Hou kerse byderhand tot Saterdag

André de Ruyter (Skermskoot uit perskonferensie)

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie gewaarsku dat beurtkrag waarskynlik tot die naweek gaan voortduur.

Volgens hom is daar ʼn nuwe uitdaging wat kop uitgesteek het waar sommige munisipaliteite nie hul kant gebring het in die inwerkingstelling van beurtkrag nie. “Tydens fase 2 was daar verskeie munisipaliteite wat nie volledig voldoen het aan hul verpligtinge wat beurtkrag betref nie. Dit het veroorsaak dat ons nie die verwagte 2 000 MW kon bespaar nie en ons moes die beurtkragfase aanpas.”

Monde Bala, Eskom se uitvoerende hoof van verspreiding het op sy beurt onthul dat slegs twee van die groot metro-munisipaliteite, naamlik Ethekwini (Durban) en Buffalo City (Oos-Londen), ten volle voldoen het aan die opdrag om die nodige beurtkrag toe te pas. Eskom is in gesprek met munisipaliteite en ander grootmaat kliënte om seker te maak dat beurtkrag wel toegepas word volgens die kragvoorsiener se regulatoriese vereistes. Bala het nie die name van die munisipaliteite of kliënte, wat nie aan beurtkragversoeke voldoen het, bekendgemaak nie.

Ander redes wat aangevoer word vir druk op die kragnetwerk sluit in herstelwerk wat voortduur by die Medupi-kragstasie (ná ʼn ontploffing in Augustus), ʼn brand by die Kendal-kragstasie in September en onderbrekings by ander eenhede wat die netwerk onder uitermatige druk geplaas het. Dieselvoorraad is aangevul by Gourikwa, maar ʼn landswye gebrek aan dieselvoorraad het ʼn negatiewe impak gehad op Ankerlig-kragstasie. Volgens De Ruyter duur dit ook minstens ses weke vanaf die dag wat diesel bestel word totdat dit afgelewer kan word.

Vooruitsig vir beurtkrag

Volgens hom sal verskeie eenhede egter deur die loop van die week aangeskakel word en indien alles vlot verloop is die verwagting dat beurtkrag fase 3 van Woensdagoggend om 05:00 sal geld tot Vrydagoggend om 05:00. Fase 2-beurtkrag sal na verwagting dan ingestel word tot Saterdagoggend om 05:00, en beurtkrag sal moontlik daarna opgehef word.

De Ruyter voeg by hy begryp dat beurtkrag ʼn groot ongerief is en die kragvoorsiener vra om verskoning vir enige negatiewe impak op ondernemings, bedrywe en veral matrikulante wat met hul eindeksamen besig is. “Ons vra verbruikers om ook hul rol te speel om die aanvraag te verminder deur byvoorbeeld geysers en swembadpompe af te skakel. Daar is talle stappe wat ons kan doen om die aanvraag behoorlik te bestuur.”

Herstelwerk by Medupi-eenheid 4

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het gewaarsku dat eenheid 4 by die Medupi-kragstasie, wat sowat 720 MW aan die netwerk verskaf, waarskynlik vir 18 tot 24 maande buite werking gaan wees ná die ontploffing in Augustus.

Oberholzer het gesê die ondersoek is byna afgehandel, maar die omvang van die skade is nog nie bepaal nie. Die ondersoek het wel onthul dat die ontploffing weens ʼn menslike fout plaasgevind het.

Volgens die kragvoorsiener se voorlopige ondersoek na die voorval het die ontploffing plaasgevind tydens die proses om waterstof met onderskeidelik koolstofdioksied en lug te verplaas ten einde ʼn eksterne lekkasie te vind. Dit blyk dat lug tydens die uitvoering van dié aktiwiteit in die kragopwekker ingebring is in ʼn stadium waar daar nog meer as 35% waterstof in die opwekker was. Volgens regulasies moet minder as 5% waterstof in die opwekker wees voor koolstofdioksied bygevoeg kan word. Dit het dus ʼn plofbare mengsel gevorm wat aan die brand geslaan en tot die ontploffing gelei het.

