‘Hou aan dans!’ sê Kelly Clarkson vir Klein Kwagga

Mercia en Klein Kwagga se reaksie toe Kelly die gesin met $1000 bederf het.(Foto: Skermgreep/YouTube/The Kelly Clarkson Show)

“Dít is die kosbaarste ding ooit!”

Só het die Amerikaanse sanger en televisiepersoonlikheid Kelly Clarkson die nou bekende danspassies van Dirkco Jansen van Nieuwenhuizen, beter bekend as Klein Kwagga, vandeesweek op haar kletsprogram beskryf.

Die agtjarige en sy ma, Merci, het via ʼn kort aanlyn onderhoud op Clarkson se program verskyn as deel van haar What I’m Liking-insetsel.

Hier wys Kelly watter onlangse sosialemedia-oomblikke haar hartsnare geroer of laat lag het.

Die skattige sewejarige van Mpumalanga het verlede jaar harte wêreldwyd gesteel toe sy danspassies op die ritme van Bernice West se oorwurmtreffer “Lyfie” soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het.

Sy “Lyfie”-video, wat by sy ousus Elizma (12) se dansskooloptrede opgeneem is, is intussen selfs deur Hollywood‑bekendes soos die Oscar-wenner Viola Davis van How to Get Away with Murder-faam op sosiale media gedeel.

“Kwagga, jy het geen idee hoeveel vreugde jy vir my gebring het nie. Jy sou beste maatjies met my seuntjie kon wees,” het Kelly aan Dirkco gesê.

Op die vraag waarom hy op die verhoog by sy ousus se danskonsert beland het, het die skattige haasbekkie in Engels verduidelik dat die dansskoolleerders se sibbe ʼn stukkie sjokolade belowe is as hulle ook wys hoe hulle heupies swaai.

“Dit is hoe ons hom ken, maar ons is nie heeltemal seker hoe of waar hy party van daardie bewegings geleer het nie,” het Merci oor Kwagga se danspassies geskerts.

Kelly, self ʼn ma van twee, het saam geterg dat haar eie dogtertjie al met eienaardige danspassies gespog het.

“Jy is nog my What I’m Liking-gunsteling-oomblik ooit, jy is fantasties. Hou aan dans!”

Die klein TikTok-sensasie is ook op die program met $1 000 (nagenoeg R18 000) kontant verras.

Dora-Mari Bosch van BW Models, wat tans as Dirkco se agent optree, het onlangs aan Maroela Media gesê dat die Jansen van Nieuwenhuizen-gesin daarop ingestel is om Dirkco te beskerm en seker te maak dat alle aspekte van dié sosialemedia-sukses vir hom pret is.

“Hy besef nie eintlik eens wat al hierdie bekendheid is nie. As jy hom vra wat hy daarvan dink, gee hy net ʼn skaam laggie. Sy ouers sal boonop nie toelaat dat hy grootkop kry nie, hy sal altyd net ʼn gewone plaaskind bly.”

Kyk Kwagga se insetsel op The Kelly Clarkson Show hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Martie ·

Hierdie seuntjie moet nou skool toe gaan en vergeet van passies maak. Dit raak vervelig.

Koen ·

Dit raak afgesaag. Die arme kind word nou misbruik. Almal wil seker nou ‘n geldtjie maak.

george ·

O nee liewe Martie, jy mag maar ophou. Daai passies was n ligpunt vir baie van ons, in hierdie bitter tye waarin ons leef….. dit is rerig wonderlik om so iets te sien. Onskuldige kinders wat nog kan dans oor dit lekker is. En as Internasionele sterre mal is oor hom, dan beteken dit sy sterretjie skyn blink. Moenie dit doen nie dame, jy klink gal bitter……

Duck ·

Ek stem saam, dit raak nou erg vervelig, is daar nie ordentlike nuus om te lees nie? Los nou die laaitie laat hy sy les verder gaan leer by die skool.

Joan ·

Ja, soos ek voorheen ook gemeld het is daar ‘n paar van daardie bewegings wat glad nie pas by sy ouderdom nie. Ek hoop regtig nie dat oor ‘n paar jaar verder hoor ons hy moet geestelike berading of iets derglik ontvang nie.

Leeubekkie ·

George, hou van wat jy sê. Die wat nie daarvan hou nie, moet dit nie kyk nie. Baie maklik!! Hy is te ougat vir woorde.

MJ ·

Kwagga jy is fantasties !!!
Moenie jou steur aan al die suur omies en tannies nie.
Doen jy net jou ding.

Alta Alleman ·

Hou so voort Kwaggatjie. Geniet die lewe en dans elke dag !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.