HOP-huis en bees ná doodskis-aanranding, sê LUR

Vanaf regs op die foto is Nomsa Mtsweni, burgemeester van die Thembisile Hani Plaaslike Munisipaliteit, Victor Mlotshwa, die man wat in ʼn doodskis gedruk is, Lonea Mlotshwa, Victor se ma, en Sello Matshoga, streekswoordvoerder van die ANC vir Nkangala, in die hooggeregshof in Middelburg, Mpumalanga. Foto: ANA

Die Mpumalanga-regering sal ʼn regeringshuis aan die plaaswerker Victor Mlotshwa oorhandig en ʼn bees by sy nuwe huis slag as deel van ʼn rituele reiniging nadat hy aangerand en in ʼn doodskis gedwing is.

Speedy Mashilo, LUR vir menslike nedersettings in Mpumalanga, het gesê hy het ʼn plig om die mense te dien, en hy sal seker maak dat hy dié taak uitvoer. “Ons nooi almal uit om die bees te kom slag as deel van die reiniging,” het hy gesê.

Willem Oosthuizen en Theo Martins Jackson is Vrydag deur regter Sheila Mphahlele in die Middelburg-hooggeregshof tot onderskeidelik 11 jaar en 14 jaar tronkstraf gevonnis in verband met die saak.

Mashilo, wat ook die Nkangala-streeksvoorsitter van die ANC is, het talle ANC-lede buite die hooggeregshofsitting by die Middelburg-landdroshof toegespreek.

Oosthuizen en Jackson is vroeër skuldig bevind op ʼn aantal aanklagte, insluitend die aanranding op Mlotshwa en nog ʼn plaasarbeider, Dalton Sithole, ontvoering en poging tot moord. Hulle is laat verlede jaar in hegtenis geneem nadat ʼn video op sosialemediaplatforms versprei is waar Mlotshwa in ʼn doodskis gedwing word.

Oosthuizen is tot 16 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar van die vonnis vir agt jaar opgeskort is. Dit beteken dat Oosthuizen effektief tot 11 jaar tronkstraf gevonnis is.

Sy het Jackson tot 19 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar van die vonnis vir agt jaar opgeskort is. Dit beteken dat Jackson effektief tot 14 jaar tronkstraf gevonnis is.

“Die ergste ding wat die beskuldigdes gedoen het, was om ʼn lewende persoon in ʼn doodskis te dwing,” het regter Mphahlele gesê voor sy die vonnisse opgelê het. “Mens kan jou net indink deur wat pyn en trauma die klaer [Mlotshwa] is. Die bewyse toon dat die gedrag van die beskuldigdes swaarder weeg as die versagtende faktore.”

Sy het hul aansoek om verlof tot appèl teen die vonnisse afgekeur.

Die HOP-huis sal in Rockdale aan Mlotshwa se familie oorhandig word, het Mashilo bygevoeg.

Mlotshwa het saam met ANC-lede buite die hof gesing en gedans ná die vonnisoplegging. “Ek voel nou baie beter. Ek is bly die saak het uiteindelik geëindig en geregtigheid het geseëvier. Dankie vir almal wat my ondersteun het.”

Oosthuizen se vrou, Chene, het net ná die vonnisoplegging in die hof gehuil.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-videosaak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.