‘Hou net moed, dinge is aan’t verander in Pretoria’

solly-msimanga-03

Solly Msimanga, uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro tydens ‘n vorige mediakonferensie. Foto: Facebook.

Lang gras, gebarste waterpype, slaggate, elektrisiteit- en watertoevoeronderbrekings laat talle inwoners van die Jakarandastad vra hoe dit werklik deesdae in Pretoria gaan sedert die DA saam met die VF Plus, ACDP en Cope beheer van die hoofstad oorgeneem het.

Maroela Media het sedert Februarie verskeie klagtes van lesers ontvang oor die agterstand in onderhoudswerk in die noorde van Pretoria en die weste van Centurion. Gaan loer ʼn mens op die Tshwane-metro se amptelike Facebook-blad kan ʼn mens ook inwoners se frustrasie met onderhoudskwessies regoor die sewe streke van die metro sien.

Tog is alle partye wat nou betrokke is by die beheer van die stad positief dat die regte dinge besig is om te gebeur en hou hulle vol daar is reeds tekens van die verandering wat die DA saam met sy vennote in die administrasie na Pretoria bring. Hulle is dit ook eens dat die metro tans besig is om ʼn opdraande stryd te veg om dekades van die vorige raad se misbruik en verwaarlosing om te swaai.

Solly Msimanga, uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro, het nadat hy uiteindelik sy eerste stadsrede verlede Donderdag kon lewer, net soos met sy inhuldigingstoespraak, benadruk dat Rome nie in ʼn dag gebou is nie. Hy het aangevoer Rome is ook nie in ʼn 100 dae gebou nie en die Tshwane-metro gaan ook nie in soveel dae herbou word nie, maar soos met Rome sal die nuwe raad daarby uitkom met harde werk en die beste moontlike span.

Baie inwoners wonder egter hoe lank hulle sal moet wag voordat hulle die stabilisering en vernuwing in die hoofstad gaan sien en beter dienslewering sal ervaar, wat deurentyd aan hulle beloof word.

Adv. Werner Zybrands, ʼn kenner van munisipale wetgewing en administrasie, meen dit kan maklik tot drie jaar neem voordat inwoners werklike strukturele verandering gaan kan sien.

“Boonop is die soort verandering wat moet plaasvind – iets soos die instandhouding en uitbreiding van die watertoevoer- en elektrisiteitsnetwerk of die ontwikkeling van ʼn nuwe stortingsterrein – iets wat minstens vyf tot sewe jaar sal neem. Inwoners sien nie gewoonlik die werk wat gedoen moet word om hierdie soort dienste te verskaf nie want dit hardloop letterlik onder die grond. Tog stem die publiek dikwels vir kosmetiese verandering – die snoei van bome of die sny van lang gras op die sypaadjie. Dit is maklike skoonmaakoperasies maar die grondverskuiwende goed gaan noodwendig tyd vat.

“Inwoners moet onthou die Tshwane-metroraad is nie ʼn klein motorbootjie op die Hartbeespoortdam wat omgeswaai moet word nie, dit is eerder ʼn reusevragskip wat in die Suez-kanaal moet omdraai.”

pretoria-jakaranda-stad-sa-tourism-flickr-com

Pretoria. Foto: SA Toerisme/Flickr.com

Volgens Zybrands het so ʼn nuwe raad met verskeie beperkings te doen wat dienslewering en verandering vir maande, in sommige gevalle jare, kan uitstel.

“Toe die verkiesing op 3 Augustus 2016 gehou is, is die munisipale begroting vir die finansiële jaar tot 30 Junie 2017 reeds deur die ANC-raad opgestel. Die nuwe raad het die begroting en alles wat daarmee gepaard gaan net so ontvang. Die eerste keer waar die nuwe metroraad fokusverskuiwings of klein aanpassings kon maak was met die aanpassingsbegroting in Februarie en Maart. Die geïntegreerde ontwikkelingsprogram (GOP) is die eerste werklike plek waar die nuwe raad direk sy eie begrotingsinisiatiewe kon bepaal. Die GOP sal saam met die nuwe begroting eers op 1 Julie vanjaar inwerking tree,” verduidelik hy.

