Hoop vir SA wittes

flip-buys-2017-11

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Daar is hoop dat die lewering van munisipale dienste aan spesifiek wit Suid-Afrikaners op die platteland kan verbeter namate meer van hulle uit klein dorpies na groter streekdorpe trek, het Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit-beweging, vanoggend in Stellenbosch gesê.

Buys het saam met prof. Flip Smit, oudrektor van die Universiteit van Pretoria en prof. Leslie van Rooi, die Universiteit Stellenbosch se hoof van sosiale impak en transformasie, by die Universiteit Stellenbosch se Woordfees aan ‘n debat oor die toekoms van wit mense in Suid-Afrika deelgeneem.

Buys het gesê dit help nie om bloot teen die stroom te swem nie. Jy moet eerder die boot stuur, en dat demografie wêreldwyd ‘n sleutelkwessie is.

Hy het uitgewys dat ‘n onlangse studie oor watter tale waar in die land vir transaksies met kitsbanke gebruik word, aantoon dat taalverspreiding oor die land nie eweredig is nie.

Solidariteit se berekeninge toon dat die wit bevolking in Suid-Afrika tot 2031 redelik stabiel op 4,4 miljoen sal bly, maar sal afneem as persentasie van die geheel weens ander rasse se vinniger aanwassyfer en immigrasie uit die res van Afrika.

Klein plattelandse dorpe is volgens Buys besig om agteruit te gaan weens ‘n uitvloei van kundige jongmense, spesifiek in Limpopo en die noorde van KwaZulu-Natal. Hy het spesifiek die KwaZulu-Natalse dorpe Vryheid, Dundee en Utrecht uitgelig as voorbeelde waar die dorp die vorm van die meerderheid aanneem.

“Baie klein plattelandse dorpe is vervalle – dis eintlik tragies. Maar die verhuising na groter streekdorpe beteken danksy groter ekonomie van skaal dat Solidariteit byvoorbeeld kan help om infrastruktuur soos ouetehuise – wat nie op elke klein dorpie in stand gehou kan word nie – in streekdorpe in stand te hou. Dieselfde geld byvoorbeeld hoërskole en veiligheidsdienste.

“Ek is baie positief oor streekdorpe. Dit maak die privatisering van dienste moontlik – weliswaar met ‘n gemeenskapsfokus, maar tot voordeel van die hele dorp,” het Buys gesê.

Smit het gesê die feit dat wit Suid-Afrikaners se geduld tans met rasgebaseerde uitsprake getoets word, mag nie afbreuk doen aan hul bydrae tot die land nie. Hy het vier V’s as bydraend tot veranderende wit demografie uitgelig.
Verstedeliking beteken die platteland kwyn en dorpies verval, maar diegene wat daar woon kan nie wegtrek nie want hulle kan nie ordentlike pryse vir hul aftreehuise kry nie en veroudering tree in omdat “die mediese wetenskap vinniger hardloop as siektes”, het Smit aangevoer.

Oor die vermindering van die wit bevolking het Smit met Buys saamgestem. Sy laaste V was “vertrek”, wat dui op die neiging dat geskoolde wit Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 25 en 35 jaar die land teen ‘n koers van 20 000 per maand verlaat – ‘n neiging wat volgens Smit omgedraai moet word.

Van Rooi het gesê demografie is belangrik, en moenie net in ‘n meerderheid/minderheid-argument omgesit word nie. Hy het gemaan teen kru stellings oor aanwassyfers en die hoeveelheid babas per bevolkingsgroep. Van Rooi het gevra dat veral klein Afrikaanse dorpies in die Noord-Kaap hul kerke en skole begin saamgooi ter wille van ‘n gesamentlike identiteit.
Toe die gesprek na immigrante draai, het hy gesê die debat moet nie gaan oor die versterking van grense nie, maar oor die bestuur van immigrante.

Buys het uitgewys dat immigrasie wêreldwyd ʼn probleem is en dat 68 lande tans mure bou om buitelanders uit te hou. Op die vraag oor wat Suid-Afrikaners kan doen het hy gesê benewens breër gemeenskapsdiens is kulturele patriotisme ook nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Eish ·

Ja asseblieftog.
Mens hoor net van die aksies maar ervaar niks om jou nie.
En ek raak bietjie deurgeskuur aan die bepratery.

John ·

Ongelukkig is hierdie ooms aan die droom. Niks dui daarop dat die regering die witmense sal toelaat om oraloor Oranias te stig waar hulle in afsondering kan floreer nie. Woede en haat teen die Afrikaner bou op en die grondkwessie gaan dit vererger. Afrika was onbeheerst aan en SA se alles-gratis-beleid gaan Afrika en meer hierheen lok.

Hanna ·

Ek het in die begin van 2018 besluit om die land te verlaat, moontlik vir goed hierdie keer. Ek het 3 jong kinders. En ja, ek is bang en uiters bekommerd oor my kinders se toekoms en veiligheid in hierdie land. Mense oordeel vinnig en vra waar is jou geloof, byt net vas… Jammer, ek groet binnekort my geliefde vaderland wat my volksgenote nie meer hier wil he nie. VSA sal nou ons nuwe tuiste wees. RSA het sy rug op ons blankes gedraai. Dis hoe ek voel.

Lysa ·

Doen dit Hanna en moet nooit terug kyk nie! Jy doen die regte ding! Mag julle geseend wees in julle nuwe tuiste!

Magda ·

Praat, praat , praat Solidariteit, Afriforum, VF+ – Regtig???
Ek sal nie SA verlaat nie. Dis MY LAND, MY VOLK, MY TAAL, MY MENSE.
Hulle wil ons uitmoor en verdryf so ons speel reg in hul hande in. Vir die wat nog hier is – ek salueer jul!!!! Die vierkleur sal weer wapper en dan moet die wat weggehardloop het maar bly waar hulle is.

Casper Labuschagne ·

As ‘n enkele boer op ‘n plaas self sy eie infrastruktuur skep wat paaie, boorgate, syferputte, en selfs kragopwekking betref, hoekom moet die inwoners van die kleinste dorpie sit en wag vir die owerheid, of soos hier voorgestel word, padgee? Ons buurdorpie Steynsrus het jare laas lopende water gehad, maar wat verhoed die inwoners van byvoorbeeld Steynstraat om self hul eie dienste te ontwikkel en te voorsien? Is die verskuiwing na groter streekdorpie nie bloot net die tydelike uistel van dieselfde kernprobleem nie? Dit kan tog sekerlik nie so moeilik wees om basiese dienste self te ontwikkel mits jou skaal so klein is as wat byvoorbeeld Steynsrus, Lindley of Edenville is nie?

I&Djy ·

So wat Buys eintlik wil sê is, ons staan maar so voetjie vir voetjie terug, sorg net dat ons die kar se wielle darm nog onder hom hou, tot wanneer? Jy wat Buys is dood dalk oor 20 of 30 jaar, maar wat van jou agter kleinkinders en hulle kinders en kleinkinders? Waar sien mnr Buys die land oor 350 jaar?

Dewet Greyling ·

As daar een ding seker is, dan is dit dat niemand van enige iets seker kan wees nie (behalwe om seker te wees van die dood…). Tussen die onseker deur, leef ons as nietige mense in geloof en doen wat menslik moontlik is (…en glo dat dit wat in die WOORD vasstaan, die enigste sekerheid is vir elke gelowige.) Dít is uiteindelik elke mens se finale keuse en verantwoordelikheid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.