Hoogste hof sê Vrydag oor Zuma

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die Konstitusionele Hof sal Vrydag uitspraak lewer rakende oudpres. Jacob Zuma se aansoek om sy vonnis van 15 maande vir minagting van die hof te herroep.

Uitspraak word omstreeks 10:00 in ope hof gelewer.

Die aansoek is in Julie aangehoor waartydens Zuma se regspan aangevoer het dat hy die enigste gevangene in die land is wat nie ’n regverdige verhoor gehad het nie.

Maroela Media het vroeër berig Zuma se regspan het in die aansoek staatgemaak op onder meer reël 42 wat bepaal dat uitsprake en hofbevele herroep of daarvan afgewyk kan word indien die geraakte party kan bewys dat dit gelewer is in die afwesigheid van die party, of ʼn ooglopende fout of weglating bevat.

Die Zuma-kamp voer aan dat die oudpresident sonder verhoor opgesluit is.

Die regters van die Konstitusionele Hof het egter nie daarmee saamgestem nie en volgehou dat Zuma die geleentheid gegun is om die minagtingsaak teen hom teë te staan. Hy het gekies om nie deel te neem nie.

Die land se hoogste hof het op 29 Junie in ʼn meerderheidsuitspraak bevind Zuma is skuldig aan minagting van ʼn vroeëre hofbevel dat hy voor die kommissie van ondersoek na staatskaping moet getuig. Hy is direkte tronkstraf opgelê.

Die oudpresident het skaars ’n maand van sy vonnis uitgedien voordat hy in die hospitaal opgeneem is. Hy is intussen op mediese parool vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Duck ·

Aag nee siestog, los maar die ou die man uit, hy is skadeloos en soos ek verstaan wil hy ‘n ou potjie golf gaan speel.

Samuel ·

Ek glo nie die hof sal voet by stuk hou oor Zuma se vonnis nie. Howe is SA is aan ANC onderdanig. Zuma het te veel invloed oral in die land. Selfs Staatspresident is versigtig vir hom.

Owlie ·

Volgelinge het geleer dat toy-toy, plundering en vele meer te alle tye die oorhand neem dus sal hulle nie terug staan vir enige wetgewing nie Vrylating het reeds in hul hande gespeel.

JohanR ·

Ek lag my ‘n paapie as die vangwa weer by Nkandla moet opdaag, en die ou moet klim. Sal wens om daar by die hek van Nkandla te staan sodat die lekker kry sommer soe deur my hele liggaam gaan soos weerlig.

Pieter ·

As die anc vir die regters se spring dan vra die regters hoe hoog. Die land se regstelsel is om van siek te word. Om te dink ons belastingbetalers betaal vir die anc sirkus.

Groen Ghoen ·

Wat ookal gebeur, mnr. Zuma is terminaal siek en verwyl sy laaste dae by Nkandla. Dit is sekerlik ‘n asimptomatiese siektoestand wat op ‘n onverklaarbare wyse gediagnoseer word. Nadat die inkubasietydperk verby is sal die behandeling in die buiteland voortgesit moet word. Die enigste gevangene is die arme belastingbetaler en diegene wat nie kan insien dat die ANC vir almal aan die neus rondlei nie. Meneer Zuma, die is lankal vry.

Willem ·

Zuma sal weer party hou want almal bang vir jz die krimineel

Pampoen ·

Dit sal die goedkoopste en beste wees as hy Nkandla toe gaan en daar bly en ons nooit weer van hom hoor nie.

Blomme ·

Wanneer resign die hoof nar vd sirkus? Die ANC kaders kry net nie genoeg daarvan om die land tot hul eie voordeel te misbruik nie.

gatgogga ·

Ek dink dit is baie onbillik van die hof om so lank te neem.
Ek wonder deesdae baie oor die Konhof. Byvoorbeeld, die laaste uitspraak omtrent die uitstel van plaaslike verkiesings: kon die hof nie voorsien het dat daar onduidelikheid sal wees omtrent die her-registrasie van kandidate nie? Nou word dit weer oorgelaat aan die verskillende interpretasies van prokureurs, en dus verdere hofgedinge.
Nie professioneel nie.

