Hou dié hofsake dop in 2019

Die beskuldigde in die sogenaamde “Dros-verkragtingsaak” in die hof. Foto: Mia Spies/eNuus

Na alle verwagting sal 2019 net so ʼn besige jaar vir die Suid-Afrikaanse howe wees soos wat 2018 was. Talle opspraakwekkende sake wat in 2018 aangehoor is, sal in 2019 voortgesit word.

Hoewel dit onmoontlik is om ál die groot en nuuswaardige hofsake in een berig saam te vat, het Maroela Media gaan kyk na van die grootste hofsake om in 2019 dop te hou.

  1. Die Dros-verkragtingsaak: ʼn 20-jarige man is in September in hegtenis geneem nadat hy na bewering ʼn sewejarige meisie in ʼn Dros-restaurant in Pretoria verkrag het. Die beskuldigde het nog nie op die aanklagte teen hom gepleit nie. Hy is vir psigiatriese waarneming verwys en sal op 15 Januarie weer in die Pretoriase landdroshof verskyn.
  1. Die Coligny-moordsaak: Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) is in Oktober skuldig bevind aan die moord op die 16-jarige Matlhomola Mosweu van Coligny, Noordwes. Doorewaard en Schutte het Mosweu op 20 April 2017 van ʼn bewegende bakkie afgegooi en die seun het weens dié val gesterf. Die vonnisverrigtinge sal op 28 Januarie in die hooggeregshof in Mmabatho begin. 

Die ses mans van Parys in die Vrystaat wat van die moord op twee mans beskuldig word. Foto: Mariné Lourens

  1. Parys-boere: Die saak teen die ses mans van die Parys-distrik in die Vrystaat wat al sedert 2016 sloer, sal in 2019 weer hervat word. Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo en Miela Janse van Vuuren word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba in Januarie 2016. Die verhoor sal van 28 Januarie tot 15 Februarie in die rondgaande hof in Parys plaasvind.
  1. Die Jason Rohde-moordsaak: Die welgestelde sakeman Jason Rohde is vroeër vanjaar skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Susan, in ʼn hotelkamer op die Spier-landgoed op 24 Julie 2016. Rohde is ná ʼn lang verhoor skuldig bevind op aanklagte van moord en regsverydeling. Die hof het Rohde se verweer dat Susan selfmoord gepleeg het, verwerp en beslis dié weergawe van gebeure kan nie moontlik waar wees nie. Die vonnisverrigtinge sal op 18 Februarie in die Wes-Kaapse hooggeregshof voortgesit word.
  1. Stella-koshuismoorde: Die moord op die 17-jarige Sharnelle Hough en 16-jarige Marna Engelbrecht in hul koshuis op Stella, Noordwes, in Mei 2018 het wyd opspraak verwek. Kort nadat die meisies se liggame ontdek is, is Xander Bylsma (19), Sharnelle se ekskêrel, in hegtenis geneem. Bylsma het glo onmiddellik ná sy inhegtenisneming ʼn bekentenis aan die polisie gemaak, maar tydens sy eerste hofverskyning skuld op die aanklagte teen hom ontken. Sy verhoor sal in 2019 begin, hoewel ʼn presiese datum nie tans bekend is nie.

Koos Strydom en een van die Mosambiekse broers tydens ‘n hofverskyning in 2018. Foto: Maroela Media

  1. Die Mooinooi-moordsaak: Die sogenaamde Mooinooi-moordsaak sal op 11 Maart in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word. Koos Strydom (52), sy vrou, Mercia Strydom (22), Alex Modau (36) en twee Mosambiekse broers, onderskeidelik 18 en 25 jaar oud, word aangekla van die moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk in Desember 2017. Die twee Mosambiekers staan ook tereg op aanklag van verkragting en hul name kan daarom nie genoem word voordat hulle gepleit het nie.
  1. Lodge-eienaar van moord aangekla: Herman van Tonder (50), die eienaar van die bekende Mbizi-lodge buite Bela-Bela in Limpopo, is in Januarie vanjaar aangekla van die moord op sy vrou, Elrina. Elrina het reeds in November 2014 gesterf. Die staat voer aan Elrina is verwurg. Van Tonder se verhoor sal van 4 tot 8 Maart in die rondgaande hof in Lephalale plaasvind.
  1. Die moord op Anika Smit: Die geregtelike ondersoek na die moord op Anika Smit is vanjaar in die Pretoria-Noord-landdroshof hervat. Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. André van Wyk (25) is aanvanklik vir die moord vervolg, maar hy is in Augustus verlede jaar vrygelaat nadat die direkteur van openbare vervolging (DOV) besluit het om hom nie verder op die aanklagte te vervolg nie.
  1. Die KFC-aanrandingsaak: Marius Harding, Stephan Nel, DJ van Rooyen, Ockert Muller en Joshua Schultz staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ʼn vuurwapen nadat hulle na bewering in Augustus 2017 vir Jacob en Dudu Sono verbaal en fisiek buite ʼn KFC in Montana, in die noorde van Pretoria, aangerand het. Die vyf het dié jaar by verskeie geleenthede in die hof verskyn, maar steeds sloer die saak. Die saak sal in 2019 hervat word. Die presiese datum sal later bekendgemaak word.

Oudpres. Jacob Zuma in die hof. Foto: ANA

  1. Korrupsie-aanklagte teen Jacob Zuma: Die korrupsiesaak teen oudpres. Jacob Zuma (76) sal in 2019 voortgesit word. Zuma het in 2018 in die beskuldigdebank verskyn op 16 aanklagte wat bedrog, korrupsie en rampokkery insluit. Dit hou verband met 783 betalings wat hy na bewering ontvang het as omkoopgeld om die Franse firma Thales teen ʼn ondersoek na die omstrede multimiljardrand-wapentransaksie te beskerm. Die saak sal op 20 Mei 2019 hervat word.
  1. Vicki Momberg: Vicki Momberg, ʼn eiendomsagent van Johannesburg, het in 2018 geskiedenis gemaak as die eerste persoon in Suid-Afrika wat tronkstraf vir rassisme opgelê is. Momberg is in Maart 2018 drie jaar tronkstraf opgelê nadat sy op video vasgevang is waar sy ʼn polisiebeampte 48 keer die k-woord toesnou. Momberg se appèlaansoek teen haar skuldigbevinding en vonnis sal op 20 Februarie aangehoor word.
  1. Die dagga-hofsaak: Die konstitusionele hof het in September vanjaar ʼn vroeëre uitspraak van die hooggeregshof in Kaapstad gehandhaaf wat bevind het dat die kriminalisering van daggagebruik, -besit en -kweking in die privaatheid van die huis ongrondwetlik is. Die parlement het opdrag gekry om gedeeltes van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel en die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe te wysig sodat dit wettig is om dagga in die privaatheid van jou huis te kweek, besit en gebruik. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) het ten sterkste teen die hofbeslissing uitgevaar en gesê hy sal sy regsverteenwoordigers raadpleeg oor gepaste maniere om die saak weer voor die konstitusionele hof te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.