Hoopstad-plaasmoord: Verdagte al voorheen skuldig

Janus (Boeta) Powell. Foto: Verskaf

Die verdagte wat Saterdag tydens die moord op Janus (Boeta) Powell (37) op ʼn plaas tussen Hoopstad en Bloemhof doodgeskiet is, is voorheen daaraan skuldig bevind dat hy hom as ʼn polisiebeampte voorgedoen het.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, is die 38-jarige man ook gesoek in verband met rooftogte en kapings wat in Mmabatho in Noordwes en Kuruman in die Noord-Kaap gepleeg is.

Hy is Saterdag doodgeskiet, vermoedelik deur Powell, en sy liggaam is net buite die plaashek gevind. Die oorledene het ʼn polisie-glimbaadjie aangehad.

Thakeng het gesê die soektog na die ander vier verdagtes gaan voort. Maroela Media het vroeër berig Powell is by die hek van die plaas wat hy bestuur het, doodgeskiet deur mans wat in polisiedrag geklee was en ʼn blou lig op hul motor gehad het.

Powell se ouers, Antoon en Tharina, het by hom, sy vrou, Anemi, en hul kleinkind JJ, wat binnekort vier word, op die plaas gekuier. Hulle het gereed gemaak om te braai toe Powell deur die plaaseienaar gebel en gevra is om hek toe te gaan aangesien daar polisiebeamptes by die plaas opgedaag het.

Powell het kort daarna sy vrou gebel en gesê sy pa en ʼn vriend wat ook daar gekuier het, moet na die hek toe kom.

“Ons het Boeta se Cruiser aan die binnekant van die hek sien staan en die hek was so ʼn entjie oopgemaak. Daar het ʼn motor op die teerpad gestaan,” het Antoon vroeër gesê.

Hulle het eers op die verdagte wat doodgeskiet is se liggaam afgekom en toe op Boeta. “Toe ek by hom kom, was hy bewusteloos en ek het gedink hulle het hom geslaan. Hy het sy kop geroer en ek het gevra: ‘Seun, wat is fout, wat het gebeur?’ ‘Ek weet niks, ek weet niks,’ het hy gesê. Toe ek hom probeer optel, sien ek die bloed, toe besef ek hy is geskiet. Teen die tyd dat die polisie daar aangekom het, het hy baie sleg gelyk. ʼn Dokter het ook opgedaag en Boeta het kort daarna sy laaste asem uitgeblaas.”

Boeta se pistool en selfoon word vermis. Die aanvallers het glo eers die eienaar van die plaas genader. Een van die aanvallers het glo in Afrikaans met hom gepraat. Die eienaar, ʼn Chinese burger, verstaan egter nie Afrikaans nie en dit is toe dat hy Boeta ontbied het.

Volgens Tharina was haar seun baie hardwerkend en lief vir mense. “Hy het altyd gehelp waar hy kan en hy was ʼn baie goeie pa vir sy kind.”

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om sers. Lawrence Mojanaga by 083 334 0684 te bel. Genl.maj. Lerato Molale, bevelvoerder van die Welkom-groepering, was ook op die toneel en het die sinnelose moord ten sterkste veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Gatiep ·

Baie sterkte aan die vriende en familie.
Dis die eerste keer dat ek hoor van ‘n chinese boer, ons moet seker gewoond raak daaraan.

Timjan ·

By Gauteng is daar al woonbuurte wat oorwegend chinees is.

Meneer ·

Seker, Willem? Dit sal die vuurwapen en selfoon verklaar wat weg is?

Anoniem ·

Lafaards wat so te werk gaan – Dit is ‘n baie baie slegte gebeurtenis want wie kan Jy nou eintlik vertrou ??0⃣

Nico Strydom ·

Dagsê Estelle
Inderdaad. Die berig is reeds gewysig.
Baie dankie
Vriendelike groete
Maroela Media

Henry ·

Ek kan julle wet as iemand gaan opvolg of al die plaas moordenaars nog agter tralies sit sal julle verbaas wees hoeveel van hulle sit nog in die tronk. Hulle word sommer lag lag vry gelaat. Ek dink iemand moet probeer ondersoek in stel op die gebied. Geld wat stom is maak reg wat krom is. Is die ou spreek woord

Wonder ·

So nou kan mens ook nie vertrou as polisie na jou toe aan kom nie, wat nou gedoen, skiet jy maar eers en kyk dan of hulle regtig polisie was?? Dinge raak mal in die land.

Hans ·

Die staat versaak on burgers se basiese reg om nie teen kriminele op te tree nie.

ne ·

Nou as hy voorheen hom al voorgedoen het as ‘n polisie offisier – hoekom is hy dan nog steeds in besit van die klere? Geen wet en orde in SA. Cele sal moet wakker skrik en gou ook.

Sarel ·

Onthou die misdadiger het regte wat jy nie het nie, sou die oorledene met sy wapen gereed iemand nader sal hy gewis aangekla word en n kans staan om sy wapen te verloor. Misdadigers het ten alletye die verassings voordeel en ons wette maak seker dat dit so bly. Die regering en howe sien misdaad as verdeling van rykdom.

wonder ·

Wat van die eienaar wat die plaasbestuurder na die hek laat gaan het?
Het hy nie ook al voorheen met hierdie skurke te doenne gehad nie?
Kon hy nie gevaar sien aankom het nie – daarom dalk die plaasbestuurder na die hek toe laat gaan het?
Ek wonder maar net?

Danie ·

Dis tyd dat die paroolkommissies ernstig ondersoek word. Die betrokke kommissie moet aangekla word dat hul willens en wetens WEER ‘n skurk op parool losgelaat het!!!

jean ·

Geregtigheid het geskied! Alle simpatie aan die Powell familie..baie hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.