Hospitaal ontruim toe vloer te warm word

Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in Noordwes (Foto: Twitter/@NorthWestDOH via ANA)

Pasiënte van die Thusong-distrikshospitaal in Noordwes is Vrydag noodgedwonge na ander mediese fasiliteite oorgeplaas nadat die vloer van dié hospitaal net al hoe warmer en warmer geword het.

Die departement van gesondheid het gesê die drastiese stap is gedoen omdat enige ongewone verskynsel aan die hospitaal se infrastruktuur rede is tot kommer.

Die onbeplande ontruiming kom ná oproepe verlede jaar dat die hospitaal permanent gesluit moet word omdat die gebou glo ʼn risiko vir personeel én die gemeenskap inhou. Dit is weens die aard van die dolomietiese grond waarop die hospitaal gebou is.

Die LUR vir gesondheid in Noordwes, Madoda Sambatha, sê ʼn aantal individue het Vrydag gekla dat die vloer van die hospitaal se apteek baie warm is.

“Dit is aan die hospitaalbestuur gerapporteer en die hele gebou se kragtoevoer is afgeskakel om vas te stel of die hitte weens ondervloerse elektriese drade is,” sê hy.

“Ná ʼn uur het die temperatuur van die vloer egter bly toeneem.”

As ʼn voorsorgmaatreël het die bestuur al die pasiënte en personeel laat verwyder, waarna die pasiënte na plaaslike hospitale oorgeplaas is.

Sommige pasiënte is na die Itsoseng gemeenskapgesondheidsentrum oorgeplaas, terwyl ander nou in die Gelukspan-hospitaal in Mahikeng en Die Generaal De la Rey-hospitaal in Lichtenburg versorg word.

“Ander farmaseutiese produkte, insluitend suurstof, is na die Generaal De la Rey-hospitaal en Itsoseng gemeenskapgesondheidsentrum verskuif, asook pasiënte se rekords.”

Sambatha het egter die familielede verseker dat die verskuiwing gedoen is omdat die departement die pasiënte se belange op die hart dra.

“Ons weet dat die Thusong-hospitaal op dolomietiese grond gebou is, wat baie krake in die mure veroorsaak. Die toestand van die infrastruktuur is tans beroerd, ondanks pogings om die infrastruktuur in stand te hou,” sê hy.

“Ons moes dus beslissend optree toe ons ongewone verskynsels aan die hospitaal se infrastruktuur waargeneem het.”

Die oorsaak van die warm vloer is nog nie bekend nie en dit blyk asof hierdie verskynsel steeds voortduur.

Sambatha het reeds in Mei verlede jaar met vakbonde, tradisionele leiers en politici vergader oor die permanente sluiting van die Thusong-distrikshospitaal. Juis omdat die hospitaal glo ʼn risiko vir die personeel én pasiënte inhou.

Indien die hospitaal nie meer gebruik kan word nie, sal sy dienste tussen die Generaal De la Rey-hospitaal en Itsoseng-gemeenskapgesondheidsentrum verdeel word. Die Itsoseng-gemeenskapgesondheidsentrum sal dan die distrikshospitaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

minnie muis ·

nou begin by die tenders… argitek ,ontwikkelaar… ….. hul moes geweet het …. maar nog n projek deur kader tenders wat misluk ….. tipies

Dorry ·

Thusong District Hospital was built in 1968, it provided health services to the communities who could not afford travelling cost to General Delarey Hospital in Lichtenburg to access health services.

Pablo ·

Apartheid se skuld. As die ANC dit gebou het was daar geen probleem nie.

Di ·

So verval die een na die ander plek onder die korrupte ANC kaders se bewind. NIKS word mos in stand gehou nie, als word net verwoes en weggedra. Hulle besef net nie dat dit “our people” is wat die meeste gaan ly onder hierdie useless regering nie

Anel ·

Dalj die begin van ‘n vulkaan? Grappie! Dis al van Mei verlede jaar aan die gang en niks is gedoen nie. Wat ‘n korrupte spul.

Mariana ·

En daar gaan ons alweer. Groot geld tekorte, lanklaas iets gehad om weg te dra, ai so voorspelbaar.

Zilla ·

Vir al die slim mense (soos ingeneurs): Wat kan dalk die oorsaak wees hiervan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.