Die nuwe raad erf ook die hele personeelkorps van die metro net soos wat dit was, wat ook ʼn remmende effek op die nuwe metroraad se planne vir die stad het. “Kom ons wees nou maar eerlik, daar het met die vorige bedeling vreeslike baie kaderontplooiing, patronaatskap en familie-begunstiging plaasgevind. Arbeidswetgewing bemoeilik dit om bestaande personeel summier af te dank. Die topbestuur is op kontrakte aangestel en daardie kontrakte moet uitloop of uitbetaal word.

“Daar was honderde politieke aanstellings in die kantore van die burgemeester en speaker wat groot salarisse verdien het om te sit en duime draai. ʼn Mens kan verwag dat mense in hierdie aanstellings sal poog om die nuwe bedeling polities te saboteer.”

Volgens Zybrands het die raad oor die beleid van die vorige raad geërf, asook al die bestaande kontrakteurs en operateurs. “Nuwe beleid kan nie ingestel word tensy die nodige prosesse en prosedures gevolg word nie. Kontrakteurs en operateurs kan maklik skadevergoeding eis of hulle op kontrakbreuk beroep as die metroraad nie kan bewys daar was bedrog of wanprestasie nie. Waar daar aansienlike bedrae ter sprake is, kan ʼn mens maar net verwag dit gaan baie tyd, regstappe en prosedures neem om alles reg te stel.”

Hy meen ook die spelreëls het heeltemal verander vir raadslede wat hulle nou in die regeringstoel bevind. “Nie net moet hulle skielik verhoudinge bou met personeel en diensverskaffers nie, maar jy moet ook kundigheid in ʼn baie kort tyd verwerf – dit kan ʼn mynveld vir die nuwe politieke leierskap wees.”

pretoria-panorama

‘n Panorama uitsig van Klapperkop na die SABS-kantore, die koshuise van Tuks se Groenkloofkampus, die Lukasrandtoring en die middestad van Pretoria. Foto: Commons.wikimedia.org

Zybrands reken dit is ʼn geval van ʼn metroraad wat een ding moet doen terwyl hy nie nalaat om die ander ook nie te doen nie. “ʼn Munisipaliteit of metro se raad moet ongelukkig fokus op grootmaatdienste (bulk services). Dit is maklik vir ʼn raad om te probeer om gewild te wees en dan ʼn paar luukshede vir inwoners te bou. Hulle sal vinnig ʼn sportveld bou, paaie laat teer en swembaddens bou maar ʼn vergeet om die watertoevoer te ontwikkel wat die swembad moet vol hou. Dit is natuurlik lekker om te sien alles lyk mooi in jou stad of dorp, maar wat van water, elektrisiteit en vullisverwydering – dit is dikwels ʼn kwessie van hoe ver ʼn raad sy rand kan rek om die grootste hoeveelheid kwessies te takel.

“My ervaring is dat die meeste politici ʼn kort tydhorison het wat strek van een verkiesing na die volgende. Hulle doen gewoonlik net wat gedoen moet word om die kiesers sover te kry om hulle weer in te stem terwyl die kwessies van ʼn munisipaliteit langertermyn oplossings verg.”

Op die vraag of hy dink die nuwe multiparty-bestuur in die hoofstad is op die regte pad, antwoord hy: “As ek na die burgemeester se planne luister klink dit vir my of hulle fokus op die regte plekke is. Inwoners moet onthou die DA durf nie nou kortpaaie vat nie – hulle roem hulself daarop dat hulle deursigtig is en die regte ding wil doen – hulle kan nie anders as om nou die regte prosesse en prosedures te volg in ʼn poging op die stad reg te ruk nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Pim09 ·

Mense moet net onthou dat daar vir jare geen ordentlike onderhoud gedoen is nie. Alles gaan nie binne ‘n paar maande regkom nie. Daar is nie geld nie want die vorige mislukkepaliteit het dit gemors. Dit gaan jare vat om alles wat gebreek is reg te maak.

