Hospersa besorg oor dreigende staking

Argieffoto (Foto: Jossué Trejo/Pixabay)

Hospersa, ʼn vakbond wat meer as 60 000 gesondheidswerkers in die staat- en privaat gesondheidsorgbedryf verteenwoordig, het sy kommer aangedui oor toenemende ontevredenheid onder gesondheidswerkers.

Sy lede wil glo saam met ander gesondheidswerkers saamspan en dreig om te staak omdat die regering nie hul probleme aanspreek nie. “Die gesondheidswerkers is ontevrede dat hulle geïgnoreer is toe pres. Cyril Ramaphosa sy R500 miljard-stimuluspakket aangekondig het,” het Kevin Halama, woordvoerder van Hospersa, in ʼn verklaring gesê.

“Die vakbond is besorg dat ontevrede gesondheidswerkers hul dienste sal opskort tensy die regering hul eise aanspreek.”

Ramaphosa het Dinsdagaand tydens sy toespraak nie enige melding gemaak van ʼn begroting vir ʼn prestasiebonus vir gesondheidswerkers ná staatsamptenare in April nie enige salarisverhoging, kragtens ʼn kollektiewe ooreenkoms wat drie jaar gelede onderteken is, ontvang het nie.

“Hospersa is besorg oor die toenemende ontevredenheid onder gesondheidswerkers en moontlike staking,” het Noel Desfontaines, algemene sekretaris van Hospersa, gesê. “Ons het verskeie klagtes van ons lede ontvang dat die regering nie enige waardering toon vir hul pogings tydens die stryd teen Covid-19 nie. Ons lede het die president veroordeel dat hy nie enige verligting aangekondig het vir gesondheidswerkers in sy R500 miljard-stimuluspakket nie. Hulle oorweeg nou hulle opsies, wat staking insluit.”

Hospersa het op 9 April belastinguitsluiting versoek vir alle kategorieë gesondheidswerkers tydens die stryd teen Covid-19. “Ons het die werknemer versoek om veiliger vervoer vir gesondheidswerkers te verseker tydens die pandemie, aangesien meeste werknemers in die staat- en privaatsektor van openbare vervoer gebruik maak. Ons het ook versoek dat gesondheidswerkers gereeld getoets moet word; dat personeel gereeld skofte moet ruil; en beradingsfasiliteite versoek vir personeel wat onder angstige omstandighede te midde van die dodelike virus moet werk. Ons eise het egter op dowe ore geval,” het Desfontaines bygevoeg.

“Dit is moeilik vir lede om te begryp, dat die regering ʼn R500 miljard-pakket kan aankondig, skaars ʼn maand ná die werkgewer aangedui het hy is in ʼn finansiële verknorsing en kan nie voldoen aan die onderhandelde kollektiewe ooreenkoms nie. Dié minagting van die voetsoldate in die stryd teen Covid-19 is olie op ʼn vuur wat reeds brand. Ons waarsku die regering om na die gesondheidswerkers se eise te luister.”

Desfontaines het gesê ʼn staking in die gesondheidsbedryf is nie ideaal nie en word ook nie deur die vakbond aangemoedig nie, maar sy lede het die reg om hul griewe te lug teen hul werkgewer en ondersteuning van hul vakbond te eis. “Ons sal hulle ondersteun in hul optrede, maar ons hou ook vol dat die regering moet ag slaan op ons kommer oor die broeiende spanning wat die land se stryd teen Covid-19 kan verhinder.”

Maroela Media het vroeër berig Cosatu-ondersteunende staatsdiensvakbonde het amptelik ʼn dispuut met die staat as werkgewer verklaar omdat die skriftelike drie jaar- salarisooreenkoms van 2018 nie geïmplementeer word nie.

ʼn Konsiliasieverhoor kragtens arbeidswetgewing is nou vir Dinsdag (28 April) belê om die kwessie te probeer bylê, maar die kanse op ʼn ooreenkoms lyk skraal. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PieterP ·

Maar my fffffoeitog. Eerstens is julle ‘n essensiële diens, onthou julle dit.? Ywredens as julle skofte nie geruil word en toetsing nie gedoen word nie, het julle al die griewe prosedure gevolg? Nee daar is mos geld gehoor en onmiddelik ttek die hande bak. Ek is so dik vir vakbonde wat die kitaar wil slaan hou arbeidswette en raak ontslae van die verpesting henaamd vakbonde.
# unionsmustfall

Sarel ·

Alle krediey aan Gesondheidwerkers watvonder moeilike en soms haglike omstandighede werk maar is ditcal taal.wat vakbonde verstaan . Stask…. wat het die Vakbonde gedoen en watter hulp was aan lede verskaf? Terwyl ander instansies hulp verleen en almal die krisis probeer oorleef skree Vakbonde Staking. Sonder dat die huidige kruppelende ekonomie in ag geneem word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.