Hope kansellasies ná skietvoorval naby Kruger

Só lyk die gesin se motor nadat die verdagtes skote op hulle afgevuur het. (Foto: Facebook)

Groepe oorsese toeriste wat van plan was om in die Krugerwildtuin ʼn draai te maak, het hul toere na hierdie wêreldbekende gebied begin kanselleer nadat ʼn ma en haar twee kinders voorverlede week naby die Numbi-hek deur gewapende mans aangeval is.

ʼn Aantal luukse lodges het na raming R1 miljoen se inkomste verloor weens toeriste wat op ʼn streep hul verblyf in en om die wildtuin gekanselleer het.

Maroela Media het vroeër berig dat Melani de Beer (39) en haar twee kinders deur vermeende kapers voorgekeer is nadat hulle die Numbi-hek verlaat het. Die mans het tussen 12 en 15 skote op hul gesinsmotor afgevuur en De Beer se tienerdogter in die been getref.

Die 14-jarige meisie het ʼn operasie ondergaan en is uit die hospitaal ontslaan. Sy en haar gesin het na Pretoria toe teruggekeer.

Linda Grimbeek, hoof van die Kruger-Laeveld sakekamer, het intussen aan Maroela Media gesê dat dié voorval nie net ʼn verwoestende uitwerking op die plaaslike toerismebedryf gehad het nie, maar ook op die hele land se toerismebedryf.

“Ek het talle oproepe van eienaars in die toerismebedryf ontvang dat oorsese toergroepe glad nie meer hul toere na Suid-Afrika gaan onderneem nie,” sê sy.

“Daar is ʼn groep van Engeland wat deur verskeie Afrika-lande toer wat die Suid-Afrikaanse deel van die toer gekanselleer het weens die voorval.”

Sy meen dat internasionale toeriste veral skrik op die lyf gejaag is omdat hulle besluite neem op grond van die persepsie wat sulke voorvalle laat, eerder as die realiteit daarvan.

“Toeriste hoor dikwels net van die verskriklikste goed wat in ʼn gebied gebeur en dit skrik hulle maklik af.”

Ten spyte van die gebied se mees onlangse terugslag, sê Grimbeek sakeondernemings in en om die Krugerwildtuin het goeie plaaslike toerismesyfers oor die Desember-vakansie gesien.

“Ons was regtig vol bespreek die afgelope tyd en dit het begin opmaak vir die tekort aan toeriste tydens die pandemie – hoewel die bedryf nog nie ten volle herstel het nie.”

Twee weke ná die gepoogde kapingsvoorval is die aanvallers wat betrokke was nog nie in hegtenis geneem nie.

Die polisie het intussen ʼn klopjag van stapel gestuur in ʼn poging om die betrokkenes vas te trek en patrolleer sedertdien die paaie naby die wildtuin.

Grimbeek sê verskeie toeroperateurs het haar laat weet dat hulle gereeld polisie op die paaie sien en dat dit heelwat gemoedsrus vir toeriste bring.

“Ek het onlangs die nuwe provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Semakaleng Manamela, ontmoet en is baie beïndruk met haar,” sê Grimbeek.

“Sy is ʼn ystervrou en ek is oortuig daarvan dat sy alles in haar vermoë doen om die saak op te los en die area te beveilig.”

SANParke het lede van die gemeenskap ook gevra om aktief betrokke te raak in die beskerming van toeriste wat die provinsie besoek.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Blameer die huidigge slapgat regering wat in ontkenning leef.

Dries

En Ramaphosa en Cele is doodstil

Madz

Ja nee…. SO maak die “Crime” die land en sy mense (EN besighede!) dood – en die regering se grootste bekommernis is of hulle die volgende verkiesing steeds sal kan wen.

Shakespeare

Suid Afrika en “for that matter” Afrika se agteruitgang, korrupsie, onbevoegdheid en barbarisme sal nooit gekeer kan word nie. Net jammer al die blankes kan nie bekostig om die vervloeking te verlaat nie. Ons gaan saam ondergaan.

Harley Davidson

So sink die polisie se onvermoë om misdaad onder beheer te bring die land se ekonomiese vooruitgang.