Jaco ·

Na die DA oorname van Kaapstad het dit ook n paar jaar geduur voordat n mens verandering kon sien, maar toe dit eers begin verander het, toe raak die voortuitgang progressief, daar is eers n magdom agterstallige skuld wat moet terug betaal onder andere. Toe ek einde laasjaar in Kaapstad gekuier het, het dit nes die Europese stede gevoel, so skoon en alles wat werk, ligjare van die Kaapstad van 10 jaar terug! Byt net vas Pretoria! :-)

tamboti ·

Ja die mense moet ook onthou dat dit die NSA al 2o jaar geneem het om al die verval en verwaarlosing te skep.

Blits ·

Ja PTA hou moed dinge gaan beter raak, onthou net dat die geld heavy gemors en gesteel is en baie skade is aangerig, wie kan vergeet van die R60 000.00 se wegneem etes van die anc se een dame, PTA was altyd vir my die mooiste stad in SA maar ek glo dat dit weer terug sal gaan en dit weer n spog stad sal wees. gee die DA n kans hulle is op die ball met bestuur.

Adrian ·

Pretorianers het iets om na uit te sien na die nuwe raad, ons hier aan die Oosrand ekruheleni munisipaliteit doen niks als verval wys my stad onder die munisipaliteit wat werk dis mos die lang vinger ANC in beheer met n arrogante rassistiese burgemeester in beheer tyd vir my om my wortels hier uit te trel na 34jaar en te skuif na n gebalanseerde en doelgerigte munisipaliteit

Pretorianer ·

Wat dink mens as jy al November probeer het om ‘n gebreekte asblik te laat vervang en al 5 keer probeer opvolg het? Geen antwoord of mens word van bakboord na stuurboord gestuur, sonder resultate, so lyk my dit is maar steeds dieselfde nuttelose amptenare ongeag watter party aan bewind is.

HBK ·

Vreemd, myne binne ‘n dag gekry. Lê die drywer voor, vul die papier in en dan bring hulle redelik vinnig ene.

RC ·

Wat mense moet ingedagte hou is dat al die geraamtes ook eers uit die kaste gehaal word en ook moet prestasie bestuur in elke departement in plek gesit word. Staff moet ook bewyse bring van al hulle kwalifikasies. ‘n behoorlike staff oudit word gedoen. Dan begin alle departemente kyk na diens lewering en die bestuurders word verantwoordelik gehou vir hulle departement se prestasie. Hierdie bestuurders het gewoonlik kontrakte wat gebaseer is op hulle departemente se prestasies.Dit gebeur nie in ‘n paar maande nie.
Dit is presies wat in Kaapstad gebeur het, dit het nie sommer net ‘n paar maande geneem nie. Wees geduldig, die publiek sal ‘n verskil sien mettertyd.

Hendrik ·

Die groot skuld vir alles is… “affirmative action” en kader ontplooing.

HBK ·

Of die nuwe bestuur dit omdraai of nie, is slegs deel van die prentjie. Die absolute misbruik van paaie, water, elektrisiteit en meer behoort aan die inwoners van die groter Pretoria. Ja, hulle moet al die ding polisieer en instandhou, daarmee stem ek saam. Die vraag wat my kwel is wanneer gaan elke burger verantwoordelikheid begin aanvaar en ons infrastruktuur en hulpbronne eerlik en verantwoordelik begin gebruik. Kyk maar na die misbruik van die busbane.

Tyd loop uit ·

Die betrokke partye het net n termyn van hoeveel jaar om dinge te laat verander, soos ek dit sien loop die tyd vinniger verby as wat hulle dit regkry om progresief veranderings te maak, en dan stem hulle weer die DA uit. So in kort wil ek vir die DA se vergeet van alle korrupsie sake, administratiewe probleme en probeer die dienslewering op die huidige sisteem voort te sit. Dienslewering het niks uit te waai met die verlede administrasie nie, die probleem is om die werkers wat by die stadsraad werk aan die werk te kry.

