Belowende nuus oor die verbetering van munisipale dienste in die Oos-Kaapse dorp Makhanda (vroeër Grahamstad) is in die parlement aangekondig deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma.
Sy het antwoorde verskaf op ʼn reeks skriftelike vrae deur die DA-LP Kevin Mileham.
Dlamini-Zuma wou geen posisie inneem rakende die besluit van die Oos-Kaapse regering en die Makana-stadsraad, wat die dorp bestuur, om appèl aan te teken teen die uitspraak van die Oos-Kaapse hooggeregshof se uitspraak dat die stadsraad ontbind moet word nie, omdat die saak tans voor die hof dien.
Sy het wel baie ander inligting in antwoord op Mileham se vrae verskaf.
Dlamini-Zuma het toegegee dat Makhanda baie omvattende diensleweringsuitdagings ervaar, en gesê haar departement help tans met die oplossing van probleme en die uitbou van vermoë. Probleme word vererger deur die droogte en vervalle infrastruktuur.
“Die uitdagings het teen ʼn geweldige tempo toegeneem sedert 2019. Spesiale vergaderings hieroor is gereeld met rolspelers in die munisipaliteit gehou. ʼn Waterkrisis-rampbestuurplan is opgestel en ʼn tersaaklike komitee is in die lewe geroep,” het Dlamini-Zuma uitgebrei. Die komitee vergader weekliks om met planne ter oplossing van die waterkrisis en die voorsiening van basiese infrastruktuur vorendag te kom.
Wat waterbeskikbaarheid betref loop die gebied erg deur onder die droogte. Die Makhanda-gemeenskap maak veral staat op watervoorsiening vanuit die Glen Melvilledam wat in die Visrivier-opvangsgebied is. Sowat 10 Ml/d word in die James Kleynhans-watersuiweringswerke gesuiwer, met ander bronne tans grootliks onbeskikbaar weens droogte.Dit voldoen nie aan Makhanda se daaglikse waterbehoeftes nie, dus is daar waterbeperkings van agtuur saans tot vyfuur soggens. Verskeie infrastruktuurprojekte is dus tans van stapel gestuur, naamlik:
- die verskaffing en installering van twee pompstelle by die Jams Kleynhans-watersuiweringswerke;
- die vervanging van asbespype met PVC-pype om waterlekke te voorkom;
- beter waterbewaringsplanne; en
- installering van nuwe watermeters.
Ondersteuning word deur die nasionale regering verskaf om die stadsraad se vaardigheidsvlakke te verbeter.
Wat rioolwerke betref word die Mayfield-rioolstelsel tans opgegradeer, asook die Makana rioolpompstasies.
Sover dit paaie aangaan word Ncamestraat opgegradeer, wat deel van die taxiroete vorm, asook Somersetweg, Hoogstraat, Nuwestraat en Hillstraat.
Die sentrale regering oorweeg nie tans grondwetlike ingryping in die munisipaliteit nie, het Dlamini-Zuma gesê.
Hulle sit en wag vir die boere
Sou graag vir Grahamstad wou help….waar is makandla?
Dit gaan gladnie, soos wat Dlamini-Zuma sê, oor die “baie omvattende diensleweringsuitdagings” nie. 90% van die stads/dorpsrade in die land is net eenvoudig, a.g.v. kaderontplooing, nie in staat om die rade te kan bestuur en die nodige werk te kan doen nie, PUNT!
Die antie is mos die opsteller van die geskrif oor hoe moenieisipaliteite bestuur behoort te word. Die diepsinnige skrywe lè seker nog iewers hier. Die redaksie kan dit gerus opgrawe. Volgens die rewolusionère droom sou geld na die probleem gegooi word a la die middeleeuse manier so uit die blink merc’s in die verbyry om die gate in die pate te vul… dis nou met die sente wat oorbly. Enjoy!
Dis verkiesingsjaar: net leë beloftes