Hordes TB-buffels gaan uitgesit word

Foto: Safarinow.com

Die Krugerwildtuin gaan van Dinsdag af begin om hordes buffels wat beestuberkulose het, uit te sit.

Volgens die wildtuin se Veterinary Wildlife Service is dit die finale stap van hul Bovine Tuberculosis (BTB)-navorsingsprojek, wat in 2008 van stapel gestuur is, om die omvang van beestuberkulose op die park se buffels te bepaal.

Die wildtuin se skakelafdeling sê in ʼn verklaring sowat 125 tot 150 buffels van die 200 wat bestudeer en gemonitor is, gaan uitgesit word. Hul karkasse gaan in nadoodse ondersoeke gebruik word. Dié proses sal navorsers in staat stel om die status en vordering van die siekte te bepaal.

BTB is ‘n uitheemse siekte en het in die 1950’s vir die eerste keer in die park uitgebreek nadat buffels by die wildtuin se grens in aanraking gekom het met beeste wat daarmee besmet was. Volgens die wildtuin se skakelafdeling is dié siekte hoogs aansteeklik en hou dit ’n groot bedreiging vir die wildtuin se biodiversiteit in.

Die proses sal by Laer Sabie en Krokodilbrug plaasvind en sal tot middel Augustus voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.