AL ·

Ek stem dat Pretorianers net moed moet hou. Ek sidder om te dink as die DA nie betyds aan bewind gekom het nie.

marous ·

Ten minste is daar ‘n silwer randjie vir PTA . Limpopo kan jy nie eers die donderwolk sien nie so nag is dit ….

Anoniem ·

Ek bly in die noorde van Pretoria. Ek hou daarvan dat ek deesdae kragonderbrekings per sms kan aanmeld. Kragonderbrekings het verkort na slegs 3 ure op ‘n keer. Die laaste onderbreking was slegs 1 uur lank. Ek sien uit na die tyd wanneer daar geen kragonderbrekings meer sal wees nie.

Tannie ·

‘n Voorstel om ontslae te raak van al die kaders/familie/maikies wat aangestel is om te sit en duime rol: vergelyk hul kwalifikasies met die minimum kwalifikasies/vereistes van hul pos. Ek raai daar is heelwat wat nie oor die minimum voldoen nie, en wat dan op grond daarvan afgedank kan word.

Is daar iemand wat kennis het van arbeidsreg, wat asb kan sê of dit sal werk of nie?

JR ·

Ek woon in Pta Noord. Daar was meer waterlekke as stopstrate. Kan hulle nou op een hand tel. Daar is verbetering. Onthou ons moet 23 jaar se kultuur omswaai….

marita ·

Hier is beslis n verbetering in dienste. al wat mens moet doen is om die DA lid in die wyk waar jy bly te kontak met jou klagte en wees verseker binne 24 ure word daar iets aangedoen. Google die DA wyk lid se kontak besonderhede en kyk hoe word aandag aan die klagte gegee om die munispaliteite se nommer te bel werk nie hul vee hul dood eenvoudig af aan jou en gee jou n verwysing no wat boggerall beteken maar vat daai verwysing no en gee dit vir die DA wyklid en glo my dit word aangespreek. so ja hou moed die munisipale huis moet eers skoongemaak word voordat alles in plek kom. daar moet verskuiwongs kom en ou meubels moet met nuwes vervang word dan werk alles reg.

Michael ·

Die diens is definitief beter maar daar moet onthou word die anc en Ramokgopa het die stad se vooruitgang gestrem met hulle onbevoegdheid en dit gaan tyd neem die stad weer vooruit te laat gaan

Zirk ·

Ek stem saam met Tannie.Daar moet met arbeidsreg maniere en metodes wees om met lui, onbevoegde, arrogante en politiek besmette kaders ontslae te raak. Dit vat net EEN brommer om ‘n hele karkas te besoedel.
Onthou, hierdie kultuur van toeeiening en onproduktiwiteit is oor ‘n tydperk van 22 jaar goed gevestig. Dit gaan lank duur om hierdie logge vragskip om te draai. Dit sal die koalisie bestuur loon om kers te gaan opsteek by Kaapstad. STERKTE en hou moed Pretoria.!

E.K. - ek sê net! ·

BAIE goed om meestal positiewe kommentaar te lees van mense wat dink voor hul skryf. Dis onmoontlik om jare se gemors in ‘n klein rukkie reg te kry. Hulle kan ook nie net “vergeet” van al die korrupsie en dinge wat eers in die finansiële departement ens reggestel moet word nie, so dis wonderlik om te hoor dat mense wel verbeterings ervaar en ook positief voel. Maak nie saak watter party by ANC sou oorneem, hulle sou net so lank neem om dinge te probeer laat vlot.

MANIE ·

As die belasting hier so gaan verhoog soos in Kaapstad wag hier n groot skok vir die klein gedeeelte wat belasting betaal in Pretoria. Vra my ek het eiendom daar en kan nie by hou met die verhoogde belastings. Die Da rook die gedeelte van inwoners wat hy voel hy kan uitbuit met massiewe belasting verhogings. Die selfde gebeur in Pretoria waar my waardasie op my huis verhoog is met 57%.

Matty ·

Ek bly in Waverley en het amper gedink ek is in die verkeerde land toe n trekker die gras op n Sondag in die park oorkant ons huis begin sny… verder kan ons klein dingetjies dien verander. Hou moed en bou voort!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.