Hoop, gebede vir vrou, kind ná noodlottige kameelperdaanval

Nicole, haar verloofde, Jason, en hul kinders, Kaia en Kayden (4) (Foto: Verskaf)

Die familie van Nicole (25) en Kayden (4) Panos hoop en bid dat hulle gou sal herstel nadat hulle ʼn week gelede in die Kuleni-wildreservaat in Hluhluwe, KwaZulu-Natal, deur ʼn kameelperd vertrap is.

Nicole het ernstige rugbeserings opgedoen en kan nie haar bene of voete voel nie. Sy het ook frakture aan haar kakebeen, ribbes en een van haar arms en skade aan haar lewer en een van haar longe opgedoen. Sy moes ook bloedoortappings kry. Kayden het verskeie skedelbreuke opgedoen.

Kaia, Nicole en haar verloofde Jason Coetzer se 16 maande oue dogtertjie, het ná die aanval in die hospitaal aan ernstige kopbeserings beswyk.

Nicole en haar kinders het die betrokke dag op ’n voetpad tussen hul en haar ouers se huis, wat op die wildreservaat geleë is, gestap toe die voorval plaasgevind het.

“Dit is ʼn pad wat hulle en die personeel van die reservaat elke dag gebruik,” het Christa Panos, Nicole se ma, gesê.

Christa hulle moes die tyding van Kaia se dood aan Nicole bring (Foto: Verskaf)

Hulle het nie die kameelperde genader nie en die diere was op ’n veilige afstand.

“Hulle was verby die diere toe die kameelperdkoei van agter af gekom en hulle aangeval het.”

Christa en haar seun het Nicole en haar kinders se noodkrete gehoor en hulle na buite gehaas, waar hulle op die toneel afgekom het.

“Die kameelperde was nog daar toe ek en my seun daar aankom. Ons het gesukkel om die koei en ’n bul weg te kry. Hulle het mettertyd omgedraai en die bos ingeloop.”

Volgens Christa was daar nie ’n kalfie op die toneel soos aanvanklik berig is nie. Die Kuleni-wildreservaat het dit ook duidelik gestel dat die kameelperd nie van kant gemaak is na die aanval nie.

‘Kameelperd het ons seergemaak’

Kayden is Dinsdag na die gewone kindersaal oorgeplaas (Foto: Verskaf)

Christa‑hulle moes die tyding van Kaia se dood aan Nicole bring waar sy in die intensiewesorgeenheid van die Netcare uMhlanga-hospitaal aansterk.

“Sy is nog baie rustig oor die nuus. Ek dink sy besef haar lyf is sensitief en sy moet dit onder beheer hou en kan nie nou rou nie. Haar tyd vir rou sal kom.”

Kayden is Dinsdag na die gewone kindersaal oorgeplaas. Christa is daagliks by die hospitaal.

“Ek gesels met haar en sy gesels soms terug, maar is meestal onder swaar verdowing.

“Sy is baie sterk. Sy moet haar kop op die regte plek hê om gesond te raak vir Kayden se onthalwe.”

Kayden se skedelbreuke herstel goed en volgens Christa is hulle hoopvol dat hy binne die volgende week uit die hospitaal ontslaan sal word.

“Kayden is in goeie luim, maar ook baie getraumatiseerd oor die voorval en hartseer oor sy sussie.

“Hy het als gesien en onthou wat gebeur het. Hy het vir ons vertel dat ‘die kameelperd hulle seergemaak het’.”

Christa en haar man, Dylan, is platgeslaan.

Jason het Saterdag teruggekeer uit Amerika waar hy ʼn jaar lank gewerk het. Hy het sy kinders ook ʼn jaar gelede gesien. “Dit is baie swaar vir hom.”

Jason en Nicole is hoërskoolliefdes en is al vir 12 jaar in ’n verhouding.

“Hulle was van plan om te trou sodra die finansies dit sou toelaat. Jason was nog altyd trots daarop om vir sy gesin te voorsien. Hy het opgeoffer om weg te wees van sy familie om seker te maak dat hulle versorg word.”

Nicole het Dinsdag ʼn groot operasie aan haar rug ondergaan.

Nicole is nog in die intensiewe sorgeenheid (Foto: Verskaf)

“Die dokters is baie tevrede met die prosedure. Hulle het daarin geslaag om die ruggraat weer mooi reguit te kry.

“Daar was ook geen verdere komplikasies rakende die geskeurde lewer en beskadigde long nie. Die dokters sal haar weer moet opereer om haar arm en kakebeen te herstel.”

Dit is nog nie seker of daar enige blywende skade is en hoe lank Nicole nog in die hospitaal sal moet bly nie.

“Dit sal ’n goeie twee weke wees voordat hulle kan begin toets vir reflekse. Die fokus is vir eers daarop om inflammasie te verminder en infeksie te voorkom sodat die proses van genesing van haar rugspiere en rugmurg kan begin.”

Die familie gaan Kaia laat veras en dan ʼn roudiens vir haar hou sodra Nicole en Kayden uit die hospitaal ontslaan is.

Volgens Christa gaan die familie nie regstappe teen die Kuleni-wildreservaat, waar Nicole ’n veldgids is, doen nie.

“Ons woon in die natuur en verstaan daar is risiko’s om wilde diere. Die park sal net moet ondersoek instel rakende die situasie van die kameelperde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mariaan ·

Sjoe wat n storie..mag hierdie mensies mooi herstel en die pad vorentoe geseend wees..jammer oor jul hartseer..ai die lewe is darem nie maklik nie

Misky ·

Dis so hartseer, my hart en gebede gaan uit na julle as naasbestaandes.

Nettie ·

Mens wil net saam met hulle huil. Dis so ‘n verskriklike ding wat hulle oorgekom het. Ek is dankbaar die seuntjie lyk of hy op ‘n goeie pad van herstel is. Mens se hart sukkel om te verstaan hoekom die ou pragtige babadogtertjie dit nie gemaak het nie. En dat die pa sy kinders en vrou ‘n hele jaar laas gesien het en nou dit.

Mens kan net bid vir hulle 3, en die familie. Dankie Vader vir die Ouma. Mag God aan haar die nodige krag gee om haar dogter hierdeur te help. Mag Hy almal toevou in Sy liefde.

Gaitsigubib ·

Iemand wat hierdie lees kan net vir Jason sterkte en gebede oordra. Ek hoop hulle herstel, fisies en emosioneel…. wat n nagmerie!

Shakespeare ·

Nagmerrie op sy beste met hierdie frats aanval. Sterkte julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.