Hoop vir verpleegster wat wag op heupoperasie

Mandy Isidoro (née Dickie) ‘n paar jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Anna Maria Isidoro (née Dickie), of Mandy soos almal haar ken, het die afgelope twee weke hernieude hoop gekry dat haar lank uitgestelde heupoperasie eersdaags sal kan plaasvind.

Die 70-jarige verpleegster by die Floroma-tehuis in Roodepoort, Johannesburg, verkeer al maande lank in konstante pyn nadat een van haar heupe uit sy potjie gegly het. Sy is boonop vir verskeie bestanddele in meeste pynstillers allergies en moet klaarkom sonder medikasie.

Isidoro se dogter, Wendy Hatfield, sê haar ma het opnuut hoop gekry nadat ʼn dokter by die Charlotte Maxeke-hospitaal na haar uitgereik en aangebied het om hulle uit die verknorsing te help.

Dokters by die Helen Joseph-hospitaal het vroeër vir Isidoro gesê dat die waglys vir die operasie by dié hospitaal tussen vier en vyf jaar is.

Die twee het egter die afgelope Vrydag ʼn nuwe dokter by die Charlotte Maxeke-hospitaal gaan besoek vir ʼn deeglike ondersoek van Isidoro se toestand.

“Die dokter is so goedhartig. Hy het ons maak voel asof ons almal al vir ewig pelle is. My ma was in baie pyn tydens die ondersoek, maar sy was so braaf en het daardeur probeer glimlag,” sê Hatfield.

Nuwe X-strale is van Isidoro se heup geneem en bloedtoetse is weer gedoen om te verseker dat sy gesond genoeg is vir die operasie.

Nadat Isidoro deur die nuwe dokter ondersoek is, het hy Maandag ʼn voorlegging aan die hospitaal se bestuur gemaak, met die hoop dat Isidoro teen die einde van die jaar al ʼn operasie kan ondergaan.

“Hy was baie deeglik in sy verduideliking en het baie besonderhede oor my ma se toestand voorgelê,” sê Hatfield.

“Hoewel die hospitaal ons so gou moontlik wil help, is ons meegedeel dat daar nie onmiddellik ʼn operasie gedoen kan word nie.”

Verslae maar nie oorwonne

Isidor loop nou met ‘n kierie om heen en weer te kom. (Foto: Verskaf)

Die betrokke dokter, in samewerking met ʼn spesialis by die hospitaal, het bevind dat Isidoro ʼn hoë risiko het vir sepsis ná die heupoperasie. Dit word vererger deur die feit dat sy ʼn roker is met ʼn geskiedenis van hartprobleme.

“Die dokter het gesê haar kanse op sepsis is vyf keer hoër as ʼn persoon wat nie rook nie. Hy is ook bekommerd oor die stres wat die operasie op my ma se liggaam gaan plaas.”

Die dokters is nie in hierdie stadium seker hoe Isidoro se liggaam op die narkose sal reageer nie en het haar reeds na ʼn kardioloog en ʼn narkotiseur verwys voordat sy goedgekeur word vir die operasie.

Daar is tog hoop dat die operasie steeds teen Desember sal plaasvind. Isidoro is gelas om vir ses weke op te hou rook, waarna sy die lewensveranderde operasie, wat haar chroniese pyn sal verlig, kan ondergaan.

“Ons het met die spesialis gesels en sy het gesê dit is belangrik dat daar geen kortpaaie gevat word met die voorbereiding vir die operasie nie, aangesien dit die kanse op komplikasies vergroot,” sê Hatfield.

“Dit gaan moeilik wees vir my ma om op te hou rook, omdat dit al is wat haar gedagtes van die pyn af vat, maar sy sal dit doen om eens en vir altyd van die pyn ontslae te raak.”

Isidoro moet op 12 Desember terugkeer hospitaal toe vir ʼn finale ondersoek en seker te maak dat sy wel ophou rook het.

“Hulle kan haar moontlik daardie selfde dag opneem vir die operasie of binne ʼn week ʼn dag skeduleer daarvoor,” sê Hatfield.

“My ma is ʼn bietjie teleurgesteld dat die operasie nie vinniger kan plaasvind nie, maar sy sal elke uitdaging aanpak om seker te maak sy kry die operasie so vinnig as moontlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

melaney ·

Ek is seker Suster Mandy het honderde pasiente versorg en weer op die been gebring in haar loopbaan. Ek bid dat die prosedure glad sal verloop en dat sy sonder pyn die hospitaal sal verlaat om weer by haar geliefdes te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.