Hoop vir SA se ‘sukkelende’ staalbedryf

staalbedryf seifsa

Argieffoto: Hera.org.nz

Nog ʼn Suid-Afrikaanse bedryf wat werk aan derduisende mense verskaf, word bedreig deur die storting van gesubsidieerde produkte van die buiteland in die plaaslike mark.

Die Suid-Afrikaanse staalbedryf het in 2015-’16 reeds 25 000 poste verloor omdat daar onder meer goedkoop staal vanuit China ingevoer word en druk op die bedryf in reeds moeilike ekonomiese omstandighede plaas.

Dit het die vakbond Solidariteit genoop om ʼn veldtog van stapel te stuur om die bedryf van ondergang te red. Die “Steun Ons Staal”-veldtog, wat vandag in Centurion, Pretoria, bekendgestel is, sal bewusmaking skep rondom die uitdagings wat hierdie bedryf in die gesig staar en beoog om betrokkenheid aan te moedig sodat daar aktief opgetree word om die plaaslike staalbedryf te red.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, plaas die drastiese afswaai in die groei van die plaaslike ekonomie, kostedruk in die vervaardigingsektor, reeds bestaande versmorende regulatoriese maatreëls, asook hoë staalinvoer die plaaslike staalbedryf onder geweldige druk.

steun-ons-staal-veldtog

Die logo van die ‘Steun Ons Staal”-veldtog vir die plaaslike staalbedryf. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

“Ons het die afgelope paar jaar duisende werkverliese in die plaaslike staal-, vervaardigings- en ingenieursbedrywe ondervind. Talle plaaslike staalmaatskappye het óf afgeskaal deur duisende werkers af te lê, óf hulle het hul besighede gesluit. Dit het talle werknemers sonder ʼn heenkome gelaat.”

Croucamp het daarop gewys dat die staalbedryf sowat 300 000 werksgeleenthede skep vir mense wat direk sowel as niedirek by die staalbedryf betrokke is. “Altesaam 66% van die huishoudings in sowel die Vaaldriehoek as Newcastle is van die staalbedryf afhanklik vir hul lewensbestaan. Dit is statistieke soos dié wat die behoefte aan en dringendheid vir ʼn veldtog soos die SOS-veldtog beklemtoon.

“Die SOS-tema loop hand aan hand met die gedagte dat ons almal trotse Suid-Afrikaners is, en daarom moet ons saamstaan en saamwerk om te voorkom dat ons ontneem word van ons staalbedryf,” het Croucamp gesê.

  • Besoek die veldtogwebblad om ‘n video oor die Suid-Afrikaanse staalbedryf te besigtig. Klik hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

CNA ·

Kom ons kyk, die SAUK sukkel, die SABC sukkel, ESKOM sukkel, die Platinum en Goud mynbedryf in SA sukkel, die Staalbedryf sukkel en die Mediese Versorging (lees hospitale), die Inrigtings vir geestesgestremdes sukkel, die munisipaliteite sukkel, die Poskantoor sukkel, Prasa sukkel. Vreemd hoe die chaos net meer word en die geleenthede net minder. Dankie Marius vir die feit dat julle van Solidariteit nog probeer, die ander het lankal tou op gegooi!

Hendrik ·

Ja nee die die demokrasie sukkel. Wil amper se dit “struggle”..

MANIE ·

Hoe is dit moontlik dat China ystererts by ons koop, verskeep na China , daar staal maak en dit terug verskeep na ons goedkoper as wat ons dit hier kan vervaardig?Ons moet ophou skuil agter ons hoe insetkoste en swak opgeleide hoogsbetaalde werksmag. Ons kan eenvoudig nie kompiteer in die wereld en moet altyd beskerming by regering gaan vra.Die selfde gebeur tans in die hoender bedryf. As ons nie goedkoper staal kan vervaardig hoort ons nie in die bedryf

Piet Pompies ·

Die hoender produkte wat van Amerika af ingevoer word is “off cuts”. Die beter snitte word vir hulself gehou. In Naboomspruit is daar ‘n hoenderplaas Spif Chicken wat wereld gehalte hoenders lewer. Hulle het ‘n verspreidingsnetwerk en Nelspruit het ‘n handelaar. Die hoendervleis word nie met ‘n watermengsel ingespuit en kwalteit is die beste.

Wouter ·

Ek koop staal wat van Kanada af ingevoer word. Dit is n beter kwaliteit en goedkoper as Mittel s’n. As ons nie kan kompeteer met die res van die wêreld nie dan bewerkstellig ons ons eie ondergang.

Piet Pompies ·

Die staal bedryf in SA is jare terug deur die staat gestig as deel van werkskepping. Die staat het verskeie soorte subsidies verskaf soos vakleerlingskap en van die beste ambagsmanne is daar opgelei. Yskor is geprivatiseer en die subsidies is verminder tot niks. Van die vervaardigings prosesse is verouder en voldoen nie aan omgewings standaarde. Prosesse om die impak minder te maak is baie duur. Uitvoer van staal was ‘n bron van buitelandse valuta maar met goedkoper aarbeid in Indie is SA benadeel.
Yskor het baie produkte ontwikkel met patent regte op, soos onder meer die Cromadek sinkplaat. Met goeie belegging en nuwe staal fabrieke kan SA weer aan die voorpunt staan van die wereld se staal bedryf.

emo ·

praat gesels hoop vir maar dit bly daar afriforum soldariteit skryf boeke beveilig jousels ens ens ens

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.