronksel aangehou nie. Hy moet saam met ander kriminele in ‘n sel gegooi word.

Suzette

Hehehehe -sien is glo….