Ontploffing by Kendal

Oberholzer het gesê die brand by Kendal-kragstasie het ook ʼn verlies van 640 MW beteken op die kragnetwerk. Herstelwerk duur voort en die eenheid sal na verwagting in die middel van Desember weer aan die kragnetwerk gekoppel word.

Oor uitvoerende hoofde se afdankings

Oor versoeke deur onder andere metaalvakbond Numsa dat De Ruyter en Oberholzer die trekpas moet kry, het De Ruyter gesê dit is belangrik om in gedagte te hou dat Eskom se uitvoerende lede deur die raad aangestel word; die raad word op sy beurt deur die minister van openbare ondernemings aangestel en die minister word deur die president aangestel. “Ons het geen só gesprek gehad oor die moontlikheid van afdankings nie en ek is ook nie van voornemens om self te bedank nie,” het hy gesê. “Mens kan die jokkie op ʼn dooie perd vervang, maar dit gaan nie die situasie verander nie. Dit is in hierdie stadium belangriker om die kontinuïteit van bestuur te behou as om net weer in die strik te trap deur 11 verskillende hoofde te hê wat grootskaalse onstabiliteit in die organisasie veroorsaak het. Ons begryp die frustrasie dat ons nie ons teikens haal nie, maar die probleem gaan nie opgelos word om in hierdie stadium die perd of die jokkie te verander nie.”

Oor ʼn moontlike algehele ineenstorting van die netwerk

De Ruyter het in reaksie op ʼn vraag of ʼn algehele ineenstorting van die netwerk ʼn moontlikheid is, dit ontken. “Ons is nie op die randjie van ʼn algehele ineenstorting nie. Ons het die beste operateurs wat die stelsel baie goed en deeglik bestuur.”

Oberholzer het bygevoeg dit is baie gevaarlik om sulke gerugte te versprei.

Volg die volledige perskonferensie hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Blikke ·

Well said Mr de Ruyter…..vervang die jokkie op die dooie perd en sien waar kom julle!!! Ek ondersteun jou 100%

Racheltjie Debeer ·

Stem saam met jou. Al hoekom hulle van Mnr de Ruyter wil ontslae raak is omdat hy hulle skelmstreke en diefstal oopvlek in sy poging om die maatskappy te red.

BARNEY ·

Ons hoor net heeltyd verskonings, Mnr wonderlik het nie n verskil gemaak nie! Meskien moet n sterk peraoon met ondervinding in krag opwekking en verspreiding maar ingevoer word, en heraanstelling van al die kundige ingeneurs en ambagsmanne

Pieter ·

Vir ‘n boervrou is jou kermraar onvanpas. Barney het nooit gesê hy kan dit beter doen nie. Lees stadig. Vir ‘n boervrou behoort jy na ‘n paar slae te verstaan.

Trotse Boervrou ·

Ai, hoe lekker lag ek nou. Pietertjie, jy is skreeusnaaks!

Theresa ·

Ek haal my hoed af vir Andre de Ruyter en Jan Oberholzer. Sterkte aan die personeel van Eskom wat onder groot druk moet werk en wil werk.

Trotse Boervrou ·

Stem Theresa, hulle verdien medaljes. Dankbaar dat daar wel iemand was wat bereid was om die hierdie amper onmoontlike taak aan te pak. Ons is hul innig dankbaar. Ek haal my hoed af vir hierdie hele span.

Willempie ·

” Ons het die BESTE operateurs wat die STELSEL baie goed en deeglik bestuur ” HUH hello fase 4

Esme ·

Die Andre de Ruyter wat ek ken, staan nie terug vir uitdagings nie. Daar is soveel bydraende faktore en die Metro’s ondersteun nie Eskom nie – ek sien dit daagliks en ja, beurtkrag is ‘n groot uitdaging vir ons almal en ek glo dat Andre en Jan se huishoudings ook daardeur geraak word.

Dries ·

Suné ons sal graag TedBlom se reaksie op hierdie berig wil hoor asb.

DieKriek ·

Die weerlig het op 7 November my transformer raakgeslaan en niks wat ek doen laat Eskom reageer nie. Ek kom nou agter dat ek nie eintlik Eskom krag nodig het nie. Sodra ek n paar dinge in plek het, onder R20 000, dan gaan ek Eskom laat afsny. Ek woon alleen, so dis vir my makliker, maar jinne tog, genoeg is genóég!

