Hospitaal-ontvoering: Ooreenkoms bereik

Die Grootte Schuur-hospitaal. Foto: Google Maps

Die Grootte Schuur-hospitaal. Foto: Google Maps

Die biologiese ouers van ʼn meisie wat 17 jaar gelede uit ʼn Kaapse hospitaal ontvoer is, het tot ʼn vergelyk gekom met die gesin wat haar grootgemaak het.

Die Sentrum vir Kinderreg het in ʼn verklaring gesê die ooreenkoms weerspieël wat die tiener wil hê in terme van besoeke, verjaarsdae en spesiale geleenthede. Die inhoud van die ooreenkoms sal nie openbaar gemaak word nie.

Die 17-jarige meisie het aangedui dat sy ʼn normale lewe uit die openbare oog soek. “Sy wil graag aangaan met haar lewe, verhoudings handhaaf met haar vriende en familie sowel as verhoudings opbou met haar biologiese familie,” het die sentrum gesê.

Die meisie is op 30 April 1997 kort ná haar geboorte by die Groote Schuur-hospitaal ontvoer terwyl haar ma geslaap het. Die vrou wat haar glo ontvoer het, mag nie geïdentifiseer word nie, aangesien die kind steeds as minderjarig beskou word en beskerm moet word.

Die vrou het volgens berigte al twee miskrame gehad en daarom glo die kind gevat. Sy en haar man het die kind as hul eie grootgemaak. Sy het Vrydag in die Kaapse landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering en is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Sy moet weer op 29 Mei in die hof verskyn.

Die meisie is gevind nadat haar biologiese ouers se tweede dogter, wat vier jaar ná haar ontvoering gebore is, vanjaar met gr. 8 begin het by ʼn skool in Kaapstad. Klasmaats het vir die meisie gesê daar is ʼn matriekmeisie wat presies soos sy lyk.

Die twee meisies het vriende geword en die jonger meisie se pa het voorgegee dat hy sy dogter se nuwe vriendin wil ontmoet. Die ooreenkoms tussen die twee kinders was merkwaardig en die pa het die polisie genader.

Die polisie het die meisie se “ouers” ondervra, maar kon, met die inligting wat aan hulle verskaf is, geen inligting oor haar geboorte opspoor nie. Die polisie het toestemming gekry om DNS-toetse te doen en het bevestig sy is die meisie wat 17 jaar gelede ontvoer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.