Hospitaal nou ook geraak deur Heidelberg-watertekort

Heidelberg-hospitaal. (Foto: Facebook/ SANDF)

Die voortslepende watertekorte in Heidelberg in Gauteng het nou ook veroorsaak dat dienste in dié dorp se hospitaal in die slag bly.

Die Gautengse departement van gesondheid het lede van die publiek Vrydag ingelig dat bepaalde dienste nie by dié hospitaal gelewer kan word nie weens ʼn probleem met watervoorsiening deur die Lesedi-munisipaliteit en Rand Water.

Dele van die dorp het al vir twee weke nie lopende water nie weens Rand Water se pompkapasiteit wat nie water aan al Gauteng se reservoirs kan voorsien nie.

Volgens die departement ervaar die hospitaal reeds sedert Sondag probleme met watertoevoer en sal slegs noodgevalle by die hospitaal aandag geniet. “Die munisipaliteit, weermag en Orange Rivier Tankers maak sedert Sondag seker dat die hospitaal se waterreservior vol bly, maar hierdie maatreëls is nie meer voldoende om te verseker dat die hospitaal alle dienste kan volhou nie.”

Pasiënte word intussen aangeraai om by plaaslike klinieke aan te klop vir mediese dienste wat nie dringend van aard is nie. Gevalle wat ʼn hoër vlak van mediese versorging benodig, sal na ander hospitale in die omgewing verwys word.

Die VF Plus het intussen sy misnoeë oor die watersituasie in die Lesedi-munisipaliteit uitgespreek. Dié munisipaliteit bedien Devon, Heidelberg, Nigel en Vischkuil.

“Die VF Plus het reeds Gauteng se wetgewerkomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) gevra om in te gryp,” sê Mari Boshoff, VF Plus-raadslid vir die betrokke munisipaliteit. “Inwoners van Lesedi word nou gestraf vir Rand Water se onvermoë om ʼn diens aan die munisipaliteit te lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.