Hoop op ‘genadevlug’ vir siek Suid-Afrikaner

Dale Benson (37) lê tans met gevorderde kolonkanker in ’n hospitaal in Hanoi. (Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

’n Noodvlug uit Viëtnam is dalk die enigste hoop wat die Suid-Afrikaner Dale Benson (37) het om met sy familie in Kaapstad herenig te word en die nodige mediese behandeling te ontvang wat sy lewe kan verleng.

Benson, ’n Engels-onderwyser, lê tans met gevorderde kolonkanker in ’n hospitaal in Hanoi waar hy onlangs ’n groot operasie ondergaan het. Hy is sowat ’n week gelede met dié siekte gediagnoseer.

Sy ma, Inge Bosman, sê die familie is desperaat om hom na Suid-Afrika terug te bring sodat hy dringend chemoterapie en ander nodige behandeling kan ontvang.

Daarsonder het Benson volgens Hanoise dokters maar enkele weke om te leef.

Dale Benson hou al die afgelope drie jaar in Viëtnam skool. Hy is sowat ’n week gelede met fase 4-kolonkanker gediagnoseer. (Foto: Verskaf)

Boonop kan hy vanweë sy toestand nie as ’n gewone kommersiële passasier vlieg nie aangesien hy deurlopend plat moet lê en mediese sorg benodig.

Bosman sê ’n lugambulans is moontlik haar seun se enigste uitweg, maar dit is ’n ingewikkelde en duur proses wat glo tot meer as R2,5 miljoen kan kos.

Benson het op 2 Julie ’n groot operasie ondergaan en daar is onder meer kommer dat sy wonde moontlik sal oopskeur as hy sit. Volgens Bosman loop hy ook die risiko dat bloedklonte kan vorm.

“Ek verjaar volgende week Vrydag en dit sal die grootste geskenk wees as hy kan huis toe kom.”

Aangesien die vlug tussen Hanoi en Suid-Afrika langer as 16 uur met minstens een oorgangsvlug is, sal Benson ook die hulp van ’n mediese assistent benodig.

Benson se geliefdes het sedertdien geldinsamelingsinisiatiewe op Go Fund Me en Back a Buddy begin in die hoop om hom huis toe te bring en bykomende mediese onkoste te dek aangesien hy nie ’n mediese fonds het nie.

Dale Benson het op 2 Julie ’n groot operasie ondergaan en daar is onder meer kommer dat sy wonde moontlik sal oopskeur as hy sit. (Foto: Verskaf)

Benson hou al die afgelope drie jaar in Viëtnam skool en het voorheen ook in die VSA gewerk.

Volgens sy ma was hy nog altyd lief vir reis en het hy oor die jare ’n passie vir jeugonderrig en -ontwikkeling ontwikkel.

“Hy het die geleentheid om met kinders te werk as ’n roeping beskou.”

Bosman sê Benson het veral verkies om by skole in landelike gebiede te werk ondanks die vele uitdagings en beperkte hulpbronne in dié gebiede.

“Hy het groot drome vir ’n loopbaan gehad waar hy tieners kan help om verslawing en trauma te oorkom.”

Dié drome is egter kortgeknip toe Benson se gesondheid skielik agteruitgegaan het.

Buikpyn het Benson verlede maand genoop om dokter toe te gaan waarna hy ’n kolonoskopie ondergaan het.

Dokters het bevind dat sy kolon abnormaal lyk en dat hy poliepe, kolitis en prostatitis het.

Benson se simptome het vererger en daar is by verdere ondersoek bevind dat hy ’n versperring in sy kolon het.

Hy is gevolglik op 2 Julie geopereer waarna dokters bevestig het dat hy fase 4-kolonkanker het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willem ·

Baie sterkte en mag n groot Samaritaan jou vlugkostes betaal sodat jy kan huistoe kom na jou mense toe!!!

Carina ·

Sterkte en ek hoop iemand maak sy hart oop om die jong man terug te bring na sy mense.

Maggies ·

My hart bloei vir die ouers van hierdie jong man. Ek het self 2 kinders wat in China werk en kan myself indink hoe ontsteld ek sou wees as dit een van my kinders was. Ek bid regtig vir hom en sy ouers, asook vir sy spoedige terugkeer vir die nodige behandeling.

Charmain ·

Hoekom help DIRCO nie ook die familie soos hulle vinnig kon help met die rugby speler wat in Hawai deur die polisie dood geskiet is???

Hennie ·

Sonder ‘n mediese fonds in die buiteland? Sterkte my vriend,

Gatvol... ·

Ek dink hulle bedoel hy het nie ‘n mediese fonds in SA nie

Blomme ·

Sterkte aan almal betrokke. Ek hoop alles werk goed uit vir die jongman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.