Hou dié hofsake in 2018 dop

Henri van Breda in die hof. Foto: ANA

Suid-Afrikaanse howe was vanjaar omtrent besig met talle opspraakwekkende sake en verhore regoor die land. Suid-Afrikaners het baie van hierdie sake met ʼn valkoog dopgehou om te sien of geregtigheid wel geskied en verslaggewers moes bontstaan om die publiek oor hierdie veelbesproke sake ingelig te hou.

Talle sake sal in 2018 voortgesit word. Hier is van die nuuswaardigste sake om dop te hou in die nuwe jaar.

1. Die verhoor van die 23-jarige Henri van Breda het vanjaar in die Wes-Kaapse hooggeregshof plaasgevind. Van Breda staan tereg op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg nadat die Van Breda-gesin in Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch met ʼn byl aangeval is. Van Breda ontken skuld op al die aanklagte teen hom.

Die saak sal op 12 Februarie 2018 hervat word wanneer die staat en verdediging geleentheid gegee sal word om hul slotbetoë te lewer.

2. Die hofverrigtinge teen die wêreldbekende Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, is al aan die gang sedert Pistorius op Valentynsdag 2013 sy vriendin, Reeva Steenkamp, in sy huis in Silver Lakes in Pretoria doodgeskiet het. Pistorius se vonnis van ses jaar tronkstraf op aanklag van moord is in November deur die appèlhof in Bloemfontein na 13 jaar en vyf maande verleng nadat die staat teen Pistorius se vonnis geappelleer het.

Pistorius het hom sedertdien tot die konstitusionele hof gewend om teen sy vonnis te appelleer. In die hofdokumente wat Pistorius se regspan in Desember by die konstitusionele hof ingedien het, word daar aangevoer dat die appèlhof “wesenlike feitelike bevindinge van die verhoorhof geminag of geïgnoreer het”. Pistorius voer aan dit is ʼn skending van sy grondwetlike reg tot ʼn regverdige verhoor wat die vonnisgedeelte insluit. Meer oor die aansoek sal in 2018 bekend wees.

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die hof (26 Oktober 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

3. Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko is in 2017 in die hooggeregshof in Port Elizabeth verhoor ná die moord op Panayiotou se vrou, Jayde. Jayde is op die oggend van 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is die volgende dag in ʼn afgeleë gebied naby die Kwanobuhle-township buite Uitenhage gevind. Sy is drie keer geskiet: twee keer in haar rug en een keer in haar kop.

Panayiotou is in November vanjaar tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Jayde, terwyl Nenembe ook ʼn lewenslange vonnis vir moord opgelê is, asook ʼn bykomende 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede. Zolani Sibeko is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir sameswering tot moord.

In Desember het Panayiotou se regspan ʼn aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding by die hooggeregshof ingedien. Dié aansoek sal na verwagting in die nuwe jaar aangehoor word.

4. Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44) is in Desember in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan die moord op die driejarige blondekop dogtertjie, Poppie van der Merwe. Die nuus van Poppie se tragiese dood het in Oktober 2016 aan die lig gekom nadat Poppie op 25 Oktober 2016 na die Brits- provinsiale hospitaal gehaas is waar sy by haar aankoms dood verklaar is. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem en Louisa is op 15 Desember 2016 in verband met die moord in hegtenis geneem.

Die hof het tydens die verhoor gehoor Poppie se dood was ʼn harde hou teen haar kop wat erge bloeding en drukking op die brein veroorsaak het. Voor haar dood het sy oor ʼn tydperk veelvuldige beserings opgedoen wat nie die tipiese beserings is wat kinders van haar ouderdom per ongeluk kan opdoen nie.

Kobus en Louisa is skuldig bevind op aanklag van moord en twee aanklagte van kindermishandeling. Die vonnisverrigtinge sal na verwagting op 28 Februarie 2018 begin.

5. Jason Rohde is in 2017 in die hooggeregshof in die Wes-Kaap verhoor op aanklag dat hy sy vrou, Susan, in Julie 2016 in ’n hotelkamer by die Spier-wynlandgoed vermoor het. Rohde ontken skuld op die aanklagte teen hom en voer aan Susan het selfmoord gepleeg deur haarself in die badkamer van die hotelkamer met die koord van ʼn haartang te hang. Die verhoor sal na verwagting op 5 Februarie 2018 voortgesit word.

Matthew Benson. Foto: Molaole Montsho / ANA

6. Matthew Benson, die seun van ʼn boer in die Mooinooi-omgewing in Noordwes, word aangekla in verband met die beweerde skietery op drie mans op dié plaas. Die staat voer aan Benson het op 2 Augustus skote op Tebogo Ndlovu (24) en twee vriende afgevuur toe hulle op die plaas naby Mooinooi skrootmetaal wou steel. Benson word aangekla van die moord op Ndlovu en van poging tot moord op sy twee vriende, hoewel Ndlovu se liggaam nog nie gevind kon word nie. Die saak sal na verwagting op 26 Januarie 2018 hervat word.

7. Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) van Coligny in Noordwes word aangekla van die moord op Matlhomola Jonas Mosweu (16) van dié dorp. Die staat voer aan Doorewaard en Schutte het Mosweu op 20 April by die Scotland-informele nedersetting vermoor nadat hulle hom daarvan beskuldig het dat hy sonneblomme by hul werkgewer gesteel het. Die mans beweer hulle het Mosweu agter op ʼn bakkie laat klim om hom na die polisiestasie te neem, maar hy het van die bewegende bakkie afgespring en sy nek ernstig beseer. Hy is op pad na die hospitaal dood. Die verhoor sal op 19 Maart 2018 in die hooggeregshof in Mmabatho begin.

8. Die saak van ses mans van Parys in die Vrystaat wat van die moord op twee vermeende plaasaanvallers aangekla word, is vanjaar in die rondgaande hof op die dorp aangehoor. Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren staan tereg vir die moord op Simon Jubeba en Samuel Tjixa. Die staat voer aan die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Die saak sal na verwagting van 2 tot 18 Mei 2018 hervat word.

Willem Oosthuyzen (voor) en Theo Martins Jackson in die hof (Augustus 2017) Foto: Landi Slatter

9. Theo Martins Jackson (29) en Willem Oosthuyzen (28) is vanjaar in die Middelburg-hooggeregshof gevonnis op ʼn reeks aanklagte nadat hulle Victor Mlotshwa aangerand en in ʼn doodskis in gedwing het. ʼn Video van dié opspraakwekkende voorval is later wyd op sosiale media versprei.

Oosthuyzen is in Oktober gevonnis op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering, poging tot moord en intimidasie. Jackson is gevonnis op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering, poging tot moord, intimidasie en dwarsboming van die gereg.

Die twee mans se vonnis is op 9 November vanjaar aangepas en Oosthuyzen en Jackson is onderskeidelik tot effektief 11 jaar en 14 jaar tronkstraf gevonnis. Die twee mans se regspanne het nadat hulle aanvanklik gevonnis is ʼn gesamentlike aansoek om verlof tot appèl by die hooggeregshof ingedien. Dié aansoek is van die hand gewys en Oosthuyzen en Jackson het hulle daarna direk tot die appèlhof gewend. Terugvoer oor die jongste appèlaansoek sal in die nuwe jaar gegee word.

10. André van Wyk wat homself in 2016 aan die polisie oorgegee het in verband met die opspraakwekkende grumoord op Anika Smit, het in Augustus vanjaar gehoor dat die aanklagte teen hom voorlopig teruggetrek is. Smit is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Sedert die aanklagte teen Van Wyk teruggetrek is, is die geregtelike ondersoek na Smit se dood hervat. Die ondersoek is in November uitgestel en die verhoor sal in Maart 2018 voortgesit word.

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

11. Pres. Jacob Zuma het vroeër vandeesmaand ʼn aansoek om verlof tot appèl by die hooggeregshof in Pretoria ingedien teen ʼn hofbeslissing waarin hy beveel word om binne 30 dae ʼn geregtelike kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping aan te stel. Zuma appelleer teen die hof se beslissing dat die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se staatskapingverslag nie hersien moet word nie, asook die hof se beslissing dat hy uit sy sak vir die 2016-hofaansoek in dié verband moet betaal.

Zuma appelleer ook teen die hof se bevel dat hoofregter Mogoeng Mogoeng die voorsitter van die kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping moet aanwys. Terugvoer oor Zuma se aansoek sal in die nuwe jaar gegee word.

12. Die saak teen vyf verdagtes wat aangekla word in verband met die verdwyning van Joey (32) en Anisha (30) van Niekerk van Mooinooi in Noordwes sal in 2018 hervat word. Joey en Anisha is op 10 Desember vanjaar omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Joey se pa is onlangs oorlede. Hulle was op pad na Pretoria om sy roudiens by te woon, maar is sedertdien nie weer gesien nie.

Aaron Sithole (23), Koos Strydom (53), Alex Mudau (36) en ʼn vierde verdagte het reeds op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg verskyn. Die vierde verdagte se naam word weerhou omdat daar tans onsekerheid is of hy minderjarig is of nie. ʼn Vyfde verdagte is op 22 Desember in hegtenis geneem.

Die verdagtes sal weer op 5 Januarie 2018 in die Brits-landdroshof verskyn. Intussen gaan die soektog na die vroue steeds voort.

Vicki Momberg. Foto: ANA.

13. Vicki Momberg (48), die vrou wat skuldig bevind is nadat sy verlede jaar op ʼn videokameragreep vasgevang is waar sy ʼn Johannesburgse polisiekonstabel die k-woord genoem het, sal in 2018 gevonnis word. Momberg was in Februarie 2016 die slagoffer van ʼn gryp-en-spaander-voorval in Northriding in Johannesburg. Sy is kort daarna op beeldmateriaal vasgevang waar sy rassistiese uitlatings teenoor ʼn polisiebeampte maak. Tydens haar vorige hofverskyning het die staat gesê sy het die k-woord 48 keer in die video gebruik. Die saak sal op 26 Januarie 2018 hervat word.

