Hoogste hof moet nou sê oor waterregte

plaasdam.jpg

(Argieffoto)

Die land se hoogste hof sal Woensdag ʼn aansoek van die departement van water en sanitasie om verlof tot appèl begin aanhoor nadat die appèlhof vroeër in ʼn verreikende beslissing bevind het waterregte is oordraagbaar en verhandelbaar.

Die saak is van groot belang vir Suid-Afrika se landbousektor, veral omdat watergebruiksregte ʼn  belangrike bate vir boere is.

Die appèlhof het in November verlede jaar bevind die houers van waterregte is geregtig daarop om dié regte ingevolge bepalings van die Nasionale Waterwet oor te dra en dat die verhandeling daarvan nie verbode of onregmatig is nie. Die departement het hom ná die uitspraak na die Konstitusionele Hof gewend.

“Die vermoë om watergebruiksregte oor te dra is noodsaaklik, veral vir besproeiingsboere. Die departement het dit erken en die huidige raamwerk uit die staanspoor ondersteun. Die departement het egter daarna probeer om waterregtehouers onregmatig van hierdie reg te stroop en sal môre vra vir toestemming om teen die appèlhof-uitspraak te appelleer,” sê Janse Rabie, reg- en beleidbestuurder van Agri SA.

Weens die belang van die saak dra Agri SA twee van die betrokke boere se regskoste met geld uit sy Vrywillige Waterfonds.

“Die appèlhof-uitspraak was ʼn belangrike oorwinning vir die landbousektor en Agri SA is optimisties dat dit gehandhaaf sal word. Dit is die enigste manier om Suid-Afrika se vermoë om voort te gaan om voedsel plaaslik volhoubaar te produseer, te beskerm en te bevorder,” sê Rabie.

Indien die aansoek van die hand gewys word, sal dit boere ʼn mate van regsekerheid gee om met hul bedrywighede voort te gaan.

“Indien verlof tot appèl toegestaan word, sal Agri SA voortgaan om die land se boere in die Konstitusionele Hof te ondersteun om te verseker dat die departement nie toegelaat word om die noodsaaklike waterregte waarop boere staatmaak, uit te wis nie,” het Rabie gesê.

Die uitspraak hou groot gevolge vir die bedryf in, veral wat betref beleggersvertroue en landbouers se toegang tot kapitaal.

Die saak spruit uit ʼn omsendbrief wat die departement in Januarie 2018 uitgestuur het en waarin hy bepaal het dat watergebruiksregte nie oorgedra mag word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris dupreez ·

Dit was nou seker nog n idioot in die regering wat die besluit geneem het op sy eie

SjN ·

Die Howe neem die regte besluite aangesien hul nie in staat is om dit te kan doen nie.

Christine ·

Hulle probeer als moontlik om dit vir die boere net moeiliker te maak.

Jack ·

Neem soweto se waterregte weg en kyk wat dan gebeur. Wat n onbeholpe regering. Alles net om die grond te bekom.

Schalk ·

Begin net om die politikuste watse sulke snert uitdink te vervolg vir die kostes. Lankal is betaal die Keiser wat hom toekom oorskry.

quartus ·

Niemand sal verstaan waarom die staat teen die hofbeslissing gekant is nie. Dit maak absoluut sin dat waterregte oordraagbaar moet wees. Maar nouja, ons is in Suid Afrika en hier hoef dinge nie altyd verstaanbaar te wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.