Hoop vervaag ná SA man se ontvoering in Burkina Faso

Christo Bothma (54) word sedert September verlede jaar vermis, nadat hy in Burkina Faso ontvoer is.

Amanda Bothma hoop steeds dat haar man, Christo (54), wat in September verlede jaar in Burkina Faso ontvoer is, huis toe sal kom. Dít, al het twee tussengangers, die een van Niger en die ander van Mali, onafhanklik van mekaar gesê dat Christo reeds op 19 Junie vanjaar dood is.

Die noodleniginggroep Gift of the Givers het Amanda sedert Christo se verdwyning gehelp om inligting oor die gebeure in te samel en Christo se vrylating te probeer bewerkstellig.

Christo, sy werkgewer se seun en ʼn drywer is op 23 September verlede jaar in Burkina Faso ontvoer. Christo was ʼn instandhoudingsbestuurder by ʼn myn by Inata. Christo was sedertdien spoorloos, al het verskeie vals berigte daarna die ronde gedoen – onder meer bewerings dat hy vrygelaat is.

“ʼn Mens weet nie wat is waar en wat is nie. Dan is hulle vrygelaat, dan nie. ʼn Mens weet later nie meer wat om te glo nie. Dis baie erg vir die familie,” het Amanda gesê.

Amanda het gesê Gift of the Givers se dr. Imtiaz Sooliman het egter die afgelope naweek laat weet dat Christo volgens die twee afsonderlike bronne reeds dood is. Hoewel inligting oor die omstandighede om Christo se dood baie vaag is, word al twee die bronne as uiters betroubaar beskou.

Die organisasie het gesê hy sal ʼn afgevaardigde stuur om die bronne self te gaan ontmoet, soveel as moontlik besonderhede oor Christo se vermeende dood in te samel, en terugvoer te gee oor sy moontlike repatriasie.

“Ek weet nie hoe ek voel nie. Ek wil dit nie glo nie. Ek het vir dr. Sooliman gesê ek sal dit glo as hulle vir Christo huis toe bring,” het Amanda Maandag gesê

(Foto: Google Maps)

“Hy moet huis toe kom, hy kan mos nie daar bly nie. Daar is niemand daar vir hom nie.”

Buiten die onsekerheid wat dag en nag knaag, moet Amanda steeds die huishouding aan die gang hou. Sonder Christo is dit ʼn opdraande stryd.

Sy het in Januarie vanjaar noodgedwonge weer begin werk, maar sukkel om alles te betaal. Amanda het ook vroeër ʼn skarefinansieringsinisiatief op die webwerf BackaBuddy op die been gebring in ʼn poging om haar huis te behou.

Die egpaar woon op Potchefstroom. “Ek hoop en bid net hulle kom vat nie die huis nie.”

Christo se werkgewer het in September opgehou om sy salaris te betaal, hoewel hy steeds van tyd tot tyd geld vir Amanda oorbetaal.

Sy sê haar man is aanvanklik Burkina Faso toe om vir die kinders se studies te help betaal. Die egpaar het ses kinders tussen hulle.

Amanda en Christo Bothma.

“Hy was die liefde van my lewe. Hy het so maklik met mense vriende gemaak. Hy het nooit sommer kwaad geword nie. Hy was ʼn fantastiese mens. Ons kon vir ure lank in die kamer sit, sonder om eers te gesels. Ek kon net my hand uitsteek en aan hom vat. Nou kan ek nie meer nie,” het Amanda gesê.

Sy en Christo is reeds 24 jaar lank getroud.

“Ek gee nie om hoe hy huis toe kom nie. Kóm net,” het ʼn emosionele Amanda gesê. “As hy nie meer lewe nie, is dit dan só. Maar op een of ander manier moet hy huis toe kom.”

Amanda sê die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het haar destyds oor die ontvoering ingelig, maar inligting uit regeringskringe was sedertdien uiters skraps.

Maroela Media het die departement om kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Linda ·

Hierdie is n baie tragiese verhaal. Ek bid dat Gift of the Givers en Internasionale betrekkinge die man huistoe sal bring, lewend of dood, sodat sy familie afsluiting kan kry.

Bokkie Swanepoel ·

Amanda sterkte dink aan julle.Hy is n fantasties pa en man.Hoop hy kom huis toe.

Dan ·

Baie sleg, Genade en Gebede vir diegene en hul naastes.

MM, kan julle dalk uitbrei oor die ‘werkgewer se seun en die drywer’, daar staan hulle is ook ontvoer, maar daar is geen rep of roer of nuus van hulle nie? Is hulle gevind? Is hulle nog vermis, ontvoer?

Gerhard ·

Weet julle wat is dit om werk in die buurtstate te soek want niemand in SA wil jou he nie. Niemand wil jou aanstel nie, omdat jy ‘n wit man van 54 jaar oud is. Ek het al die paaidjie gestap, baie van my vriende het, en nog steeds. Ek is ook ‘n wit man 54 jaar oud. Ek weet. Al my simpatie vir sy vrou en hoop van harte sy kry die uitslag wat sy so graag verlang. Ek bid vir jou.

Karen ·

My pa is 62 jaar oud. Hy werk 16-22 uur dae, 7 dae ‘n week in die buiteland, permanent op bystand, diep in Afrika, tussen die rebelle en ebola, want hy is in die selfde posisie. Dit is hartverskeurend. En nee, die mense wat so werk word nie ryk nie. Ja, salarisse is in USD, maar gaan kyk boetjie wat is die koste van lewe daar vir expats, jy moet als ook in dollars aankoop, en iets soos ‘n klein blikkie koeldrank kos maklik oor R100. Dit is nie so maklike lewe soos die meeste dink, en soos daar moontlike sommige is wat dit het nie. Meestal is dit harde, aaneen werk

Feite ·

Ja, my arme man werk ook hom dood in Pakistan – sy siel alklaar hel toe.

Want sy eie land waardeer nie sy kennis en werk etiket nie. Skande

Die ergste is ook ons “liewe regering’ wat niks doen as daar iets met jou moet gebeur in die buiteland nie! Ek bid hierdie arme man kan huis toe gebring word.

Lynn Smith ·

Ai my hart breek vir ons nasie. Ek is 63 en werk in derde wereld lande om te oorleef want in Suid Afrika kan ek nie werk kry nie. My pensioen was nie naastenby genoeg vir oorlewing in ons land nie. Nou gee ek Engels in Vietnam en soos Gerhard sê… mense weet nie….Die lewe hier is ook hard.. Maar hier is ek darem redelik veilig…alhoewel daar hier ook twee mense van Suid Afrika vermis word.
Baie baie sterkte aan die vermiste man se familie… en aan al die ander wat ver van hulle families is.xx

Mariaan ·

Wat het vd ander mense geword wat ontvoer is? Ja hierdie is erg…en wat doen mens…wag wag en wag…sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.