14. Die saak teen Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie, die tweeling wat van terreurmisdade beskuldig word, sal op 20 Februarie 2018 hervat word. Die tweeling is al sedert hul inhegtenisneming in Julie 2016 in aanhouding op aanklag dat hulle terreuraanvalle beplan het op verskeie Joodse instansies in Suid-Afrika asook individue en dat hulle by die terreurgroep Isil wou aansluit. Hulle was 23 jaar oud toe hulle in hegtenis geneem is.

15. Die saak teen Robert McBride, hoof van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) wat daarvan beskuldig word dat hy sy tienerdogter aangerand het, sal einde Februarie 2018 hervat word. McBride staan tereg op aanklagte van kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy is in Augustus op borgtog van R10 000 vrygelaat en ontken skuld op al die aanklagte teen hom.

16. Die hooggeregshof in Pretoria het in November uitspraak voorbehou in die aansoek van die DA en die vakbond Solidariteit dat Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, se pensioenuitbetaling van R30,1 miljoen onwettig was en tersyde gestel moet word. Die DA en Solidariteit het die hooggeregshof genader en aangevoer aangesien Molefe slegs ʼn vaste vyfjaarkontrak met Eskom aangegaan het, is daar nie ʼn manier wat hy geregtig is op ʼn uitbetaling van Eskom se pensioenfonds nie.

Die DA en Solidariteit hou vol Molefe moet gelas word om die R11 miljoen wat hy reeds ontvang het as deel van die uitbetaling van R30,1 miljoen terug te betaal. Die uitspraak sal na verwagting in die nuwe jaar gelewer word.

Stephan Nel, Dicky Junior Van Rooyen, Marius Harding, Ockert Muller en Joshua Schultz in die Pretoria-Noord-landdroshof. (Foto: Maroela Media)

17. Die verhoor van die vyf mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die egpaar Jacob en Dudu Sono in Augustus vanjaar by die KFC-deurrybaan in Montana in noorde van Pretoria aangerand het, sal in 2018 begin. Marius Harding (23), Ockert Muller (20), Stephen Nel (39), Joshua Schultz (21) en Dicky Junior van Rooyen (21) staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ʼn vuurwapen. Die saak sal na verwagting op 21 Februarie 2018 in die streekshof hervat word.

18. Die saak teen ʼn baba-oppasser van Outjo in Namibië wat op beeldmateriaal vasgevang is waar sy ʼn nege maande oue baba hardhandig in haar bababed neergooi sal op 28 Mei 2018 hervat word. Nicolin Hoëses word van poging tot moord aangekla nadat ʼn video aan die lig gekom het waarin gesien kan word hoe Hoëses vir klein Laila Theron by haar ouerhuis in Outjo hardhandig in haar bababed neergegooi en weer aan haar enkel uit die bed optel. Dié beeldmateriaal is náa die voorval wyd op sosiale media versprei.

19. Die moordverhoor van Rameez Patel, die man wat aangekla word van die moord op sy vrou en ook verdink word van die moord op sy ma, sal op 22 Januarie 2018 in die Polokwane-hooggeregshof hervat word. Patel is op 30 September vanjaar in hegtenis geneem in verband met die moord op sy ma, Mahejeen Banu Patel (51), wat by haar huis in Polokwane vroeër in September geskiet is. Sy is later in die hospitaal dood.

Patel was toe uit op borgtog nadat hy vroeër in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy vrou, Fatima (28), wat op 10 April 2015 in die egpaar se huis in Nirvana gewurg en doodgeskiet is. Rameez ontken dat hy enige aandeel in sy vrou se moord gehad het en beweer sy is tydens ʼn huisbraak vermoor.

Rameez se pa, Feroz Patel (54), is ook in Augustus 2016 in die Ladine-nywerheidsgebied in Polokwane in sy motor doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lukie Carelsen ·

As almal tog net gelyk was voor ons howe!

As alle regters net bekwaam was en op meriete aangestel was!

Is die doodskis-beskuldigdes en die KFC-beskuldigdes regverdig behandel?

Rassisme en duistere politiese agendas is aan die orde vd dag.

Totdat hierdie euwels nie uit ons howe verwyder word nie gaan wit mense nooit ‘n billike en regverdige verhoor kry nie.

LB S ·

DIT is die een waarvoor ons al so lank in spanning afwag… Diè ou is ‘n Advokaat en ek dink hy word met handskoentjies hanteer… Altans, ek HOOP hulle doen deeglike werk sodat hy nie ‘n “loophole” kan kry nie! So skuldig as more heeldag.

Pieter ·

So, al die gevalle op die lys is nuuswaardig? Ek dink Maroela skuld ons ‘n definisie van nuuswaardigheid. Of is jul maar net napraters van die ander media?

Tessa van Esch ·

Hi! Het nou net ‘hofsake on dop te hou 2018’ gelees, daar is een waarvan ek nie baie op maroela lees nie, maar weet dit gan opspraak maak is die krugersdorp moorde, dink dit is moeite werd om by te las!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.