Hospitale, skole, polisie se ligte bly aan, gelas hof

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Alle openbare hospitale en klinieke, skole en polisiestasies in Suid-Afrika moet binne die volgende 60 dae van beurtkrag vrygestel word, het die Pretoriase hooggeregshof Vrydag gelas.

Die hof het ten gunste van 19 politieke partye, organisasies en vakbonde beslis nadat hulle hul in Maart vanjaar na die hooggeregshof gewend het in die hoop dat die hof ’n einde aan beurtkrag kan bring.

Dié uitspraak is egter slegs op een deel van die aansoek van toepassing.

In deel B van die aansoek versoek die betrokke politieke partye, organisasies en vakbonde dat beurtkrag as ongrondwetlik verklaar word. Deel B van die aansoek sal egter eers in September aangehoor word.

Wat deel A van die aansoek betref, het die hof wel bevind dat die “die staat fundamentele grondwetlike regte skend vanweë die mislukking van staatsorgane en dat die gepaste verligting geregverdig is”.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, word nou verplig om “binne 60 dae van die datum van hierdie bevel alle redelike stappe te doen” om te verseker dat daar voldoende voorraad of opwekking van elektrisiteit is “om enige onderbreking van toevoer as gevolg van beurtkrag te voorkom”.

Die regering moet ook die regskoste van ál 19 applikante in die saak betaal.

Die politieke partye, organisasies en vakbonde het uiteraard Vrydag die uitspraak verwelkom.

“Na byna 15 jaar van beurtkrag is dit duidelik dat die ANC-regering nie die wil het om die krisis op te los wat Suid-Afrikaners in die duister laat nie. Ons is oortuig daarvan dat sonder dringende ingryping deur ons howe, die regering sal voortgaan om die gevolglike krisis onverpoos te laat voortduur,” sê ActionSA, een van die applikante in die saak.

Numsa, ook ’n applikant, sê die uitspraak is ’n oorwinning vir die hele land.

Numsa het die oorwinning opgedra aan die onafhanklike energiekenner Ted Blom wat verlede week in die ouderdom van 64 oorlede is.

“Blom het ’n belangrike rol gespeel deur ons by te staan met die voorbereiding vir hierdie saak van nasionale belang,” sê die vakbond. “Ons is innig dankbaar vir al die wysheid en ontledings wat hy met ons gedeel het.

“Hy kan rus wetende dat sy naam in die annale van die geskiedenis opgeteken is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.