Hou misdadigers só uit jou huis

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die meeste Suid-Afrikaners leef in ʼn voortdurende toestand van spanning ongeag waar hulle hulself bevind. Met die hoë misdaadvlakke voel jou tuiste, werksplek en selfs vakansiebestemmings onveilig.

Een manier om gemoedsrus by die huis te hê, is om voldoende sekerheidstelsels te installeer, sê Charnel Hattingh, nasionale bemarkings-en-kommunikasiebestuurder by Fidelity ADT.

“Goeie huisveiligheid begin deur die kwesbare gebiede van jou eiendom te identifiseer,” sê sy. “Loop om jou eiendom en probeer dinge deur ʼn misdadiger se oë sien. Vra jouself die vrae af: Is my heining voldoende? Hoe maklik kan die hek ontspoor word? Is daar genoeg beligting in en om die huis? Moet ek ʼn beter slot installeer?”

Hattingh sê daar is ses algemene maniere waarop misdadigers toegang tot jou eiendom verkry. Dit is deur ʼn hek of ʼn deur se slot oop te dwing, vensters te breek en diefwering oop te dwing, oor mure te klim, elektriese omheinings te deaktiveer en by oop motorhuise wat aan die huis gekoppel is, in te kom.

“As ʼn mens na die algemene toegangsmetodes kyk, is dit duidelik dat goeie omheining belangrik is. Dus moet die omheining behoorlike lemmetjiesdraad bevat of jy moet ʼn elektriese omheining met peutersensors hê, asook goeie beligting, ʼn veilige outomatiese hek wat nie ontspoor of mee gepeuter kan word nie, asook ʼn interkomstelsel waarmee jy kan sien wie by die hek is.

“Swak omheining spreek boekdele – dit is ʼn aanduiding vir misdadigers dat dit waarskynlik maklik is om by jou huis in te kom,” sê Hattingh.

Daar is egter ander maniere om jouself ook te beveilig, sê sy.

  1. Hou klein honde in die huis, aangesien hulle jou vroegtydig kan verwittig oor iets wat verkeerd is.
  2. Installeer laserstraaltoestelle en sensors langs die buitemure, op die dak en in die plafon wat jou vroegtydig kan waarsku.
  3. Maak gebruik van ʼn gewapende reaksiediens en sorg dat jou sekerheidstelsels daaraan gekoppel is.
  4. Installeer sensorligte strategies rondom die huis, veral in slaapkamers.
  5. Installeer sterk deure en veiligheidshekke met slotte wat van goeie gehalte is.
  6. Aktiveer die laserstrale en alarm in ongebruikte dele van die huis.
  7. Moet nooit die hek ooplos as jy gaste verwag nie.
  8. Maak jou gordyne snags toe.
  9. Plaas paniekknoppies in vertrekke waar jy en jou familie gereeld is, soos die sitkamer en motorhuis.
  10. Leer jou bure ken en hou mekaar se eiendomme dop.
  11. Word deel van jou plaaslike misdaadbekampingsgroep op WhatsApp of Facebook.
  12. Ondersteun jou gemeenskapspolisiëringsforum en woon vergaderings by.
  13. Meld verdagte aktiwiteite of voertuie by jou sekerheidsmaatskappy of die SAPD aan.
  14. Meld alle misdaadvoorvalle aan, ongeag hoe onbenullig dit is. Dit help sekerheidsmaatskappye en polisie om tendense te identifiseer en strategieë toe te pas om misdaad te bekamp.

Hattingh sê dis kommerwekkend dat baie inwoners hulle nie daaraan steur om die huisveiligheid op te skerp nie. Inwoners glo dikwels “as hulle wil inkom, sal hulle, maak nie saak wat nie”.

“Dit is nie noodwendig waar nie,” sê sy. “Misdadigers sal waarskynlik nie ʼn huis met behoorlike veiligheid teiken nie; dit is eenvoudig te riskant as hulle net na ʼn makliker teiken kan beweeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Glo nie meer meeste het geld vir die helfte van daai lys nie.Groot hond en klein hond in huis grote se werk is om jou tyd te gee om mooi te korrel

JohanR

As jy die eienaar by jou EIE huis kan inbreek dan is dit lag lag vir die inbreker in die nag. As jy jou gaai afsukkel vir 30min. en kan net nie in jou eie huis inkom nie dan staan terug en maak hom nog veiliger. Daai klein venster in die badkamer, of die onderste toilet. Hulle stuur ‘n klein kind daardeur om een van die binne deure oop te maak, en siedaar daar staan ‘n paar lelikes by jou bed, met pangas, byle en messe!

Renier johannes

Hoekom moet ons betaal vir sekuriteit wat dien sie polisie ry taxi

Persheks Adri

As jy kan sit kameras op al jou ingangspunte soos ek ook plus als bo aan die lys. Glo my ek gaan jou verras nie andersom nie en wapen by jou ten alle tye

katerinadiekat

Wow dit klink maar na n duur storie. Diegene met heelwat geld kan hierdie dinge doen. Ons het diefwering, sekuriteitsdeure, 2 honde buite, een in die huis, n gaspistool, en die absolute wil om te oorleef. Baie huishoudelike goed kan ook as wapens gebruik word. Ek is snags gewoonlik altyd wakker want ek is n naguil. Ons weet wat gebeur wanneer mens in hulle hande val. Daar is nie n manier wat ek sal toelaat dat dit met my kind gebeur nie. Die eerste een wat sy kop deur n venster steek se kop word net daar afgekap. Ek visualuseer… Lees meer »