Barend ·

Nou verstaan ek nie wat maak Tshwane met my 3 keer ‘n dag beurte nie. Is daar dan buurte wat nie gebeurt word nie?

My siening ·

Ek dink de ruyter kan net goed doen soos die onder hom bevoeg is!

Johan ·

Maklik om die probleem op te los vervang al die wittes en pas BEEEEEEE toe miskien n paar kubane ook invoer. Die gemors het nooit onder apartheid gebeur nie

Althes ·

Wie kan ñ Jan van Riebeeck prentjie ontwerp met woorde – I am not to blame anymore. #BlameZumaforlostwealth

KB ·

Daai alewige vingerwysing!
Begin by die kern vd probleem…los DIT op!
(En hou op om die skuld vir andere te wil gee. DIS jou taak!)

Petrus Albertus ·

Ek verstaan nie die klomp afduime op jou kommentaar nie Kleinboet. Ek is net so siek en sat van die alewige prekerige vermaning dat “ons almal saam in die ding is”, dat “beurtkrag ons almal se probleem is” – dit is nie. Gewone Suid-Afrikaners het nie die probleme by Eskom geskep nie – om die waarheid te sê, Eskom het vir gewone Suid-Afrikaners probleme geskep. De Ruyter sê Eskom sal hulle “deel van die aanspreeklikheid aanvaar” maar dan die publiek ook hulle deel doen. Hoe presies het Eskom nou al aanspreeklikheid aanvaar? Waar is die werklike nagevolge vir hierdie sinkende skip vir die skade wat dit die hele land berokken het en steeds berokken? In stede is Eskom werkers op ‘n sloerstaking oor oortyd – dieselfde ooropgeblaasde en oorbetaalde werkersmag wat twee ontploffings veroorsaak by kragstasies en sodoende die huidige beurtkrag help veroorsaak het. Hoe is dit om aanspreeklikheid te aanvaar?

MakersMark ·

Dalk moet de ridder en sy span maatjies hul kant begin bring en krag voorsien.

Fibreglass ·

Irvin Jim en sy Numsa meelopers was van die begin gekant teen die aanstelling van De Ruyter omdat hy wit is, nou doen Numsa weer ‘n oproep vir sy bedanking. Eskom is vol van Numsa lede en hulle wil de Ruyter uit hê, so wat is die maklikste manier om hom uit te kry? Verongeluk al sy pogings om Eskom reg te ruk. Grens dit aan sabotasie……..ek wonder…

Carel Johannes ·

Die huidige krag probleme in SA kan vierkantig voor die deur van die ANC, en nie De Ruyter gelê word. Die ANC het uit hulle pad gegaan om van die wat weet hoe te ontslaan en dan totaal onbekwame on-opgeleide kaders aan te stel, en ook die Guptas saam met Zuma vry hand te gee. Onderhoud en bestaande toekomstige beplanning is oorboord gegooi, Zuma wou die pap nog dikker aanmaak met die aankoop van ‘n Russiese kenrkrag kragsentrale. Opwekkings eenhede ontplof in die “nuwe” kragsentrales opgerig deur die ANC deur mense wat weet “HOE”??. SA is voorwaar baie nagy aan elektrisiteits en fiskale inploffing, wat donkerte vir baie inwoners vir baie lank gaan beteken.

Petrus Albertus ·

En steeds ontken De Ruyter dat Suid-Afrika voor ‘n algehele ineenstorting van die kragnetwerk staan? Hoe, as ons dit met ons eie oë kan sien! En om nog sout in die wonde te vryf word daar vir Jan Publiek vertel energie deskundiges wat hierdie uitsprake maak is “onverantwoordelik”. Dis nie onverantwoordelik om vir die publiek die waarheid te vertel nie! Dis onverantwoordelik om die publiek te belieg en dan vir dieselfde publiek te sê “ons is almal saam in die ding”. Ek is seker met hulle salarisse is beide Oberholzer en De Ruyter lekker van die netwerk af op volle sonkrag of kragopwekkers. Ek hoop De Ruyter het die ononderbroke kragvoorsiening by COP26 geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.