Hopeloos te min nierkenners in SA

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash/Robina Weermeijer)

ʼn Nuwe studie van die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat Suid-Afrika dringend meer nierkundiges, oftewel nefroloë, benodig om die toename in niersiektes onder pasiënte in die land te hanteer.

Die navorsing het onder meer getoon dat daar teen 2030 nie genoeg nefroloë in die land sal wees om die werkslading te hanteer nie en pasiënte waarskynlik hieronder gaan ly.

ʼn Groep navorsers aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het neigings in die land se nefrologie-werksmag vanaf 2002 tot 2017 ontleed en dit as grondslag gebruik om te voorspel tot watter mate dié werksmag in 2030 gaan toeneem.

Die bevindinge van die studie het onlangs in die portuurbeoordeelde vaktydskrif PLoS ONE verskyn.

Prof. Razeen Davids, senior skrywer en hoof van die US se afdeling nefrologie, het die studie saam met sy kollegas Dominic Kumashie, Ritika Tiwari, Muhammed Hassen en Usuf Chikte gedoen.

“ʼn Nefrologie-werksmag wat behoorlik funksioneer, is uiters belangrik om die gehalte van die behandeling vir nierverwante siektes in die land te verbeter. Ongelukkig het die navorsing getoon dat daar nie genoeg nefroloë in veral die openbare sektor en sekere provinsies is nie,” het Davids gesê.

Die navorsers wys daarop dat hoewel die aantal nefroloë bykans verdriedubbel het van 53 in 2002 tot 141 in 2017, is daar tans slegs 2,5 van dié spesialiste per miljoen lede van die bevolking (pmp) wat praktiseer. Dit is glo ver onder die mediaan van 10,8 nefroloë pmp vir eerstewêreldlande.

“Teen die huidige opleidingskoers van agt nefroloë per jaar en met 71 nefroloë wat na verwagting die beroep binne die volgende 12 jaar gaan verlaat, is die voorspelling dat daar in 2030 slegs 2,6 pmp (174) nefroloë sal wees.

“Dit sal nie genoeg spesialiste wees om die stygende las van niersiektes in die land te hanteer nie. Dit sal ook die werkslading van aktiewe nefroloë verhoog, wat tot uitputting en vroeë aftrede kan lei. Dit kan pasiënte met niersiektes se gehalte van sorg nadelig beïnvloed.”

Volgens die navorsers word die stand van sake verder vererger deur die ongelyke verspreiding van nefroloë in die gesondheidsektor.

Altesame 78 spesialiste werk in die private sektor. Hulle behandel 16% van die bevolking wat mediesefondsdekking het, terwyl die oorblywende 63 die 84% van die bevolking behandel wat op openbare gesondheidsorg staatmaak.

Dié ongelykheid is glo weens die tekort aan poste vir nuut gekwalifiseerde nefroloë in die openbare sektor.

“Nefroloë in die openbare sektor is verantwoordelik vir alle nefrologie-opleiding. Die onvermoë om nefroloë hier te behou, voorspel niks goeds vir die toekoms van die nefrologie-werksmag in hierdie sektor of vir hul opleidingskapasiteit nie.”

Wat die aantal geregistreerde nefroloë per provinsie in 2017 betref, toon die navorsingstudie dat Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal die meeste van dié kundiges het, gevolg deur die Vrystaat, Limpopo en die Noord-Kaap.

Ten tyde van die studie was daar geen nierkundiges in Noordwes en Mpumalanga nie.

Met ʼn blik op 2030 wys die navorsers daarop dat ʼn aansienlike styging in die aantal nefroloë wat opgelei word, nodig is indien die land interprovinsiale ongelykhede wil verminder.

Om selfs net beskeie teikens na te streef, beteken dat tussen 14 en 16 nefroloë per jaar gelewer sal moet word, pleks van die huidige agt.

“Ons het meer gefinansierde opleidingsposte en poste vir gekwalifiseerde nefroloë in die openbare sektor nodig. Indien hierdie stappe gedoen word, is daar ʼn realistiese kans om die provinsiale ongelykhede doeltreffend te pak en meer nefroloë op te lewer,” het Davids gesê.

“Op die korte duur kan die aftree-ouderdom vir nefroloë in die openbare sektor verhoog word of afgetrede nefroloë kan op ʼn deeltydse grondslag behou word om met dienslewering, opleiding en navorsing te help.”

Die navorsers het in hul studie ʼn beroep op die regering en opleidingsinstellings gedoen om  moontlike vennootskappe met die korporatiewe sektor te sluit ten einde meer geld vir opleiding te kry.

Hulle sê dat die lewering van omvangryke niersorg ʼn multidissiplinêre span vereis, en dat navorsing gedoen moet word oor kwessies betreffende menslike hulpbronne wat ander kategorieë van mediese praktisyns, wat deel is van hierdie span, raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Althes

Daar sal indringend daarna gekyk moet word. Ek hoop regtig dat meer nefraloë in die land moet wees. Dis skokkend hoe ver mense moet reis om die spesialiste te konsulteer.

AW

Daar is verskeie redes waarom ons as mens nie organe wil skenk nie!

Tog dan ook… Wat is Liefde… Wat is Naaste Liefde….

Hartseer om te sê, dat die mens nie verder dink as wat hul Neus KORT Is !!!

Maar dis nou maar die mens.

Casper

AW,dit gaan oor nierkenners en nie nierskenkers nie.Kyk wie het die studie gedoen.Ons beste spesialiste is in die buiteland,dit sluit kardioloeë Nefroloë en andere in.Ons moet die departement van gesondheid en die ANC bedank vir regstellende aksie en BEEE EEE EEE..

Kokerboom

Dat hier ‘n uiters dringende behoefte is is ‘n gegewe. Dankie aan navorsers.
Dat iets van die nie funksionerende regering verwag word om te presteer is om spoke te jaag. Vergeet dit. Daar sal NOOIT geld of wil of vermoeë wees om iets te doen. Laat die privaatsektor inspring hande vat en die probleem oplos. B uitelandse beleggers ‘n opsie. LAT ONS ONAFHANKLIK VAN DIE PATETIESE BBEEE reging word!

Casper

Voer Kubane in ANC.