Hope nuwe kykgenot met Disney+ se stromingsdiens

Disney+ se stromingsdiens beloof hope vermaak. (Foto: Unsplash)

Hope vermaak wag op jonger kykers – en almal anders met ʼn voorliefde vir animasieflieks – danksy Disney+, ʼn nuwe stromingsdiens van The Walt Disney Company wat van Mei vanjaar in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Disney+ sal eksklusiewe inhoud en duisende episodes en flieks van Disney, Pixar, Marvel, Star Ward, National Geographic en algemene vermaak van Star beskikbaar stel.

Die kanaal word bestempel as die stromingstuiste van sommige van die wêreld se mees geliefde verhale.

Intekenare sal toegang hê tot onder meer Star Wars The Book of Boba Fett en The Mandalorian van vervaardiger en skrywer Jon Favreau. Die Marvel Studios-reeks Moon Knight met Oscar Isaac en Steven Grant, wat handel oor ʼn bedeesde geskenkwinkelwerker wat geteister word deur floutes en herinneringe aan ʼn alternatiewe lewe, sal ook beskikbaar wees.

Die Oscar-benoemde Shang-Chi and the Legend of the Ten Rings, met Simu Liu en Askwafina, sal ook tydens die bekendstelling beskikbaar wees.

Nog gewilde verhale sluit in die Oscar-benoemde Luca en Oscar-bekroonde Encanto, wat die verhaal van ʼn buitegewone familie genaamd die Madrigals vertel.

Daar kan ook uitgesien word na die Oscar-bekroonde Cruella, met Emma Stone in die rol van die legendariese – en berugte – Cruella de Vil.

Ou gunstelinge soos The Simpsons, Queens en The Kardashians is ook op die spyskaart, terwyl National Geographic onder meer sorg vir twee seisoene van The World According To Jeff Goldblum.

In dié reeks van 12 episodes (daar is twee seisoene) neem die bekende akteur kykers op ʼn vermaaklike en insiggewende reis waarin hy ʼn geheim oor ʼn verraderlik bekende onderwerp ontrafel om verstommende verbintenisse en die fassinerende wetenskap en geskiedenis daaragter te deel.

  • Die stromingsdiens word op 18 Mei bekend gestel en beloop R119,00 per maand, of R1 190 vir ʼn jaarlikse inskrywing. Tot vier gelyktydige stromings is moontlik en onbeperkte inhoud kan op tot tien verskillende toestelle afgelaai word. Die diens maak voorsiening vir sewe afsonderlike profiele en ouers kan hul kinders se profiele só opstel dat dit heeltemal ouderdomgepas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kaptein67 ·

Uiteindelik… Nou kan ek ontslaaraak van DSTV, Yippeee.

Jean ·

SABC sien weer geld met Disney met SABC se nuwe beplande lisensies

Oros Soros ·

Jammer dat hulle kampvegters vir Wokeness geword het. As sodanig sal ek nie naby hulle kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.