AH ·

Baie min dinge wat in Suid-Afrika gebeur op die oomblik is professioneel. Probeer maar enige dienslewering van watter aard ookal. Niks verloop glad of kan as professioneel bestempel word nie…….Covid is mos nou ‘n verskoning vir vertragings en swak dienslewering van die howe tot inbelsentrums. Gerieflik om agter iets te skuil om die minimum te doen en ‘n salaris te verdien.

Jack ·

Ek dink ook die regstelsel in die land moet gaan kyk hoe dit moet gedoen word oorsee.Ek het vir paar maande in die VSA gewerk (San Jose) Daar word nie dae gewag vir uitspake nie.Alles gebeur vinnig.In SA kan jy maande wag vir enige uitspraak en dan word alles maar weer uitgestel.Hier maak almal soos hulle wil want daar is geen respek of vrees vir howe nie.Tyd wen speletjies gebeur nie sommer in die VSA nie want howe werk vinning en effektief.Vonnise word opgelê en deur bevoegdes bestuur.Aandhowe hanteer klein misdade en werk vinning daardeur.Vir dieselfde misdade van Zumpie sou hy nou al lankal in die tronk gewees het met geen vooruitsig vir parool nie.

annie ·

… en nou kan die volk ook die hoofregter oor die konstitusie kies en dit gaan ‘n bakleiery afgee. Wat besiel Cyril? Die vraag wat ons net moet beantwoord kry is hoekom Zuma aanvanklik aangestel is. Hy het dieselfde speletjie gespeel toe Mbeki uitgedruk is. Wat was in elke geval die idee van die ANC toe hulle ‘n rewolusie vir SA beplan het en soos ‘n trop hiënas langs die landsgrense leeg gelê het? Om ‘n beter regering daar te stel? ‘n Goeie finansiële struktuur, soos netjies deur Zuma neergepen, in te voer?

Hennie J ·

Ek hou nie werklik asem op vir die uitspraak nie. Vir my sal dit insiggewend wees om te sien watter skuiwergate die klomp lamsakke nou uitlig net om te motiveer waarom die vorige uitspraak verkeerd was. VIVA PIESANGLAND, VIVA!!!!!!!!!!!!

jou gewete ·

en almal weet die hof sal sy besluit omkeer op aandrang van jack president

Duck ·

Die konstitusionele hof het oudpres. Jacob Zuma se aansoek om sy vonnis te herroep van die hand gewys. Nou toe nou! Daar het jy dit.

ES ·

Ag asseblief. Hy is toegesluit omdat hy ‘n hofbevel verontagsaam het – mens kry nie ‘n verhoor voordat jy tjoekie toe gaan vir minagting van die hof nie. Jy gaan dadelik.

Selfs al het hulle vir hom ‘n verhoor gehou, sou hy in elk geval nie opgedaag het nie, want dit is wat hy doen. Stuur hom sommer nog 15 maande tronk toe.

Swerwer ·

Jig maar die klomp kan nonsens praat. “hy die enigste gevangene in die land is wat nie ’n regverdige verhoor gehad het nie.” Hy is so slinks soos die houtjie van die galg, dit is die probleem. Maar wag, die wiel draai, al neem dit pratykeer namens ons sin te lank. Elke hond kry sy dag en ‘n brak ‘n langnaweek, lui die spreekwoord.

Karina ·

Lees gerus op na die uitspraak, hy is gevonnis en sit moet hy sit. Genoeg geleenthede gehad om homself te verdedig voor die tyd, het besluit om dit nie te doen nie. Vat hom terug tronk toe, hy is so min siek as wat daar ‘n groen mannetjie op die maan is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.