‘Hou op met antibiotika vir verkoue’

Argieffoto

Argieffoto

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het ʼn beroep gedoen op mense om op te hou om antibiotika vir verkoues te gebruik.

Margaret Chan, direkteur-generaal van die WGO, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Genève gesê weerstand teen antibiotika bereik gevaarlik hoë vlakke in alle dele van die wêreld. Die WGO het sy eerste antibiotika-bewustheidsweek van stapel gestuur en terselfdertyd die resultate van ʼn peiling bekend gestel wat in 12 lande onder 10 000 mense gedoen is.

Volgens die peiling glo meer as tweederdes van mense steeds dat antibiotika help vir verkoues en griep, al werk dit net vir bakteriële infeksies. Nagenoeg 7 600 van die respondente glo verkeerdelik dat mense weerstandig geraak het teen antibiotika, in plaas van dat die bakterieë egter weerstandig geraak het teen die middel.

Keiji Fukuda, spesiale verteenwoordiger van die direkteur-generaal vir Antimikrobiese Weerstand by die WGO, het gesê weerstandigheid is ʼn natuurlike proses, maar die misbruik van antibiotika bespoedig dit. Hy het gesê die gebruik van antibiotika om groei te bevorder onder diere en om virale infeksies in mense “te behandel” verhoog weerstand.

“Die toename in weerstand teen antibiotika is ’n internasionale gesondheidskrisis, en regerings erken dit nou as een van die grootste uitdagings vir openbare gesondheid. Dit bereik gevaarlik hoë vlakke in alle dele van die wêreld,” het Chan gesê. “Weerstand teen antibiotika bring ons vermoë om aansteeklike siektes te behandel in die gedrang en ondermyn die vooruitgang in medisyne.”

Fukuda het ʼn beroep op mense gedoen om hul dokters te vra of antibiotika regtig nodig is wanneer dit voorgeskryf word.

“Die wêreld is op pad na ’n post-antibiotiese era met huidige infeksies wat kan doodmaak. As die tendens voortduur, sal gewrigsvervanging, chemoterapie of intensiewe sorg vir vroeggebore babas nie moontlik wees nie. Dit sal die einde beteken van moderne medisyne soos ons dit ken,” het Chan afgesluit.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

carel smit ·

Vitamiene is die enigste medisyne vir griep,ons het dit al agter gekom

MM ·

Mense moet ophou om Antibiotika te gebruik ons kry dit nie oor die toonbank nie.!
Die Dr skryf te voor!

Paul ·

As die dokter vir jou antibiotika voorskryf vir een of ander klein kwaal, vra hom of haar om presies te verduidelik hoekom. As dit ‘n virale siekte is, help die antibiotika net mooi niks.
As dit nie ernstig is nie, is daar ook geen rede om antibiotika as ‘n “voorkoming” voor te skryf vir “ingeval jy dalk ‘n sekondêre bakteriële infeksie kry” nie.

Ek het al so by dokters gesien hoe hap hulle lug as hulle moet verduidelik hoekom hulle antibiotika voorskryf vir siektes waarvoor dit niks help nie.
Deels is die rede omdat meeste pasiënte wil voel dat die dokter vir hulle “sterk medisyne” gee en nie tevrede is met die goeie raad: “Neem ‘n pynstiller, vat dit rustig en wag ‘n week tot jou liggaam self die virus beveg.” nie.
Ook omdat dokters by spreekkamers wat self medisyne verkoop, graag die duur medisyne aan jou wil verkoop.

Nie net veroorsaak die onnodige voorskryf van antibiotika dat weerstandige bakteriëe al meer vatplek kry nie, maar ook jaag dit die premies van mediese fondse op weens onnodige koste.

Ania ·

Moenie met die mense raas nie, raas met die dokters! Ek het al 4 keer NIE antibiotika gegee nadat dit voorgeskryf is en my kind is nou eers 3! Elke keer het my kind gesond geword. Maar dis baie stresvol, want jy gaan teen die dokter te raad in en staan eintlik alleen.

Marisa ·

My dokter sê altyd dit vat twee weke sonder medikasie om te herstel van griep of 14 dae met medikasie!!

MM ·

Drink ‘n pers smartie of ‘n DrWilliam se pienk pil dit behoort te werk.

Anna ·

Bly om te sien ek het my seuntjie (20 maande) by die regte dokter. Hy gee ‘n aparte voorskrif vir antibiotika maar sê “Wag eers met dit en gee die liggaam kans om self te herstel, beheer net pyn en koors”. Bly om te erken, ek het nooit daai voorskrif gebruik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.