Hoogwaardigheidsbekleërs begin aankom vir staatsrede

Mmusi Maimane en sy vrou Natalie. Foto: @SAgovnews/Twitter

Hoogwaardigheidsbekleërs, uitgevat in wat elkeen as ʼn gepaste en stylvolle uitrusting beskou, het by die parlement in Kaapstad begin aankom vir vanaand se staatsrede deur pres. Cyril Ramaphosa.

Die berugte Kaapse winterweer hou net lank genoeg terug vir die spoggeleentheid voordat tierende stormweer van Vrydag verwag word.

Intussen is die Kaapse middestad rondom die parlement soos ʼn stad onder beleg met die gewoonlik krioelende strate ʼn spookdorp, veral in Roelandstraat, Hoopstraat, Pleinstraat, Spinstraat en Adderleystraat waar verkeer verbied en hoë staalheinings langs die sypaadjies opgerig is.

Eienaars van ondernemings staan verdwaas want daar is nie klante nie: Motoriste is almal weg en voetgangers word in alle rigtings van die parlement – eens bekend as ʼn “people’s parliament” of volksparlement, maar nou reeds lankal nie meer nie – weggebondel deur polisiebeamptes wat in groot getalle ontplooi is.

Die weermag gaan luister verleen aan die geleentheid met verteenwoordigers van die leër, vloot en lugmag asook die staatspresidentswag, geneeskundige dienste en verskeie weermagorkeste wat gaan optree.

ʼn Verbyvlug deur verteenwoordigers van die lugmag en ʼn seremoniële kanonsaluut tydens die speel van die volkslied terwyl Ramaphosa toekyk, beloof om ʼn hoogtepunt op die program te wees.

Die gebeure buite die parlementsgebou behoort kort voor 19:00 ʼn hoogtepunt te bereik, waarna Ramaphosa sy staatsrede sal lewer. Hy lewer dié rede midde van ernstige ekonomiese uitdagings, ʼn dreigende resessie, beleidsonsekerheid oor onder meer mynbou en grondhervorming, en ook te midde van oplaaiende taal- en rassespanning in die land.

Opposisieleiers sal almal die staatsrede bywoon ter voorbereiding van hul antwoord op Ramaphosa se toespraak tydens ʼn parlementêre debat wat Dinsdag begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ivan ·

Mmmmm…..ek wonder wat gaan die totale koste beloop van nog n niks segende episode in die Suid Afrikaanse geskiedenis….mmmmm….

Gert van Wierdapark ·

Ja, dis weer sulke tyd vir die parlementeriers en hul aanhangsels = die paar-lement en SONA!! Sien darem dit kos nou n hele R500 000 minder as in APRIL vanjaar = seker omdat die Ka-bi-net gesnoei is. Hopelik Uber almal om Nog kostes te bespaar en ook om veilig tuis te kom! Na die pres se SONA(R) van SA, gaan baie seker lighoofdig wees van hoe al die “Uit-da-gings” aangepak EN opgelos gaan word!!! Hiep-hiep hoera, Suid-Afrika! My eie geldjies sit ek egter eerder op die merrie, “Oh Susanna”, om die Durban July te wen, as op die a en see se manne met hul Kas vol planne ens! He-he-he!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.